Koring op koers vir ’n goeie oes

Gepubliseer: 10 Augustus 2021

1112
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

07/07/2021

Die plaaslike wintergraanseisoen is goed aan die gang en tans lyk produksie-omstandighede – veral in die Wes-Kaap – belowend. Goeie, wydverspreide reën het oor die produksiegebiede voorgekom en aanplantings kon goed plaasvind, ten spyte van oornat toestande aanvanklik.

Alhoewel die omstandighede vir wintergraanproduksie belowend lyk, is dit nog redelik vroeg in die seisoen – heelwat water moet nog in die see loop. Die heersende toestande skep egter hoop vir ’n goeie seisoen wat voorlê. Met die nuwe produksieseisoen aan die gang, is dit noodsaaklik om markomstandighede te ontleed om ’n goeie oorsig te kry van wat verwag word betreffende prysbewegings vir die res van die seisoen.

Internasionale oorsig
Suid-Afrika is ’n netto invoerder van koring en dus speel die internasio­nale koringmark ’n belangrike rol in prysvorming op die plaaslike mark. In die internasionale konteks was koringpryse die afgelope jaar meestal in ’n opwaartse tendens vir die meerderheid van die groot uitvoerbestemmings. Die wêreldkoringmark het grootliks die pryse van ander grane en oliesade gevolg met die vraag na laasgenoemde wat gedurende die 2020/2021-seisoen ’n goeie toename getoon het.

Een van die grootste aspekte wat ’n toename in die wêreldvraag veroorsaak het, was die vraag na invoere in China. Alhoewel pryse die afgelope jaar goed ondersteun is, is die tendens van internasionale pryse tans weer afwaarts met die nuwe seisoen se koring wat in die markte kom. In Rusland, een van die grootste koringuitvoerlande, is die stroopproses aan die gang en rekordopbrengste word tot dusver gerapporteer. Die Oekraïne verwag ook ’n rekordkoring­oes gedurende die 2021/2022-seisoen, wat gunstig sal wees vir hulle koring­uitvoere.

Grafiek 1 toon die wêreldkoringproduksie, -verbruik, -eindvoorraad asook -eindvoorraad as persentasie van die wêreldverbruik. Dit is duidelik uit die grafiek dat die wêreldkoringproduksie steeds die verbruik oorskry. Die wêreldvoorraad neem dus toe en dit plaas internasionale pryse onder druk. Die eindvoorraad as persentasie van die verbruik staan tans op 38%. Dit is ’n hoë voorraad-tot-verbruik-verhouding. Gegewe die goeie verwagte koringproduksie in die nuwe seisoen in die grootste produserende en uitvoerlande, is die verwagting dat internasionale koringpryse vir die res van die seisoen redelik onder druk sal wees.

Grafiek 1: Wêreldkoringproduksie, -verbruik, -eindvoorraad en eindvoorraad as persentasie van verbruik.
Bron: Amerikaanse Departement van Landbou

Plaaslike mark
Die plaaslike koringmark het in die 2020/2021-seisoen ’n besonder goeie produksiejaar beleef, met die grootste produksie sedert 2008/2009. Die 2020/2021-seisoen se totale produksie van 2,109 miljoen ton is opgelewer deur die hoogste opbrengs (4,14 t/ha) wat nog in Suid-Afrika gerapporteer is. Nuweseisoenaanplantings is goed aan die gang en die vooruitsigte lyk positief. Die plaaslike verbruik van koring het sedert die ontstaan van die vrye mark goeie groei getoon en het in hierdie tydperk ongeveer 43% gegroei.

Grafiek 2 toon die twaalfmaande- skuiwende gemiddeld van plaaslike koringverbruik sedert die 1999/2000-seisoen asook die jaar-op-jaar persentasiegroei. Dit is duidelik uit die grafiek dat die koringverbruik tussen die 2015/2016- en die 2018/2019-seisoen gemiddeld ongeveer 1% jaar op jaar gegroei het, terwyl dit gedurende die 2020/2021-seisoen onge­veer 6% jaar op jaar gegroei het.

Grafiek 2: Twaalfmaande- skuiwende gemiddeld van binnelandse koringverwerking en persentasie jaar-op-jaar groei.
Bron: SAGIS

Prysverwagtinge
Soos reeds genoem, speel die internasionale mark en wêreldpryse ’n groot rol in die bepaling van plaaslike pryse. Die internasionale mark het die afgelope tyd goeie ondersteuning gevind en die pryse was in ’n opwaartse tendens (Grafiek 3). Plaaslike koringproduksie vir die seisoen was goed en plaaslike pryse het sedert Augustus 2020 verder weg van die invoerpariteitspryse af verhandel met die goeie plaaslike oes wat behaal is.

Grafiek 3: Plaaslike koringprys teenoor die Amerikaanse en Duitse invoerpariteitspryse.
Bron: Graan SA

Die internasionale mark het die afgelope tyd onder druk gekom en die tendens van die internasionale pryse is tans weer meestal afwaarts. Die plaaslike koringmark verhandel tussen invoerpariteit van Amerikaanse en Duitse oorsprong.

Ten slotte
Alhoewel die plaaslike produksie-omstandighede van koring op die oomblik gunstig lyk, is dit nog redelik vroeg in die seisoen. Die res van die seisoen, veral September, moet ook nog gunstig wees vir ’n goeie oes om te realiseer. Die gunstige toestande wat tot dusver heers, is egter baie positief en dit bring goeie hoop vir die res van die seisoen. Plaaslike markpryse word grootliks gedryf deur die internasionale mark en dit is belangrik vir produsente om hierdie tendens in ag te neem wanneer hulle bemarkingsbesluite neem.

Met die nuwe seisoen se voorraad wat in die Noordelike Halfrond in die mark inkom en die goeie produksieverwagtinge in die grootste produserende en uitvoerlande, lyk dit op die oomblik of internasionale pryse redelik onder druk behoort te bly oor die volgende paar maande.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.