
PVO-bestuurder (produkverantwoorde-likheidsorganisasie), CropLife SA
Elriza Theron,
bestuurder: Strategiese Vennootskappe en Bedrywighede,
CropLife SA
Min besluite op ’n plaas het groter gevolge as die keuse en toediening van landboumiddels (plaagdoders en verwante middels). Een verkeerde aanbeveling kan lei tot gewasskade, onaanvaarbare maksimumresiduvlakke, omgewingsbesoedeling, versnelde weerstandsontwikkeling, die verlies van uitvoermark-
toegang en aansienlike finansiële verliese.
Maar wie dra die verantwoordelikheid wanneer ’n verkeerde aanbeveling oor ’n landboumiddel gemaak word? Die antwoord is meer kompleks as wat baie mense besef. Landboumiddels in Suid-Afrika word gereguleer ingevolge die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947). Voordat ’n landboumiddel verkoop mag word, moet dit geregistreer wees vir spesifieke gewasse, teikenplae, dosisse, toedieningsvensters en gepaste toedieningsmetodes.
Hierdie gebruike word op die goedgekeurde etikette van geregi-
streerde landboumiddels aangedui. Dit is belangrik om te weet dat die etiket deel vorm van die wetlike vereistes waaronder die produk geregistreer is en daarom moet dit streng volgens die geregistreerde etiket gebruik word. Aanbeve-
lings wat buite die geregistreerde etiket gemaak word, kan dus beide die gebruiker en die adviseur aan regs- en finansiële risiko blootstel.
Gewasadviseurs speel ’n deurslaggewende professionele rol en het ’n plig om aanbevelings te maak wat wetenskaplik verantwoordbaar, wettig en geskik vir die spesifieke produksietoestande is.
Pligte van ’n adviseur
’n Adviseur behoort onder meer:
- die plaag, siekte of onkruid korrek te identifiseer;
- slegs produkte aan te beveel wat vir die betrokke gewas en teikenorganisme geregistreer is;
- seker te maak dat die aanbevole dosis met dié van die goedgekeurde etiket ooreenstem;
- voorgeskrewe onthoudingsperiodes en maksimumresidulimiete in ag te neem waar van toepassing;
- weerstandbestuursbeginsels toe te pas;
- omgewingstoestande wat die effektiwiteit of teikenakkuraatheid van die produk kan beïnvloed, in ag te neem;
- die produsent bewus te maak van die gevare en risiko’s van die produk; en
- enige beperkings rakende die toediening van die produk duidelik aan die produsent te kommunikeer.
Waar ’n adviseur nalatige advies verskaf wat nie aan die standaard voldoen wat redelikerwys van ’n bevoegde professionele persoon verwag kan word nie, kan hy/sy moontlik sivielregtelik aanspreeklik gehou word vir skade wat die produsent ly.
Hoewel produsente dikwels op tegniese advies staatmaak, bly hulle verantwoordelik om toe te sien dat landboumiddels wettig en volgens die geregistreerde etiket op hul plase gebruik word. Dit is ’n regulatoriese vereiste ingevolge Regulasie R1716 van
26 Julie 1991 dat die persoon wat die landboumiddel toedien, dit nie strydig met enige van die etiketinstruksies doen nie. Die persoon wat die toediening uitvoer of opdrag gee dat dit toegedien word, moet regtens dus bevestig dat:
- die produk geregistreer is;
- die gewas waarvoor die produk gebruik word, op die etiket aangedui word;
- die teikenplaag of -siekte waarvoor die produk gebruik word, op die etiket aangedui word;
- die korrekte dosis waarteen die produk geregistreer is en op die etiket aangedui word, toegedien word;
- die vensterperiode waarvoor die produk geregistreer is, die tydperk is wanneer die produk toegedien word;
- die voorgeskrewe onthoudingsperiode of vooroesinterval nagekom word; en
- alle ander etiketvoorskrifte soos toepaslike beskermende klerasie, skoonmaak van leë houers en veilige vernietiging van die uitgediende middel streng nagevolg word.
Deur op eksterne advies staat te maak, onthef beslis nie die produsent van hierdie verantwoordelikheid nie. Baie plaagdoderhandelaars stel gekwalifiseerde adviseurs
aan wat aanbevelings aan produsente maak. Waar advies deel vorm van ’n kommersiële diens, kan die onderneming self ook aanspreeklikheid dra indien verkeerde aanbe-
velings die gevolg is van nalatigheid, onvoldoende opleiding of gebrekkige toesig.
Om hierdie rede vereis baie plaagdoderhandelaars dat aanbevelings behoorlik gedokumenteer word en dat die motivering daarvoor aangeteken word.
Gestel ’n konsultant beveel ’n swamdoder op sonneblomme aan wat slegs vir gebruik op mielies geregistreer is. Hoewel die aktiewe bestanddeel moontlik die siekte kan beheer, is die produk nie vir sonneblomme geregistreer nie. Die gebruik daarvan is dus strydig met die geregistreerde gebruik van die goedgekeurde etiket. Indien residupro-
bleme of gewasskade ontstaan, kan daar ernstige gevolge wees vir beide die produsent en die adviseur.
Oorweeg ’n ander voorbeeld. Gestel ’n gewasadviseur beveel aan dat die geregistreerde dosis verdubbel word om beter beheer te verkry en die produsent volg die aanbeveling. Die hoër dosis veroorsaak fitotoksisiteit (gewasskade) en lei tot residuvlakke wat die gereguleerde limiete oorskry. Hoewel die produsent die produk toegedien het, kan die adviseur ook aanspreeklik gehou word omdat die aanbeveling strydig met die geregi-
streerde gebruik op die goedgekeurde etiket was. Die finansiële verliese kan dus veel groter wees as die koste van die bespuiting self.
Rekordhouding
Dit is noodsaaklik dat beide adviseurs en produsente volledige rekords hou van gewasinspeksies, identifikasie van plae, siektes of onkruide, produkte wat oorweeg is, die redes vir produkkeuse, tydsberekening van toediening, weerstoestande, aanbe-
velings wat gemaak is en volledige spuitrekords. Goeie dokumentasie ondersteun nie net verantwoordelike produkgebruik nie, maar kan ook van onskatbare waarde wees indien verskille later ontstaan.
Professionele aanbevelings oor landboumiddels behels veel meer as bloot die keuse van ’n effektiewe produk. Dit vereis deeglike kennis van die wetgewing, produkregistra-
sies, weerstandsbestuur, omgewingsrentmeesterskap, voedselveiligheid, spuitopera-teurveiligheid en goeie landboukundige praktyke.
Die geregistreerde etiket bly die hoeksteen van wettige gebruik van landboumiddels in Suid-Afrika. Adviseurs wat aanbevelings maak wat nie daarmee strook nie, stel nie net hulself bloot aan risiko nie, maar ook die produsente wat op hul kundigheid vertrou.
Verantwoordelike gewasbeskerming is uiteindelik ’n gedeelde verantwoordelikheid. Produsente, adviseurs, verspreiders, kleinhandelaars en registrasiehouers speel almal ’n belangrike rol om te verseker dat landboumiddels wettig, veilig en doeltreffend gebruik word. Wanneer aanbevelings op die geregistreerde etiket, goeie wetenskap en verantwoordelike landboupraktyke gegrond is, beskerm dit nie slegs die individuele produsent nie, maar ook verbruikersvertroue, marktoegang en die langtermynvol-
houbaarheid van Suid-Afrikaanse landbou.



























