Boere maak saak, want boere dra by!

Gepubliseer: 16 April 2020 Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA en foto’s deur Karina Muller en Lizel Snyman, SA Graan/Grain-medewerkers

1960

Intense druk op die graanbedryf en die Suid-Afrikaanse landbou in geheel is oor die afgelope paar jaar ervaar. 2019 veral was so onwrikbaar soos harde grond. Vir ontwikkelende en kommersiële produsente begin die groei op grondvlak, dus was oplossings om die fisiese impak van ’n veranderende produksie-omgewing teen te werk, nodig.

Die winsgewendheid van die sektor het onder geweldige spanning verkeer en produsente moes hul eie praktyke deeglik bekyk – waar veranderinge nodig was, waar dinge verbeter kon word en hoe hulle kon aanpas. Die snel veranderende omgewingstoestande het van produsente vereis om anders te doen en te dink. Dit was hul aanpasbaarheid en innovasie wat hulle deur hierdie moeilike tye gehelp het.

Een van die hoogtepunte van die onlangse Graan SA Kongres was die boodskap wat deur hoofregter Mogoeng Mogoeng oorgedra is. Kongresgangers het na afloop van sy toespraak hul waardering vir sy inspirerende woorde uitgespreek.

Tydens die jaarlikse Kongres op 4 en 5 Maart 2020 het Graan SA-lede, produsente, regeringsamptenare, rolspelers, akademici, vennote en belanghebbendes op NAMPO Park byeengekom om dié jaar se tema, “Boere dra by/Farmers contribute”, te bespreek. Hierdie tema het onder meer klem gelê op die waardevolle bydraes wat boere op soveel vlakke van die samelewing lewer. Boere dra daartoe by om kinders te voed, die ekonomie te laat groei, die planeet te help onderhou en voedsel aan die gemeenskap te voorsien.

Tydens die leierskapverkiesing is Derek Mathews verkies as die nuwe Graan SA-voorsitter. Hier is hy in die geselskap van hoofregter Mogoeng Mogoeng.

Die agenda het onder meer gefokus op “Die impak van die politieke en beleidsomgewing op landbou”, gelei deur hoofregter Mogoeng Mogoeng asook “Graanekonomie: ’n Nuwe benadering”, aangebied deur dr Ferdi Meyer van BFAP (Buro vir Voedsel- en Landboubeleid). Kongresgangers se interaktiewe deelname is aangemoedig om sodoende besprekingsgeleenthede te bevorder. Elektroniese stemtoestelle het konstruktiewe terugvoer na elke sessie moontlik gemaak en die geleentheid geskep om belangrike insette en opinies van lede in te win.

Richard Krige, nuutverkose Graan SA-visevoorsitter, het die Kongres verseker dat hy daar is omdat hy ’n bydrae tot die graanbedryf wil maak.

Tydens die leierskapverkiesing is Derek Mathews verkies as die nuwe Graan SA-voorsitter, Richard Krige as nuwe visevoorsitter en Ramodisa Monaisa is herverkies as die tweede visevoorsitter. Dié nuwe span is gereed vir die uitdagings wat voorlê. Dit sluit in om die Suid-Afrikaanse graanprodusent se volhoubaarheid in ’n veranderende landbou-omgewing en te midde van moeilike ekonomiese omstandighede te help verseker.

Kongresgangers het geleentheid gehad om hulle sê te sê en interaktiewe deelname is aangemoedig om besprekingsgeleenthede te bevorder. Jurianne Schreuder (Streek 26) is hier aan die woord.

In die oudiovisuele voorsittersverslag het Jaco Minnaar (uittredende voorsitter, Graan SA) en Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA) die hoogtepunte en uitdagings van die 2019-jaar bespreek. Die weer en graanpryse het omtrent die hoofopskrifte gehaal. Na ’n goeie begin tot die seisoen in die suide van die land het dinge vinnig skeefgeloop met die koms van die droogte en slegte opbrengste, wat moeilike omstandighede vir die produsente teweeg gebring het. In die noorde was die reëns laat, en lae graanpryse het wêreldwyd geheers, wat die hele sektor onder druk geplaas het.

Elektroniese stemtoestelle het die verkiesing van die voorsitter en visevoorsitters vergemaklik. Die toestelle is ook gebruik om belangrike insette en opinies van lede in te win.

