Die gebruik van gevorderde tegnologie in vandag se moderne boerdery het ’n gegewe geword, maar dit kom saam met groot kapitaalbesteding wat skuld ’n onvermydelike realiteit maak. Met stygende insetkoste, klimaatskommeling en wisselvallige markpryse, kan die boerdery se winsgewendheid vinnig onder druk geplaas word.
’n Boerdery met ’n gesonde balansstaat en hoë netto boerdery-inkomste het nie noodwendig ’n gesonde kontantvloei nie. Sodra rente en skuld gedelg word, word die ware terugbetaalvermoë getoets en raak dit moeiliker om finansieel volhoubaar te bly. Hierdie artikel gaan Senwes se Boerderybestuursontleding (E-Buro) as riglyn gebruik om ’n boerdery se terugbetaalvermoë te illustreer en riglyne word gegee om die boerdery te ondersteun om die regte finansieringsbesluite te neem.
Wat is terugbetaalvermoë?
Terugbetaalvermoë is ’n kritieke maatstaf om die boerdery se vermoë te bepaal om sy skuldverpligtinge na te kom sonder om sy daaglikse bedrywighede of langtermynvoort-bestaan te bedreig. Die volgende kernaspekte kan uitgelig word:
- Kontantvloei teenoor wins: ’n Boerdery kan op papier winsgewend wees sonder om genoegsame kontantreserwes in die bank te hê vir bedryfskapitaal. Dit beteken dat noodsaaklike terugbetalings en verpligtinge moontlik nie nagekom kan word nie.
- Risikobestuur en volhoubaarheid: In vandag se onsekere omgewing van klimaat- en markskommelinge is ’n sterk terugbetaalvermoë ’n buffer wat kan help dat verpligtinge wel nagekom kan word in swakker seisoene. Die periodes waarvoor buffers gehou moet word, word ook al hoe langer.
- Finansiering: Finansiële instellings neem terugbetaalvermoë deurlopend in ag wanneer nuwe lenings of fasiliteite oorweeg word. Kontantvloei moet beskikbaar wees om nuwe skuld te diens wat die boerdery in staat stel om bates te vervang of uit te brei.
- Besigheidsgroei: Fondse wat beskikbaar is na die betaling van skuld en lewenskoste kan die boerdery in staat stel om volhoubaar te groei deur te belê in nuwe tegnologie, vervanging van bates en selfs beleggings buite die boerdery.
In Tabel 1 word die besteebare boerdery-inkomste vir boerderygroottes in die E-Buro vir die afgelope drie seisoene getoon. (Besteebare inkomste word bereken ná die betaling van alle uitgawes, insluitend kapitaaldelging, kontantbate-aankope en lewenskoste.)
Dit is waarneembaar dat veral boerderye in die groeperings van 1 000 tot 3 000 ha nie in die 2023/2024-seisoen voldoende fondse beskikbaar gehad het vir groei of kontantbeskikbaarheid vir die volgende seisoen nie. Die 2023/2024-seisoen is onder meer gekenmerk deur hittegolwe en droogtes wat ’n merk op die kontantvloei van produsente gelaat het. Weens die goeie inkomstes en opbrengste van die 2022/2023-seisoen kon produsente uitbrei en was hulle in staat om met die reserwes die 2024-jaar te oorleef. Die 2024/2025-seisoen is ook gekenmerk deur uitdagings soos swakker graankwaliteit en daar was minder kontant beskikbaar vir die huidige 2025/2026-seisoen.
Van netto boerdery-inkomste na boerderywins
Netto boerdery-inkomste (NBI) is ’n belangrike maatstaf in die bepaling of ’n boerdery ’n goeie terugbetaalvermoë het of nie. Die NBI word bereken deur sowel die direkte veranderlike en vaste koste van die bruto boerdery-inkomste (BBI) af te trek. In
Grafiek 1 word die NBI teenoor die boerderywins (BW) gemeet. Rente en huurverplig-tinge word afgetrek vanaf die NBI om te bepaal hoeveel wins die boerdery gemaak het. Uit hierdie winste moet die kapitaalkomponent van die paaiement, kontantbate-aankope en lewenskoste afgetrek word om by die boerdery se besteebare inkomste uit te kom.

