Winsgewendheid van verskillende energiebronne in ’n veerantsoen

Gepubliseer: 3 Julie 2026

78
Dr Ockert Einkamerer, senior lektor:  Departe-ment Veekunde, Natuur- en Landbouwetenskap­pe, Universiteit van die Vrystaat

Voerkoste verteenwoordig dikwels tussen 60 en 80% van die totale veranderlike koste van intensiewe veeproduksiestelsels. Binne hierdie voerkoste vorm energie die grootste enkele komponent van die meeste rantsoene vir herkouers, pluimvee en varke. Gevolglik kan selfs klein verskille in die koste en benutbaarheid van energiebronne ’n groot invloed op die winsgewendheid van ’n onderneming hê.

Volgens die internasionale voerklassifikasiestelsel word voere in agt hoofklasse verdeel, naamlik droë ruvoere, vars ruvoere, kuilvoer, energievoere, proteïenvoere, minerale, vitamiene en addi­tiewe. Grane word as energievoere geklassifiseer en moet per definisie minder as 20% ruproteïen en minder as 18% ruvesel bevat. Hoewel grane dikwels bloot volgens hul tonprys vergelyk word, word die werklike voedings- en ekonomiese waarde bepaal deur die hoeveelheid benutbare energie wat aan die dier beskikbaar gestel word. Die goedkoopste graan is dus nie noodwendig die wins­gewendste graan nie.

’n Voerkraalkalf van 340 kg benodig sowat 94 tot 110 MJ ME per dag.

Waar kom energiewaardes vandaan?
Energie word oorspronklik bepaal deur middel van ’n bomkalorime­ter. ’n Bekende hoeveelheid voer word in ’n verseëlde houer geplaas en volledig verbrand. Die hitte wat tydens die verbranding vrygestel word, staan bekend as die bruto energie van die voer. Diere kan egter nie al hierdie energie benut nie. ’n Deel gaan verlore in die mis, urine en fermentasiegasse (herkouers) soos metaan. Nadat hierdie verliese verreken is, word die metaboliseerbare energie (ME) bereken. Hierdie waarde verteenwoordig die energie wat werklik vir onderhoud, groei, melkproduksie en reproduksie beskikbaar is. Metaboliseerbare energie word dus algemeen gebruik wanneer energiebronne in rantsoene vergelyk word vir herkouers.

’n Ton graan is nie noodwendig gelyk aan ’n ton graan nie
Wanneer verskillende grane vergelyk word (Tabel 1), is dit belangrik om te onthou dat elke graan oor ’n unieke voedingsprofiel beskik. Mielies bevat die hoogste energiekon-
sentrasie van die meeste algemeen verboude grane in Suid-Afrika en word daarom dikwels as die standaardenergiebron beskou. Koring bevat soortgelyke energievlakke, maar die stysel fermenteer aansienlik vinniger in die rumen. Hawer bevat minder stysel en meer vesel, terwyl gars ’n intermediêre posisie inneem. Sorghum bevat relatief hoë styselvlakke, maar die beskikbaarheid daarvan vir rumenmikrobes is gewoonlik laer as dié van mielies.

Grane se voedingswaarde word verder beïnvloed deur kultivar, bemestingspraktyke, klimaat, opbergingstoestande en die mate van verwerking. ’n Aspek wat akademiese navorsing vereis, is die stelling dat die voedingswaarde van grane onder verskillende verbouingstelsels verskil. Daar is wel navorsing wat verskille in styseldegradasie binne verskillende mieliekultivars wys, maar nie gekorreleer is met verbouingspraktyke nie. Dit verg ook verdere navorsing. By herkouers sal daar ’n invloed wees op die voer-
formulasie en diere se respons weens die verskille, maar dit is moeilik meetbaar. Die invloed van variërende voedings­waarde op pluimveeproduksie (en voerformulasies) is inteendeel heelwat groter en makliker meetbaar weens hul beheerde omgewing.

In droër produksiegebiede kan sorghum meer stabiele opbrengste as mielies lewer.

Die rol van styselverteerbaarheid
Die grootste gedeelte van die energie in grane is afkomstig van stysel. Nie alle stysel word egter teen dieselfde tempo in die rumen afgebreek nie. Koolhidrate word gewoon-
lik in verskillende fraksies verdeel. Fraksie A bestaan uit vinnig fermenteerbare kool-
hidrate soos sui­kers. Fraksie B1 (Tabel 1) bestaan hoofsaaklik uit stysel wat teen ’n intermediêre tempo afgebreek word. Fraksie B2 verteenwoordig die stadig verteerbare selwandkomponente, terwyl fraksie C die onverteerbare veselkomponent verteen-
woordig. Die spoed waarteen stysel in die rumen afgebreek word, beïnvloed beide energiebenutting en die risiko van metaboliese steurnisse.

