Graanroosluis veral gevaarlik saam met GGDV

Gepubliseer: 3 September 2026

35
Dr Vicki Tolmay,
LNR-Kleingraan,
Stellenbosch

Groot getalle graanroosluis (Metopo­lo­phium dirhodum) (Figuur 1 A-F) het in 2024 en 2025 in die Wes-Kaap se ko­ring- en garsproduk-
siestreke voorgekom. Hierdie luisspesie voed primêr op die onderkant van die oudste blare van koring- en garsplante, vanwaar hulle opwaarts op die plant beweeg soos die onderste blare afsterf. Onder baie hoë infestasies voed hulle ook op die boonste blaaroppervlak.

Graanroosluis kan ’n verskeidenheid plante as gas­heer gebruik. In koue lande, waar hulle nie in hul aktiewe vorm deur die winter kan oorleef nie, bring hulle die winter as eiers deur op rose en ander roosagtige plante – vandaar die naam. In die landbousektor is hulle bekend weens hul voorkoms op gesaaides soos koring (Triticum sp.), gars (Hordeum sp.), hawer (Avenae sp.) en mielies (Zea mays). Hulle kan ook etlike grassoorte as gasheer gebruik, soos Bromus sp. (reddingsgras, predikantsluis), Dactylis sp. (kropaar), Festuca en Agrostis sp. (swenkgrasse), Lolium sp. (raaigrass) en Poa sp. (blougras), om maar ’n paar te noem.

Die graanroosluis kom wêreldwyd voor en is wyd verspreid oor Afrika. Die luis is welbe-
kend as landbou­plaag in Noord-Afrika vanaf Marokko tot Egipte asook in Suidelike Afrika en kom in al Suid-Afrika se graanproduksiegebiede voor. In Sentraal-Europa is dit die mees algemene luissoort wat op kleingraangewasse voorkom.

Figuur 1: A) ’n Tipiese kolonie van klein graanroosluise.
B) ’n Volwasse graanroosluis.
C) Die kenmerkende “deursigtige” groen kleur van ’n graanroosluis.
D) ’n Tipiese kolonie van mediumgrootte graanroosluise.
E) ’n Ongevleuelde (links) en gevleuelde (regs) graanroosluis.
F) Die graanroosluis het ’n kenmerkende donkergroen streep op die rug.

Hierdie luis het ’n ligte, amper deursigtige groen kleur met ’n donkergroen streep op die rug (Figuur 1 F). Hierdie streep is dikwels duideliker op die kleiner luise as op die volwassenes of gevleueldes. Die siphunculi (heuningbuise) aan die agterlyf van hierdie luisspesie is duidelik sigbaar en is dieselfde groen kleur as die liggaam. Hulle het lang, beweeglike antennas en is daarvoor bekend dat hulle ’n digte stand met geil, groen plante verkies. Hier­die luise skei groot hoeveelhede heuningdou af, wat soms die groei van ’n swartkleurige swam bevorder. Die swam infekteer nie die plant nie, maar groei op die heuningdou op die blaaroppervlak. Dit kan gevolglik fotosintese belemmer deur sonskyn te verhoed om chlorofil in die blare effektief te bereik.

In Suid-Afrika vind die voortplanting van graanroosluis partenogeneties plaas. Dit beteken die moederluis gee oorsprong aan lewendige babas wat geneties presies dieselfde as sy is, sonder om met ’n mannetjie te paar. Voortplanting vind optimaal plaas by temperature tussen 21 en 25 °C en 70 tot 80% humiditeit. Een luis kan oor haar lewensduur tussen 50 tot 100 nimfe produseer. Binne sewe tot elf dae van geboorte is die nimfe volwasse en begin hulle self geboorte gee aan babas wat reeds in hulle begin ontwikkel het voordat hulle self gebore is. Hierdie verskynsel waar twee nageslagte binne ’n ouer ontwikkel word in Engels telescoping generations genoem en is die rede hoekom die generasietydperk van hierdie plaag so min as sewe tot tien dae kan wees. Dit verduidelik ook waarom hierdie luis so ongelooflik vinnig kan opbou in koring- en garsaanplantings wanneer toestande gunstig is.

