Hoe vinnig bereik graan die silo’s?

Gepubliseer: 4 Maart 2024

412
Johan Teessen, landbou-ekonoom-intern, Graan SA

Die tempo waarteen produsente hul graan aan silo’s lewer, staan bekend as die leweringstempo en is inligting wat vir verskeie rolspelers in die bedryf van belang is. Vir produsente en graanverhandelaars gee dit ’n aanduiding van hoeveel aanbod daar in die mark is en hoeveel graan daar moontlik nog gelewer kan word, wat alles ’n invloed op die prys van die kommoditeit sal hê.

Silo-eienaars en meulenaars kry ’n aanduiding van hoeveel graan hulle in ’n spesifieke tydperk kan verwag en kan min of meer bepaal hoeveel graan daar nog is wat gelewer moet word. Uitvoerders gebruik hierdie inligting om te bepaal wanneer graan beskikbaar sal wees vir uitvoer. In hierdie artikel word mielies, sojabone, sonneblom en koring se gemiddelde leweringstempo oor die afgelope vyf jaar bespreek en voorgestel deur middel van grafieke.

Mielies
Die gemiddelde mielieprodusentelewerings (wit en geel gekombineerd) oor vyf jaar vanaf 2019/2020 tot 2023/2024 word in Grafiek 1 voorgestel. Vanaf die eer­ste week in Mei, soos die strooptydperk aanbreek, begin produsente mielies lewer. Dis opmerklik dat die tempo van mielies gelewer per week baie vinnig meer word totdat die meeste mielies in die vierde week van Junie gelewer word. Vervolgens begin die volu­mes stelselmatig afneem tot in die tweede week van September en van daar af tot in die vierde week van April in die volgende jaar is die volumes gelewer per week baie min.

Grafiek 2 dui aan watter persentasie van die oes teen watter tyd gelewer word. Die oes gelewer word met die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se syfers vergelyk. Soos vroeër genoem begin lewering in die eerste week van Mei en is 27,9% van die oes gelewer teen die derde week van Junie. 49,6% is gelewer teen die tweede week van Julie, 76,8% teen die tweede week van Augustus en 87,8% teen die laaste week van September. Van die eerste week in Oktober tot die laaste week in April die volgende jaar word die ander 12,2% gelewer.

Sojabone
Grafiek 3 toon die gemiddelde sojaboonprodusentelewerings oor vyf jaar vanaf 2019/2020 tot 2023/2024. In die eerste week van Maart begin die lewerings, maar die tempo van lewering verhoog eers werklik in die eerste week van April. Die hoogste lewering word bereik in die laaste week van April. April het dus die vinnigste lewe­ringstempo. Die tempo raak daarna stadiger tot die derde week van Junie. Van daar tot die laaste week van Februarie word daar baie min volumes gelewer.

In Grafiek 4 kan die persentasie van sojaboonlewering gesien word. Die oes gelewer word met die NOK se syfers vergelyk. 29% van die oes word gelewer teen die laaste week van April. 54% word teen die eerste week van Mei gelewer, 75% teen die derde week van Mei en 94% teen die laaste week van Junie. Vanaf die eerste week in Julie tot die laaste week in Februarie die volgende jaar word die ander 6% gelewer.

Sonneblom
Die gemiddelde sonneblomprodusentelewerings oor vyf jaar vanaf 2019/2020 tot 2023/2024 word in Grafiek 5 aangedui. Soortgelyk aan sojabone begin die sonneblomlewerings ook in die eerste week van Maart. Die tempo van lewering word stadig maar seker meer tot in die vierde week van Mei waar die lewering ’n hoogtepunt bereik. Van daar af neem dit stadig maar seker af tot die eerste week
van Augustus. Vir die res van die seisoen tot die laaste week van Februarie in die volgende jaar bly die tempo van lewering redelik stabiel, maar wel in lae volumes.

Grafiek 6 stel die gemiddelde persentasie van die sonneblomoes wat gelewer word teen sekere periodes voor. Soos vroeër genoem, gaan die tempo van sonneblomlewering geleidelik op en af. In die laaste week van April word die punt waar 23% van die oes gelewer is gewoonlik bereik, met 50% teen die vierde week van Mei, 77% teen die laaste week van Junie en 97% in die laaste week van Julie. Die ander 3% word dan oor ’n tydperk van ses maande gelewer tot die seisoen eindig in Februarie die volgende jaar.

Koring
Die gemiddelde koringprodusentelewering oor vyf jaar vanaf 2019/2020 tot 2023/2024 word in Grafiek 7 voorgestel. Die eerste koringlewerings begin al teen die eerste week van Oktober. Die leweringstempo neem dadelik toe tot waar ’n hoogtepunt teen die eerste week van Desember bereik word. Daarna begin die tempo weer afneem tot die derde week van Februarie. Vandaar bly die tempo dieselfde, maar is daar drie kortstondige toenames wat voorkom in die eerste week van Februarie, in die eerste week van Maart en daarna weer in die laaste week van Maart.

In Grafiek 8 kan die skielike toename in die leweringstempo waargeneem word. 20,1% van die oes word gewoonlik teen die tweede week van November bereik, 43,6% in die laaste week van November, 74,2% in die derde week van Desember en 87,7% teen die tweede week van Februarie. Die ander 12,3% word dan oor die volgende sewe maande gelewer tot die seisoen tot ’n einde kom in die laaste week van September.

Grafiek 1: Gemiddelde mielieprodusentelewerings (wit en geel gekombineerd).
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 2: Gemiddelde persentasie mielies gelewer.
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 3: Gemiddelde sojaboonprodusentelewerings.
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 4: Gemiddelde persentasie sojaboonlewerings.
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 5: Gemiddelde sonneblomprodusentelewerings.
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 6: Gemiddelde persentasie sonneblomlewerings.
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 7: Gemiddelde koringprodusentelewerings.
Bron: SAGIS, NOK
Grafiek 8: Gemiddelde persentasie koringlewerings.
Bron: SAGIS, NOK