Kan stikstofbemesting op mielies besnoei word?

Gepubliseer: 3 September 2026

47
Dr André Nel,
onafhanklike
akkerboukundige

Dr Danie Beukes,
onafhanklike
grondkundige

As wêreldgebeure die prys van ’n uiters be-langrike inset soos stikstof­kunsmis ver­hoog, word die vraag onwillekeurig ge­vra of die toedieningspeil daarvan op mielies nie verlaag kan word sonder om die graan­op­brengs te benadeel nie. Die antwoord is dat stikstofbemesting wel verlaag kan word, maar daar is ’n voorwaarde. Stikstofbemesting kan slegs verminder word op mielies wat na ’n peulgewas op ’n bepaalde land verbou word.

Suid-Afrika se belangrikste peulgewas is tans sojabone, met ’n oppervlakte van 1,2 miljoen ha wat geskat word vir die 2025/2026-seisoen. Dit maak die potensiële besparing aan stikstofkunsmis aansienlik, veral as daar aangeneem word dat die besparing tans nie wyd benut word nie.

Die stikstofverplasingswaarde van sojabone
Volgens Fertasa se Bemestingshandleiding (2016) kan die stikstofpeil van mielies ná sojabone van 30 tot 60 kg/ha besnoei word. Dit staan bekend as die stikstofverplasings­waarde. In plaas daarvan om 149 kg stikstof/ha vir ’n opbrengsmikpunt van 6 ton mielies/ha toe te dien (Fertasa se aanbeveling vir sandgrond), hoef dus slegs tussen 89 en 119 kg stikstof/ha toegedien te word.

Die implikasie hiervan, veral in die Noordwes-Vry­staat, is dat die stikstof wat tydens die rip-aksie tot drie maande voor planttyd toegedien word, baie verminder of selfs uitge-
skakel kan word. Hoe groter die perio­de tussen toediening en die opname van stikstof, hoe groter is die kans vir verliese. Daarom is ’n bespa­ring op of uitskakeling van stikstof wat voor plant toegedien word ’n sinvolle stap.

Besparing
Die impak van die stikstofverplasingswaarde op die ekonomie van mielies na sojabone vir produsente wat vir die eerste keer daarvan gebruik maak, kan beduidend wees. Stikstof maak gewoonlik meer as 50% van die bemestingskoste van mielies uit, terwyl die totale bemesting verreweg die grootste bydraende faktor tot die veranderlike koste is (sowat 40% in 2025/2026 vir die Noordwes-Vrystaat volgens Graan SA).

Rofweg verteenwoordig 30 tot 60 kg stikstof/ha 25 tot 50% van die hoeveelheid stikstof wat op groot dele van die Noordwes-Vrystaat se mielies toegedien word. So ’n besnoei-
ing kan die bemestingskoste met ’n beduidende 15 tot 30% laat afneem.

Figuur 1: Die verskil in vegetatiewe groei tussen mielies na sojabone (links) en mielies in monokultuur (regs) is dikwels ooglopend en word ook in die opbrengs weerspieël. Boonop kan die stikstofbemesting op mielies na sojabone ook besnoei word.

Stikstofverplasing van 30 of 60 kg?
Wanneer is die verplasingswaarde egter 30 kg/ha en wanneer is dit 60 kg/ha? Dié vraag is vir plaaslike toestande nog onbeantwoord. Die stikstofverplasings­waar­de van ’n proef wat op sandgrond naby Viljoens­kroon gedoen is, was sowat 42 kg stikstof/ha (Nel, 2016). Dit is een datapunt wat belowend lyk maar dalk ook misleidend kan wees. Baie soortgelyke proewe is nodig om ’n betroubare riglyn daar te stel. Dit is ’n onderwerp waaraan die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) tans op die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat aandag gee.

Die stikstofverplasingswaarde gaan, soos met alle reaksies in gewasproduksie, na alle waarskynlikheid deur verskillende faktore beïnvloed word. So is daar plaaslike proewe wat toon dat die besparing moontlik met die opbrengs van die sojabone verband hou terwyl proefwerk elders weer die teendeel wys.

Bron van die stikstofverplasingswaarde
Die gewone verduideliking is dat sojabone stikstof bind waarvan ’n deel saam met die graan verwyder word en die res in die grond agterbly, wat dan die bron van die stikstofverplasingswaarde is. Dit blyk nie noodwendig waar te wees nie. In proefwerk wat gedurende die 1990’s plaaslik gedoen is, is gevind dat sojabone van nul tot 50 kg stikstof/ha in die grond kan agterlaat (Bloem, 2001). Die mie­lies benut dit waarskynlik, maar ’n verdere opbrengsverhoging van 10% of selfs meer kan nie aan die ekstra stikstof toegeskryf word nie. Ander faktore speel duidelik ook ’n belangrike rol.