Ideaal gesproke behoort produksiekoste (direkte veranderlike en vaste koste) as ’n verhouding van BBI binne die riglyne te val soos uiteengesit in Tabel 2. Hierdie verhouding word gebaseer op inkomstes sowel as uitgawes. Sou die verhouding buite die riglyn val, moet ondersoek ingestel word vir moontlike uitskieters. Aangesien boerdery van jaar tot jaar kan verskil, is dit ideaal om die boerdery se winsgewendheid oor drie tot vyf jaar te bepaal ten einde die tendense te kan waarneem. (Maak gebruik van kundiges indien dit nie self bereken kan word nie. Berekening behoort oor die produksiejaar gedoen te word en nie die finansiële jaar nie.)
In Grafiek 2 en 3 word die samestelling van die hoof- veranderlike koste sowel as die vaste koste en kapitaalverpligtinge getoon. Vaste koste is normaalweg konstant (die maandelikse uitgawes) en word dikwels misgekyk of nie ten volle in berekening gebring nie wanneer ’n boerdery sy somme maak.


Kritieke skuldlas: wat kan die boerdery bekostig?
’n Alternatiewe metode om die boerdery se bekostigbaarheid te bepaal, is om die kritieke skuldlas te bereken. Hierdie is die maksimum skuld wat die boerdery kan bekostig en is anders as ’n skuldlasverhouding op die inkomstestaat gebaseer. Die NBI word (verkieslik oor ’n termyn van vyf tot sewe jaar) verdiskonteer teen die gemiddelde rentekoers van die boerdery. Aangesien die berekening op die inkomstestaat gebaseer is, gee dit ’n goeie aanduiding van die skuld wat die boerdery uit sy inkomste kan diens. Soos daar egter dikwels oor ’n kredietkaartlimiet gesê word
– hierdie is nie ’n teiken nie.
Die boerdery se huidige skuld moet verkieslik onder 60% van sy kritieke skuldlas wees. In Grafiek 4 word die boerderygrootte se kritieke skuldlas vir 2025 getoon en blyk dit wel dat die onderskeie boerderygrootte-groeperings tans genoegsame fondse beskikbaar het om hul jaarlikse verpligtinge te diens. ’n Tweede verhouding waarna gekyk kan word, is die skulddiensverhouding. Hierdie verhouding dui aan watter deel van die boerdery se BBI aangewend word vir skulddelging (kapitaal + rente) en moet verkieslik
< 25% wees.

Struktureer skuld volgens die boerdery se lewensiklusfase
Boerderye beweeg net soos enige ander onderneming deur lewensiklusse en skuld moet reg gestruktureer wees vir die spesifieke fase. Tabel 3 is ’n uiteensetting van drie fases in die lewensiklus met aanduidings hoe die skuldsamestelling vir die betrokke stadium behoort te lyk.
Finansier kapitaalaankope volgens beskikbare kontantvloei
Dit is van deurslaggewende belang dat ’n boerdery die omvang van sy skuld moet verstaan. Paaiemente moet so gestruktureer word dat dit ooreenstem met die boerdery se spesifieke inkomstesiklus.
As voorbeeld: ’n Saaiprodusent wat net mielies plant, ontvang eers vanaf Junie of Julie sy eerste wesenlike inkomste wanneer die oes gelewer word. Dit is dus finansieel sin-
loos om kapitaalpaaiemente in Januarie te betaal wanneer kontantvloei op sy laagste is. In teenstelling hiermee kan ’n melk- of hoenderprodusent wat ’n gereelde maandelikse omset genereer, sy paaiemente maandeliks diens om sodoende saamgestelde rente te minimaliseer.
Tabel 4 gee ’n praktiese voorbeeld van die aankoop van ’n trekker (R4,2 miljoen gefinansier) en grond (R22,5 miljoen gefinansier) teen rente van 10,75%. Dit vergelyk opsie A (’n enkele jaarlikse paaiement) met opsie B (maandelikse rente betaal en jaarlikse kapitaaldelging). Die tabel toon ook hoeveel mielies (ton) nodig is om die paaiemente te diens teen ’n gegewe produkprys.
Op papier toon opsie B ’n rentebesparing oor die termyn (bv. ’n besparing van R2,87 miljoen op die grondlening). Hierin lê egter ’n groot slaggat verskuil: Finansiers is ten gunste van maandelikse rentebetalings omdat dit hul risiko verlaag. Indien die boerdery se lopende bankrekening egter reeds oortrokke is (byvoorbeeld met produksieskuld), gaan hierdie maandelikse renteverpligting bloot teen die oortrokke rekening gedebiteer word. Dit beteken die rente word gekapitaliseer (rente op rente), wat die teoretiese besparing heeltemal uitwis en beteken dat daar moontlik meer rente betaal sal word. Hierdie sal individu- en ooreenkoms-spesifiek wees en dit is belangrik dat die totale koste van krediet in elke ooreenkoms oorweeg en verstaan word.