Luise: klein peste, groot risiko
Verder besit hierdie spesie ’n aanpassing waarmee hulle die oorbenutting van ’n gasheerplant kan voorkom. Wanneer luisgetalle te hoog raak en die plant waarop die kolonie voed begin agteruitgaan, word gevleuelde nimfe gevorm. Wanneer hierdie luise volwassenheid bereik, is hulle in staat om die plant te verlaat en elders ’n ander gasheerplant te soek. Ook opvallend van die 2024- en 2025-seisoene was die groot hoeveelheid luise wat in die Wes-Kaapse graangebied op motorruite voorgekom het in laat Oktober en vroeë November. Dié luise het die plante waar hulle gebore is verlaat op soek na ’n nuwe gasheer.

Hierdie luise veroorsaak gewoonlik nie groot skade aan grane nie, tensy dit in baie hoë getalle voorkom. Hulle is egter uitstekende vektore van gars-geeldwergvirus (GGDV) oftewel barley yellow dwarf virus (BYDV). Dié virus oorleef in ongeveer 150 ware gras-
plantspesies, gesamentlik bekend as die Poaceae of Gramineae.

Met die beheer van graanroosluis is dit dus noodsaaklik om te weet of die luise saam met of sonder GGDV voorkom. Indien die virus wel in die omgewing is, moet beheer so gou moontlik toegepas word. Daar moet veral na vroeë besmetting van luise opgelet word vir die teenwoordigheid van GGDV, aangesien die virusskade erger word hoe langer die infeksie duur. In die afwesigheid van die virus moet die luispopulasie gemonitor word en optrede is noodsaaklik wanneer die drumpelwaarde van tussen 20 tot 30% van die halms (elk besmet met meer as 10 tot 20 luise/halm) tussen vlagblaar en volle aarverskyning voorkom. Bespuiting na blomstadium word nie aanbeveel nie.

Gars-geeldwergvirus (GGDV)
GGDV word deur meer as 20 verskillende luisspesies oorgedra en kan gars, koring, korog, hawer en etlike grasspesies besmet. Die virus word oorgedra na ’n gasheerplant wanneer ’n besmette luis binne die floëem daarvan voed. Binne die plant begin die virus vermeerder en nuwe viruspartikels ontstaan. Tydens hierdie proses word die plant afgetakel en om en by 14 dae daarna begin simptome op die plant waarneembaar word. Aanvanklik verkleur die jongste blare, plantgroei word vertraag en die verkleuring vererger. Ko­ring word liggeel, gars vertoon goudgeel en hawer vertoon rooibruin. Na ’n lang besmetting kan die rooibruin kleur by omtrent alle gashere gesien word (Foto 1). Besmette plante is teen die einde van die groeiperiode verpot, het uitermatig baie halms en toon vertraagde aarvorming.

Gars-geeldwergvirus-simptome op koringblare.

Hierdie is ’n durende virus wat beteken die luisvektor wat dit oordra moet vir etlike ure op die besmette gasheerplant voed om vektorstatus te verkry. Viruspartikels wat die luis inneem beweeg ongeskonde deur die luis se spysverteringskanaal tot in die hemolimf. Hemolimf is die “bloed”-gelyke vloeistof binne alle insekte, waarin al hulle organe voorkom. Die virusdeeltjie kan onbeperk binne die luis bly leef, maar moet in ’n plant repliseer. Die viruspartikels beweeg dus tot in die speekselkliere van die luis, en wanneer die luis voed word die volgende plant besmet.

Vir meer inligting kan dr Vicki Tolmay by tolmayv@arc.agric.za of 073 469 0000 gekontak word.