Een so ’n faktor is die dinamika van die mikroörganismes in die grond wat deur sojabone gunstig verander word en waarskynlik vir die “onverklaarde opbrengsver-
hoging” verantwoordelik is. Die grondgesondheid word waarskynlik dus deur die sojabone verbeter met ’n positiewe impak op die gesondheid, grootte en doeltreffend-
heid van die mielies se wortelstelsel. Met ’n gesonder en groter wortelstelsel is die mielies in staat om ’n groter deel van die beskikbare stikstof in die grond te benut.

Verhoging van doeltreffendheid
Die stikstofverplasing van sojabone het ’n besonder groot impak op die doeltreffend-
heid van die toegediende (verminderde) stikstofbemesting op mielies. Een manier om die doel­treffendheid van die toegediende stikstof te kwantifiseer is om die agronomiese doeltreffendheid te bereken as die hoe­veelheid graan (kg/ha) geproduseer per kilogram stikstof per hektaar bemes. Om byvoorbeeld ’n mie­lie­monokultuuropbrengs van 6 t/ha op sand­grond te behaal, beveel Fertasa (2016) ’n toediening 149 kg stikstof/ha aan. Sou die opbrengs wel 6 t/ha wees, is die agronomiese doeltreffendheid dus 40 kg graan/kg toegediende stikstof – wat as laag deur die Wisconsin State University (Augarten, 2019) ge­klas­sifiseer word.

Met ’n verlaging van 30 tot 60 kg stikstof/ha en die opbrengs steeds 6 t/ha, word tussen 50 en 67 kg graan/kg toegediende stikstof be­haal. Die agronomiese doeltreffend­heid van die toegediende stikstof kan dus met 25 tot 68% toeneem, wat sekerlik ’n drastiese toename in enige produksieproses verteenwoordig. Sou die opbrengs ook met 10% styg weens die verbetering in die grond se gesondheid, neem die agronomiese doeltreffendheid met tussen 38 en 85% toe.

Omgewingsbesoedeling
Stikstof wat nie deur die gewas opgeneem en met die graan van die land verwyder word nie, hou die gevaar in dat dit die omge­wing kan besoedel – veral waterbronne. Stikstof, gewoonlik as nitrate in drinkwater, is karsinogenies en hou gevolglik ’n ernstige gesondheidsgevaar in. Oorsee word die toename in kankergevalle aan stikstofbesoe-
delde water toegeskryf, waarvan die oorsprong landbou is. In die Noordwes-Vrystaat met sy sandgrond waar stikstof maklik loog, is al reeds boorgatwater gevind waarvan die stikstofinhoud die voorgeskrewe veiligheidsgrens ver oorskry. Die doeltreffende aanwending van stikstof is dus nie net vir die ekonomie van mielieproduksie noodsaaklik nie, maar ook uit ’n omgewings- en gesondheidsperspektief.

Slotsom
Met die inligting wat tans beskikbaar is, lyk dit of die stikstofbemes­ting van mielies ná sojabone baie verlaag kan word teenoor die bemestingspeil van monokultuurmielies. Die verlaging kan waarskynlik tot soveel as 50% wees sonder om opbrengs prys te gee. Baie navorsing is egter nodig om ’n riglyn daar te stel.

Uit ’n omgewingsperspektief is dit noodsaaklik dat stikstofbemesting van mielies so doeltreffend moontlik moet wees om die besoedeling van waterbronne en die gesondheid van mense wat van die water afhanklik is, te beskerm.

Bronne

  1. Bloem, AA & Barnard, RO. 2001. Effect of annual legumes on soil nitrogen and on the subsequent yield of maize and grain sorghum. South African Journal of Plant and Soil, 18:2, 56-61, DOI: 0.1080/02571862.2001.10634404
  2. Augarten, A, Radatz, A, Ruark, M & Olson, E. 2019. Nitrogen Use Efficiency: Statewide NUE benchmarking for CORN GRAIN and SILAGE, University of Wisconsin–Madison Division of Extension.
  3. Fertasa. 2016. Bemestingshandleiding. Agtste hersiene uitgawe. Pretoria, Suid-Afrika.
  4. Nel, AA. 2016. The nitrogen replacement value of soybean on a following maize crop. SA Grain, March 2016, 90-91.