Koring se stysel word gewoonlik die vinnigste afgebreek, gevolg deur hawer. Mielies en gars word teen ’n intermediêre tempo gefermenteer, terwyl sorghum se stysel die stadigste afbreek. Hierdie verskille het be­lang­rike praktiese implikasies.

Vinnige fermentasie verhoog die risiko van ruminale asidose indien diere nie voldoende aangepas word nie. Stadiger fermentasie verminder hierdie risiko, maar kan die tempo van energievry­stelling weer beperk. Die ideale energiebron moet dus nie net oor ’n hoë energiekonsentrasie beskik nie, maar ook teen ’n geskikte tempo deur die dier benut word.

Sorghum bevat relatief hoë styselvlakke maar die beskikbaarheid daarvan vir rumenmikrobes is gewoonlik laer as dié van mielies.

Die invloed van verwerking
Verwerking speel ’n belangrike rol in die benutting van graan­energie. Wanneer grane fyner gemaal, gekraak of gestoom word, verhoog die oppervlakte waarop rumenmi-
krobes en ensieme kan inwerk. Die verteerbaarheid van stysel neem gevolglik toe. Hierdie effek is veral belangrik by mielies en sorghum waar die styselkorrels sterker deur proteïenmatrikse beskerm word. By koring is die voordeel van verdere verwerking dikwels kleiner omdat die stysel reeds hoogs beskikbaar is. Oormatige verwerking kan egter ook probleme veroorsaak deur die fermentasietempo te verhoog en die risiko van suurpens in herkouers te verhoog.

Waarom mielies die maatstaf bly
Van al die grane wat algemeen in Suid-Afrika verbou word, bly mielies die belangrikste energiebron in veevoeding. Mielies beskik nie net oor ’n hoë energiekonsentrasie nie, maar word ook teen groot volumes geproduseer. Daarbenewens is die koste per eenheid ener­gie gewoonlik laer as dié van die meeste ander grane (Tabel 2). Hierdie kombinasie van hoë energie-inhoud, uitstekende beskikbaarheid, goeie opbergings-
vermoë en relatief lae koste verklaar waarom mielies die maatstaf bly waarteen ander energiebronne vergelyk word.

Energiekoste: die werklike vergelyking
Voerformuleerders vergelyk energiebronne nie slegs op grond van tonprys nie. Die koste per eenheid ME bied ’n meer akkurate maatstaf van ekonomiese waarde. Indien mielies byvoorbeeld ongeveer R3 100/ton kos en 13,6 MJ ME per kilogram droëma-
teriaal (DM) be­vat, beloop die energiekoste ongeveer R0,23/MJ ME. Koring mag wel meer energie bevat as sommige ander grane, maar die hoër markprys verhoog dikwels die koste per megajoule (MJ) energie. Dieselfde beginsel geld vir gars en hawer. Hierdie berekening verduidelik waarom mie­lies dikwels die mees koste-effektiewe energiebron in Suid-Afrikaanse veevoerrantsoene bly.

’n Dragtige koei van ongeveer 450 kg benodig gemiddeld sowat 104 MJ ME per dag.

Praktiese implikasies vir rantsoenformulering
Wanneer energiebronne vir veevoeding geëvalueer word, is dit belangrik om te onthou dat grane selde as die enigste bestanddeel in ’n rantsoen gebruik word. Die uiteindelike doel van ’n rantsoen is nie net om die goedkoopste voerbestanddeel te formuleer nie, maar om die goedkoopste kilogram groei, melk of vleis te produseer. Dit beteken dat die voedingswaarde van die totale rantsoen altyd be­langriker is as die voedingswaarde van ’n enkele grondstof.

’n Graan met ’n laer energiekonsentrasie kan byvoorbeeld steeds ekonomies voordelig wees indien dit plaaslik beskikbaar is en vervoerkoste beperk. Net so kan ’n duurder graan soms beter pre­­­­steer indien dit voerinname verhoog of die benutting van ander rantsoenbestanddele verbeter. Die werklike waarde van ’n energiebron word dus bepaal deur die interaksie tussen die voerbestanddele, die dier se produksievlak en die produksiedoelwit.