Wanneer ’n boerdery termynlenings aangaan, moet die volgende slaggate proaktief bestuur word.
- Leningstermyn en inkomste: Belyn die termyn met die leeftyd van die bate (drie tot vyf jaar vir meganisasie en voertuie en tien jaar of meer vir grond). ’n Langer tydperk van finansiering sal die jaarlikse/maandelikse paaiement verlaag, maar meer rente sal betaal word op die aankope. Moenie instem tot maandelikse paaiemente as die boerdery slegs een keer per jaar ’n inkomste verdien nie.
- Rentekoersrisiko: ’n Wisselende (of prima-gekoppelde) rentekoers kan paaiemente verhoog sou die koerse verhoog, maar het ook die voordeel dat paaiemente sal afneem sou die koers verlaag. ’n Sensitiwiteitsanalise behoort gedoen te word by die bepaling van bekostigbaarheid. ’n Vaste koers sal voordelig wees in tye van stygende rentekoerse, maar word gewoonlik teen ’n premie aan leners toegestaan.
- Kontantvloeibeplanning: Boerdery is sensitief vir veranderlikes en veral inkomstes kan baie wisselvallig wees. Daarteenoor is paaiemente vaste verpligtinge wat op tyd gediens moet word. Reserwekapitaal moet dus beskikbaar wees in die geval van ’n kontantvloeikrisis.
- Sekuriteit: Roerende bates, soos trekkers, staan gewoonlik in vir hulle eie sekuriteit. Dikwels sal addisionele sekuriteit vereis word vir die finansiering van grond. Sou verpligtinge nie nagekom kan word nie weens swakker kontantvloei, word die risiko geloop dat die bate verkoop sal moet word om die koste te verhaal. Sekuriteit moet ook voldoende wees vir die finansiering van produksie- en bedryfskoste.
- Skuldblootstelling: Die boerdery se totale skuldblootstelling moet bepaal word. Dit is die totale skuld wat die boerdery moet dra (produksieskuld sowel as termynle-ningskuld). Hierdie skuld bereik gewoonlik ’n piek in ’n saaiboerdery wanneer alle oeste geplant is en daar gewag moet word vir die inkomste. Die totaal van hierdie skuld moet verkieslik nie 60 tot 70% van die totale batewaarde oorskry nie.
- Ballonbetalings: Alhoewel die sogenaamde “ballonbetaling” paaiemente kan verlaag en druk op kontantvloei verminder, moet dit sover as moontlik vermy word. Aan die einde van die tydperk moet die ballonbetaling betaal of herfinansier word.
- Fleksiekapitaal: Indien moontlik, veral op termynlenings soos grond, doen vooruitbetalings in voorspoedige tye. Maak net seker fondse kan wel onttrek word sou dit nodig wees. Finansier ook eerder die produk van die begin af, dit kan altyd vroeër afbetaal word. Produsente moet hulself net vergewis van moontlike boeteklousules wat in werking kan tree sou vroeër betalings en/of onttrekkings plaasvind.
Finansiële volhoubaarheid in die moderne landbou-era gaan nie meer bloot oor hoe hoog opbrengste per hektaar is nie, maar ook oor hoe slim ’n produsent se skuld ooreenstem met sy produksiesiklus.
Die E-Buro-data bewys dat eksterne skokke – van hittegolwe tot swakker graankwaliteit – onvermydelik is. ’n Boerdery moet weet wat sy kritieke skuldlas is, sy skuld volgens sy spesifieke lewensiklusfase struktureer en termynskuld reg finansier. Voor die volgende huurkoop- of grondlening aangegaan word, moet ’n volledige kontantvloeibeplanning gedoen word. Ontleed die boerdery se meganisasieplan en maak seker die regte aankope word gedoen. Vra die vraag: Pas hierdie paaiement in by die kontantvloei en sal alle verpligtinge steeds nagekom kan word sou daar enige finansiële druk ontstaan?
Finansiering moet die boerdery ondersteun om volhoubaar en winsgewend te groei en nie net te oorleef nie.



























