Hou dié geleenthede dop vir uitvoere na Afrika

Gepubliseer: 6 Junie 2022

1653
Heleen Viljoen, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA heleen@grainsa.co.za

11/05/2022

Wat voedselsekerheid betref, het beide wit- en geelmielies ontsaglike waarde, veral vir Afrika. Tradisioneel is witmielies minder populêr in internasionale markte, maar dit word vinnig opgekoop deur Suid-Afrika se buurlande in Afrika suid van die Sahara.

Die rede hiervoor is dat lande in Afrika ’n kleurvoorkeur vir witmielies het, wat hoofsaaklik ingevoer word vir menslike verbruik. Dit is belangrik vir Suid-Afrika om hierdie lande dop te hou omdat 83% van plaaslike witmielies op ’n vyfjaargemiddeld daarheen uitgevoer is. Die balans tussen die in- en uitvoer van hierdie lande is hoogs afhanklik van hul plaaslike produksie, wat uiteindelik hul vraag na mielies bepaal. Histories word Suid-Afrika, Zambië en Tanzanië beskou as die belangrikste uitvoerlande en Kenia, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana en Namibië as invoerlande.

Figuur 1 dui die gemiddelde witmielie-invoere deur lande in Afrika suid van die Sahara aan. Botswana het gemiddeld oor die laaste vyf jaar meer as 25% van totale witmielie-uitvoere opgemaak. As dit by witmielie-uitvoere kom, is Tanzanië en Zambië Suid-Afrika se grootste kompetisie. Voorspellings vir die 2022/2023-bemarkingseisoen toon dat hierdie lande moontlik minder gaan produseer en dus minder voorraad beskikbaar gaan hê om uit te voer, terwyl die voorspellings vir die hoofinvoerlande dui op ’n groter afhanklikheid vir invoere. Dit kan lei tot ’n hoër vraag na Suid-Afrikaanse mielies.

Figuur 1: Vyfjaar- gemiddelde uitvoere van witmielies na Suid-Afrika se buurlande.
Bron: SAGIS; Afrika-ontwikkelingsbank

Hoe lyk dinge daar buite?
Botswana
Produsente in Botswana begin normaalweg in middel November tot einde Januarie hul mielie-oes plant. Die land se ministerie van landbou-ont­wikkeling en voedselsekerheid het aangedui dat die 2021/2022-mielie-oes aansienlike skade gelei het as gevolg van uitermatig droë produk­sie­toestande. Gedurende Januarie tot Maart het produsente hittegolwe en droë toestande ervaar, met die laaste goeie reënbuie wat in November/Desember van 2021 geval het. Volgens die Internasio­nale Graanraad (IGC) se voorspelling, gaan Botswana ’n afname in aangeplante area, produksie sowel as opbrengs ervaar vir die 2022/2023-bemarkingsjaar. As hierdie tendens realiseer, sal Botswana se vraag na invoer verhoog, wat ’n geleentheid sal bied vir Suid-Afrika se witmielie-uitvoere.

Namibië
Namibië is hoofsaaklik ’n mie­lieproduserende land. Hulle het ’n belowende seisoen gehad in 2020/2021 asook in 2021/2022, maar volgens die IGC toon die vooruitsigte vir die 2022/2023-produksiejaar ’n afwaartse neiging. Namibië is die afgelope vyf jaar een van die grootste invoerders van Suid-Afrikaanse witmielies. Wanneer dit kom by Namibiese invoere, is Zambië die grootste kompetisie. In die laaste paar jaar was daar groot pogings van beide Zambië en Namibië om pad- en spoorinfrastruktuur te verbeter. Invoere tussen Zambië en Namibië moet dopgehou word.

Zimbabwe
Mielieproduksie in Zimbabwe was die laaste paar jaar nie konse­kwent nie. Mielieprodusente in die land word teruggehou deur verskeie faktore, insluitend tekorte aan kapitaal en besproeiingskemas; lae vlakke van meganisasie en swak tegnologie asook die regering se monetêre, fiskale en landboubeleide. Dit alles bemoeilik produksie. Zimbabwe was gedurende die 2020/2021-bemarkingsjaar die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse witmielies, maar die prentjie het weer in die opvolgende seisoen verander.

Zimbabwiese witmielie-invoere het in die 2021/2022-bemar­kingsjaar geval vanaf 370 942 ton (in 2020/2021) na 4 616 ton (in 2021/2022). Die rede hiervoor is dat hul regering hulp aan produsente gebied het vir insetaankope, asook optimale reënvalpatrone wat voorgekom het. As gekyk word na die IGC se vooruitsigte vir die 2022/2023-bemarkingsjaar, lyk Zimbabwe se opbrengs en produksie weer baie laer in vergelyking met die vorige seisoen (dit is gerap­porteer om met 43% te val). Dit kan bydra tot ’n verhoogde vraag na witmielie-invoere vanaf Suid-Afrika.

Kenia
Kenia sit met ’n potensiële probleem. Gedurende die 2021/2022-­bemarkingsjaar was Kenia die grootste invoerder van mielies binne die Afrika-streek suid van die Sahara. Dieselfde situasie word voorspel vir die 2022/2023-bemarkingsjaar, maar ongelukkig het Kenia ’n langstaande verbod op geneties gemodifiseerde (GM-)mielies. Hierdie verbod kan moontlik hul voedselse­kerheid bedreig. Kenia voer hoofsaaklik mielies in vanaf Zambië en Tanzanië, maar met die vooruitsigte vir die 2022/2023-bemar­kingsjaar wat minder belowende oeste vir beide hierdie lande verwag, kan Kenia na nuwe geleenthede soek. In die verlede het Suid-Afrika al in ’n klein mate mielies na Kenia uitgevoer, maar die verbod op GM-mielies is ’n reuse­struikelblok. Die grootste gedeelte van Suid-Afrika se mielie-oes word deur GM-mielies uitgemaak.

Mosambiek
Hoofsaaklik mielies word in dié land geproduseer. Vir die 2021/2022-bemarkingsjaar het Mosambiek 2,1 miljoen ton mie­lies produseer, maar hulle was steeds afhanklik van invoere om die plaaslike vraag te bevredig. Mosambiek se mielie-invoere het sedert die 2020/2021-bemarkingsjaar skerp toegeneem. Hierdie toename word gekoppel aan ’n skerp afname in aangeplante hektare vir mielies sedert 2020. Die IGC voorspel dat Mosambiek se 2022/2023-bemarkingsjaar gekenmerk sal word deur laer opbrengs, produksie en aan­geplante area. Dit kan tot gevolg hê dat Mosambiek meer afhanklik gaan wees van invoere om hul plaaslike vraag te bevredig.

Wat beteken dit vir Suid-Afrika?
Suid-Afrika se graanmarkte funksioneer in ’n vryemarkeko­nomie. Dit beteken dus dat markkragte, tesame met vraag en aanbod, pryse bepaal. Wanneer vraag en aanbod oorweeg word, word invoere – en veral vir mielies, uitvoere – as bepa­lende faktore beskou. Volgens die IGC se voorspellings blyk dit of Tanzanië en Zambië, wat beide groot mielieproduserende lande is, minder gaan produseer vir die 2022/2023-bemar­kingsjaar. Die mark in Afrika suid van die Sahara se dinamika moet deur Suid-Afrika dopgehou word om sodoende moontlike geleenthede te identifiseer. As die voorspellings vir ’n afname in produksie realiseer, sal die streek ’n hoër vraag na mielies hê wat positief behoort te wees vir Suid-Afrikaanse mielie-uitvoere.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.