Die energiebehoefte van diere verskil ook aansienlik tussen spe­sies en produksiefases. ’n Dragtige koei van ongeveer 450 kg benodig gemiddeld sowat 104 MJ ME per dag, terwyl ’n voerkraalkalf van 340 kg sowat 94 tot 110 MJ ME per dag benodig.

Hawer bevat minder stysel en meer vesel, terwyl gars ’n intermediêre posisie inneem.

In hoëproduksie­stelsels kan selfs klein verskille in energiekonsentrasie dus groot verskille in voeromsetdoeltreffendheid en wins­gewendheid veroorsaak.

Nog ’n faktor wat dikwels oor die hoof gesien word, is die invloed van graankwaliteit op energiebenutting. Weersomstandighede gedurende die groeiseisoen, opberging, insekskade en selfs die mate van meganiese beskadiging tydens oes kan die voedings-
waarde van grane beïnvloed. Twee vragte van dieselfde graansoort sal dus nie noodwendig dieselfde voedingswaarde hê nie. Om hierdie rede word voedingsont-
ledings toenemend deur voermeulens en groot veeprodusente gebruik om rantsoene meer akkuraat te formuleer.

Voedingkundiges fokus gevolglik op die koste per eenheid benutbare energie eerder as bloot die aankoopprys van die grondstof. Hier­die benadering stel produsente in staat om meer ingeligte beslui­te te neem wanneer alternatiewe energiebronne oorweeg word. In tye van groot prysskommelings kan so ’n benadering die verskil beteken tussen ’n winsgewende en ’n verliesdraende produksieseisoen.

Energie-opbrengs per hektaar
Vir graanprodusente is opbrengs per hektaar net so belangrik as voedingswaarde. Die werklike hoeveelheid energie wat per hektaar geproduseer word, word bereken deur die opbrengs per hektaar met die energiekonsentrasie van die graan te vermenigvuldig. ’n Besproeiingsmielieland wat 13,5 ton graan/ha produseer, kan meer as 180 000 MJ ME/ha lewer. Selfs in droëlandtoestande produseer mielies aansienlik meer energie per hektaar as die meeste ander graansoorte. Hierdie hoë energie-opbrengs per hektaar verklaar grootliks waarom mielies wêreldwyd die dominante energiegewas vir vee-
voeding bly. Vir interessantheid, 1 ha besproeiingsmielies kan teoreties (grane word nooit alleen vir herkouers gevoer nie) voer voorsien vir 1 669 kalwers per dag, vergeleke met 680 vir droëlandmielies en 452 vir hawer. Laasgenoemde is amper vier keer minder (faktor van 3,69) as besproeiingsmielies.

Mielies bevat die hoogste energiekonsentrasie van die meeste algemeen verboude grane in Suid-Afrika en word daarom dikwels as die standaardenergiebron beskou.

Wanneer kan ander grane meer winsgewend wees?
Alhoewel mielies dikwels die ekonomiese maatstaf vorm, beteken dit nie dat ander grane nie winsgewend aangewend kan word nie. In droër produksiegebiede kan sorghum meer stabiele opbrengste as mielies lewer. In winterreënvalstreke speel gars en koring weer ’n belangrike rol. Voergraadkoring kan gedurende sekere seisoene selfs goedkoper as mielies wees en dus ’n aantreklike energiebron vorm. Plaaslike beskik-
baarheid, vervoerkoste, marktoestande en alternatiewe aanwendings beïnvloed uiteindelik die ekonomiese waarde van elke graan. Die mees winsgewende energiebron behoort daarom altyd binne die konteks van die spesifieke onderneming geëvalueer te word.

Slotsom
Die winsgewendheid van ’n energiebron word nie uitsluitlik deur die tonprys bepaal nie. Die energiekonsentrasie, styselverteerbaarheid, opbrengs per hektaar, beskikbaarheid en koste per een­heid metaboliseerbare energie moet gesamentlik in ag geneem word. In ti­piese Suid-Afrikaanse toestande bly mielies die maatstaf waarteen ander energie-
bronne gemeet word vanweë die hoë energiedigt­heid, lae koste per MJ ME en uitsonderlike energie-opbrengs per hektaar. Ander grane soos koring, gars, hawer en
sorghum kan egter in spesifieke produksie- en marktoestande mededingend wees.

Uiteindelik bly die bepalende faktor watter graan die meeste benutbare ener­gie teen die laagste koste op ’n gegewe tydstip gaan verskaf.