Aanpasbaarheid
Produsente is genoodsaak om selfondersoek te doen en moes hul boerderybedrywighede onder die vergrootglas plaas om te bepaal waar verandering nodig, aanpassing noodsaaklik en verbetering ’n stap in die regte rigting was. Deur die afgelope droë jare en in die unieke Suid-Afrikaanse klimaatstoestande wat so vinnig verander, was dit slegs aanpasbaarheid en innovasie wat produsente gered het.

Elektroniese stemtoestelle het die verkiesing van die voorsitter en visevoorsitters vergemaklik. Die toestelle is ook gebruik om belangrike insette en opinies van lede in te win.
Jannie de Villiers het die 283 afgevaardigdes bedank vir hul teenwoordigheid by die Kongres.

Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadprodusente het hul staal beslis keer op keer gewys deur struikelblokke te oorkom, te plant, te produseer, te voorsien en werklik ’n bydrae te lewer. Ongelukkig bly die onvoorspelbare politiek ’n moeilike veld om te navigeer. Die politieke onsekerheid, die beskikbaarheid van finansiering en vrae rondom investering het produsente in die toekoms van landbou laat twyfel. Graan SA het in die tyd uitgereik met die doel om te help oplossings soek vir die land. Een hiervan is die ideaal om alle produsente te integreer.

Die landbou-ontwikkelingsprogram het tot dusver wondere verrig om boere te help om hul onderskeie potensiale te bereik – hetsy dit ’n kommersiële opbrengs op ’n lappie grond is of die strewe om ’n kommersiële produsent te word. Uit dié sukses het hulp met finansiering gespruit en Graan SA het die besluit geneem om beleggings na die tafel te bring. Saam met die Landbou-ontwikkelingsagentskap (AGDA) beywer Graan SA hom vir finansiering vir ontwikkelende boere. Vennootskappe tussen die regering en die privaat sektor kan die land se ekonomie laat groei.

In sy voorsittersverslag het die uittredende voorsitter, Jaco Minnaar, die hoogtepunte en uitdagings van die 2019-jaar bespreek.
Jackie en Andries van der Poll (2019 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar) en Preline Swart (Graan SA-verteenwoordiger: Landbou-ontwikkeling).

Navorsing
Vir ontwikkelende en kommersiële produsente begin groei op grondvlak – hulle benodig oplossings om die fisiese impak van ’n veranderende produksie-omgewing teen te werk. Juis daarom bly navorsing ’n kerndeel van Graan SA se funksie. Baie menslike kapasiteit is saam met die Departement van Wetenskap en Innovasie in die organisering van navorsing belê. Konsortiums is gestig om produsente se probleme te takel en inligtingstegnologie het vinnige interaksie tussen produsente en navorsingspanne moontlik gemaak. Dit het die weg gebaan om aandag aan nuwe en verskerpte bedreigings reg deur die graan- en oliesaadwaardekettings te gee. Biosekuriteit is veral ’n belangrike aspek wat oor die algemeen verbeter moet word.

Motorfietsrenjaer Joey Evans (skrywer van From Para to Dakar) het afgevaardigdes op sy unieke manier met ’n lag en ’n traan gemotiveer om hul drome na te jaag. Hier is hy by die motorfiets waarmee hy in 2017 die Parys-Dakar-tydren na vele fisiese en emosionele terugslae voltooi het.

Breër visie
Graan SA se breër visie in 2019 het ook direkte geldelike voordele vir wintergraanprodusente tot gevolg gehad. Die eerste fase van die koringbedryf se omdraaistrategie is afgesluit met veranderings in die graderingstelsel. Alhoewel produsente ’n swak oes gehad het, was Graan SA dankbaar vir die uitslag en vol vertroue dat produsente in die nuwe seisoen, met ’n goeie oes, finansieel by die veranderinge sal baat vind.

Behalwe vir jarelange onderhandelinge oor gradering wat gelei het tot ’n betaalbare premie vir topgehaltekoring, is die onmiddellike krisis wat garsprodusente in die gesig gestaar het, ook aangepak. Nadat reën die kwaliteit van die garsoes beïnvloed het, het samesprekings met AB InBev verseker dat ’n groter persentasie van die oes in die moutgars-kategorie gelewer kon word.

Jannie de Villiers en dr Konrad Keyser, besturende direkteur van Brisen Commodities.

Ter ondersteuning van produsente se strewe na volhoubaarheid, het Graan SA ’n unieke spaarplan eksklusief aan sy lede bekendgestel. Lede kry voorkeurtariewe, met die opsie om surplusgeld te belê, teen goeie koerse daarteen te leen en terselfdertyd belasting te bespaar. Dit is alles hulpmiddels wat produsente kan help om volhoubaar te produseer.

