Wes-Kaap: Gemiddelde produsenteprys vir insette bepaal

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

320
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA

Lerato Ramafoko,
landbou-ekonoom
intern, Graan SA

Soos in enige ander besigheid is dit belangrik dat produsente voortdurend hul produksiebegrotings monitor. Die 2023/2024-produksieseisoen het in April-maand afgeskop ná maande van uiterste pryswisselvalligheid in die landbouchemiese voorsieningsketting.

Herstel van die Covid 19-pandemie, gevolg deur die konflik tussen Rusland en die Oekraïne, het produsente finansieel belas en voorsieningskettings geweldig ontwrig. Verhoogde markdeursigtigheid sal produsente bemagtig om goed ingeligte aankoop­besluite te neem wat die opbrengs op belegging maksimeer vir elke rand wat aan insette bestee word.

Graanprodusente in die Wes-Kaap het deelgeneem aan ’n opname wat plaaslike insetpryse (produsentepryse) in vier verskillende areas vergelyk. Die resultate was as volg:

Pryse van landbouchemikalieë
Landbouchemikalieë speel ’n belangrike rol in gewasbeskerming en sodoende opbrengsontwikkeling. Grafiek 1 toon die pryse wat deur deelnemende produsente in die Wes-Kaap betaal is vir Sakura. Die Wes-Kaapse gemiddelde produsenteprys betaal vir Sakura in die 2022/2023-produksieseisoen was R6 521,92 /kg.

Grafiek 1: Produsenteprys betaal vir Sakura in die Wes-Kaap vir 2023.
Bron: Graan SA

Sakura is ’n uiters gewilde produk onder die Wes-Kaapse produsente. Grafiek 1 toon die produsen­teprys betaal oor al die terugvoerareas. Dit is opvallend hoe wisselvallig die pryse is wat produsente vir die produk betaal het. In Area 1 het produsente ’n gemiddelde prys van R6 357/kg betaal tussen die maande Maart en Mei; Area 2 het ’n gemiddelde prys van R6 463/kg betaal; Area 3 het R6 701/kg betaal en Area 4 het R6 661/kg vir Sakura betaal.

Triflurex 480 EC is ook ’n baie gewilde produk wat wydverspreid in die Wes-Kaap gebruik word. Figuur 1 toon die gemiddelde produsentepryse betaal per area. Oor die algemeen was Triflurex 480 EC-pryse laer as die gemiddeld in die Wes-Kaap. Produsente in Area 2, wat streke van Ceres tot Durbanville insluit, het meer as die Wes-Kaapse gemiddeld betaal.

Ander landbouchemiese produkte wat ook wydverspreid in die Wes-Kaap gebruik word, sluit in Select 120 EC; 2,4D Amine; Round-up Powermax en Round-up 480. Gedetailleerde verslae hieroor is direk aan deelnemers gestuur.

Figuur 1: Produsenteprys betaal vir Triflurex EC in die Wes-Kaap vir 2023.
Bron: Graan SA

Kunsmis
Kunsmis maak tussen 30% en 50% van ’n graan- en oliesadeprodu­sent se bestaande insetkoste uit. Aangesien kunsmis ’n aansienlike deel van insetuitgawes uitmaak, kan enige verandering – veral ’n styging in prys – ’n beduidende impak op ’n produsent se winsgewendheid hê. Grafiek 2 toon ureumpryse wat deur deelnemende produsente in die Wes-Kaap betaal is in die 2022/2023-produksiejaar. Dit is ver­blydend om waar te neem dat die algemene prys betaal vir kunsmis sedert die vorige seisoen met amper R6 120/ton (42%) gedaal het.

Dit is somtyds moeilik om die variasies in produsentepryse vir kuns­mis betaal te evalueer. Variasie word meegebring deur die rand/dollar-wisselkoers; Brent-ruoliepryse asook die maand van aankope.

Grafiek 2: Produsenteprys betaal vir ureum in die Wes-Kaap vir 2023.
Bron: Graan SA

Samevatting
Suid-Afrika se produsente het verlede jaar swaar getrek as gevolg van hoë internasionale insetpryse. As die fokus op die plaaslike Wes-Kaapse mark geplaas word, word daar prysvariasies per streek opgetel.

Graan SA wil graag die produsente bedank wat wel aan die opname deelgeneem het en dié wat nie het nie aanmoedig om deel te neem. Dit is belangrik om deursigtigheid in die mark te bewerkstellig om sodoende winsgewendheid te bevorder.