
SA Graan/Grain-medewerker
Trekkers is bekend daarvoor dat hulle in die stoor staan en breek. ’n Werkende trekker word in die stoor geparkeer en as dit weer planttyd of strooptyd is, is hy morsdood – of die probleme begin in die land. Hoekom gebeur dit? Dikwels kan dit voorkom word as produsente net meer aandag gegee het tydens die berging.
Knaagdiere is al te bly as vuil toerusting, veral stropers, in die stoor geberg word. Rotte wat knaag aan stroperdrade of in die harnas nesmaak, kan groot skade aanrig. Werktuigkundiges weet hoeveel ure se werk dit is om daardie klein draadjies weer te las. Dit maak sonder twyfel sin om toerusting deeglik skoon te maak voordat dit geberg word.
Trekkers wat in ’n stoor gestaan het behoort ook deur ’n professionele werktuigkundige nagegaan te word. Waterpype word hard en waaierbande en rubberpype wat gesuiwerde lug vervoer kan kraak – hierdie klein foutjies kan produsente duur te staan kom. Die werktuigkundige kan sommer terselfdertyd die trekker diens en die olie en filters eerder vroegtydig vervang. Op hierdie manier kan die werktuigkundige tot ’n mate voorspel watter brekasies verwag kan word. Produsente het dan tyd om te besluit om die trekker voor die tyd reg te maak, te wag tot dit breek en dan alles reg te maak of om die trekker te verkoop.
As trekkers of toerusting in werktyd breek, is dit ’n gesukkel – veral as dit ’n kritieke trekker is. Produsente moet dus seker maak dat die masjinerie nagesien is voor die seisoen begin. Wanneer daar brekasies is, is goeie kommunikasie met die werktuig-
kundige uiters belangrik. Foutkodes moet deurgegee word en in die geval van ouer trekkers moet die foutbeskrywing so akkuraat moontlik aan die werktuigkundige oorgedra word. Hierdie stap sal daartoe bydra dat laasgenoemde dalk net een keer hoef uit te kom plaas toe om die trekker te herstel.

Diensrekords
Die byhou van diensrekords help verder om die werktuigkundige se foutidentifisering te vergemaklik. Dit help nie om vir die werktuigkundige te sê die trekker maak so en so vandat hy ses maande tevore aan hom gewerk het nie; hy gaan dan definitief op die verkeerde plek begin fout soek. As alles nie reg is na herstelwerk gedoen is nie, kontak die werktuigkundige dadelik sodat die probleem uitgesorteer kan word.
Om ’n trekker te herstel – veral ’n groot trekker se enjin – kan aansienlike koste-impli-
kasies hê. Produsente kan soms probeer om koste te verminder deur van roofonderdele gebruik te maak, maar daar moet onthou word sulke onderdele dra gewoonlik geen waarborge nie.
Kwotasies om herstelwerk te doen bring dikwels ook uitdagings. Vir ’n 100% korrekte kwotasie moet die enjin byvoorbeeld uitmekaar gehaal wees – wat klaar tot koste gaan lei. Produsente moet ook weet dat die kwotasie met verloop van tyd kan verander, veral as ekstra probleme kop uitsteek. Sekerlik die grootste probleem met kwotasies is egter dat ’n deposito met die aanvaarding van die kwotasie betaal moet word. Dikwels is dit hier waar die probleme inkom: Die produsent draai om die kwotasie te aanvaar en met aanvaarding verwag hy dan om eerste ingedruk te word. Hierdie optrede lei tot moeilikheid. Speel eerder oop kaarte; daar kan altyd planne gemaak word om die probleme op te los.
Sodra die trekker se enjin uitmekaar is, kan die werklike skade eers bepaal word – hier moet gereelde gesprekke tussen die produsent en die werktuigkundige plaasvind. Nou kan die werklike kwotasie opgestel word en addisionele foute kan dalk ook herstel word. Dit maak tog sin om terwyl die enjin oop is sommer die dieselpomp en brandstof-
inspuiters te laat herstel. Alhoewel dit nie dalk noodsaaklik is nie, sal dit die nuwe enjin se werkverrigting verhoog.
Olielekke is algemeen op trekkers en toerusting. As die som gemaak word van hoeveel geld wegdrup, maak dit sin om olielekke so vinnig moontlik te herstel. Gewoonlik is dit tydens die dienste van trekkers dat hierdie probleme professioneel herstel kan word.
Dienste is egter dikwels een van die belangrikste aksies wat oorgeslaan word. Produ-
sente moet seker maak dat dit nie gebeur nie. Geld kan bespaar word deur dienste self te doen, maar die werktuigkundige ruil nie net die olie nie, hy gooi sommer sy oog oor die hele trekker. Dikwels kan klein probleempies wat ongesiens tot groot finansiële skade aanleiding kon gee, so reggestel word.
’n Werktuigkundige kan wel duur wees, maar as die koste van groot enjinprobleme hierteen opgeweeg word, dan is voorkoming eintlik goedkoper. Oor die algemeen word aanvaar dat slytasie sal veroorsaak dat taamlike groot enjinherstelwerk na ongeveer
7 000 uur se werk gedoen sal moet word, en rondom 9 000 uur kan verwag word dat die ratkaste aandag gaan benodig. Produsente kan dus beplan wanneer om trekkers te vervang en wanneer om te begroot vir groot brekasies.
Moenie vergeet van ander implemente
Daar word gereeld net aandag aan trekkers en stropers gegee terwyl ander implemente op die plaas oor die hoof gesien word. Na plant gaan die planter stoor toe en kom nie uit voor dit weer planttyd is nie. Hierdie strategie kan foutjies laat verbyglip wat weer ’n groot impak op produksie kan hê. Daar is al meer as een keer oor planterfoute berig. Onthou dat ’n planter wat nie korrek plant nie ’n groot impak op opbrengs kan hê. Maak seker dat die planter onderhou word. Kontroleer veral die skarnierpunte van die plantereenheid – slytasie hier kom teen ’n prys. Produsente wat nie die planterkouters tydig vervang nie moet nie verbaas wees as die plantestand nie 100% korrek is nie. Doen moeite om na hierdie belangrike implement op die plaas te kyk en om die herstelwerk tydig te doen voor die druk seisoen begin.
Produsente moet tyd maak om saam met ’n werktuigkundige hul trekkers en toerusting se dienste en herstel te beplan. Sorg dat herstelwerk buite die druk tyd gedoen word. Deur trekkers te laat deurgaan en hul prestasie te toets, kan produsente ook diesel bespaar wat op die lang duur voordelig is.
Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of praat met ’n werktuigkundige.



