Deon Groenewald, Andries Groesbeeck en Dawid Groesbeeck het Streek 9 by die Kongres verteenwoordig.

Volhoubare organisasie
Met betrekking tot die volhoubaarheid van Graan SA as organisasie, het uitstekende finansiële bestuur ’n positiewe balans in moeilike tye verseker. Deur visioenêre leierskap was die kommersiële aktiwiteite van Graan SA en veral die NAMPO Oesdag nie net in 2019 baie suksesvol nie, maar die handelsmerk sal in 2020 met die bekendstelling van die NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo sy vlerke sprei. Terselfdertyd het die SA Graan/Grain-tydskrif goed gevaar ondanks moeilike ekonomiese toestande.

2019 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar, Tonie Linde (heel regs) saam met PJ de Kock (heel links), Wilco Fick, Hume Schönfeldt, PJ Neethling, Niekie van Niekerk, Hennie le Roux en Jose de Kock (nuwe hoofbestuurslid vir Streek 27).

Graan SA is een van die mees relevante georganiseerde landboustrukture. Vir die organisasie om hierdie positiewe neiging voort te sit, sal 2020 ’n mate van herstrukturering noodsaak, met die doel om doeltreffendheid te verbeter om sodoende ’n beter diens aan produsente te lewer.

Patrick Stuurman en Ramoso Pholo saam met Ramodisa Monaisa, wat herverkies is as Graan SA se tweede visevoorsitter.

Die pad vorentoe
Vooruitsigte vir die bedryf is positief, met die nuwe seisoen wat beslis belofte inhou. Verlede jaar was daar reeds ’n toename in die verbruik van mielies en sojabone – ’n neiging wat gaan voortduur, veral met die groei van die pluimveebedryf. Landboutoestande is tans gunstiger as verlede jaar, wat ’n mate van optimisme by alle produsente meebring – baie probleme word mos deur reën opgelos.

Tienie Prinsloo, Riaan Taljaard, Herman Meiring, Jacques van Zyl, Attie de Necker en Tiaan Olivier geniet ’n ruskansie met teetyd.

Graan SA, positief rakende sy verhouding met die regering, speel ’n beduidende rol in die groter fokus op die graanbedryf se toekomsvisie. Nieteenstaande die uitwaartse fokusse, bly dit belangrik om landbouleiers te kies en te ondersteun wat die saak van die graanprodusent en die landbousektor kan uitbrei, aangesien die sukses afhang van die tyd en moeite wat elkeen betrokke self investeer.

Gloria Ramatiisa en Rinette Erasmus van Bothaville het kom handjie bysit om seker te maak kongresgangers geniet ’n heerlike koppie koffie.

In sy sluitingsrede het Jaco Minnaar gesê: “Ons is ’n produsente-organisasie, ons luister na ons lede en reageer op hul behoeftes. Deur gesprekke, beïnvloeding, samewerking, vennootskappe en deur te deel, bepaal ons ons eie toekoms. Ons neem leierskap in die landbou baie ernstig op en wys die weg vir ander. Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons glo sterk dat ons die toekoms kan help bou.”

Graan SA-personeel het hard agter die skerms gewerk om ’n suksesvolle Kongres te verseker. Die dames het ‘n tydjie afgeknyp vir die foto.

Na ’n dinamiese vierjaartermyn groet Graan SA ’n besondere leier wie se sagte benadering en rigtinggewende visie nog vir baie jare geëer sal word.

Willie Marais (hoofbestuurslid, Graan SA), Erasmus van Schalkwyk (Hennenman), Garnet Leonard (Kroonstad) en Danie Minnaar (hoofbestuurslid, Graan SA) gesels oor die dag se insigte.
Manana Bosiu, Ngele Mokone en Palesa Chaka was deel van die span wat gesorg het vir die heerlike etes tydens die Kongres.
Personeel van Graan SA: dr Miekie Human, Stefan Links en Ikageng Maluleke.
2019 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-finalis, Bernard Rabe, hier saam met John Bibbey en Pieter Smit van Bayer.
Altesaam 283 afgevaardigdes asook verskeie regeringsamptenare, bedryfsrolspelers, akademici, vennote en belanghebbendes het vanjaar se Graan SA Kongres bygewoon.