Danie-hulle wil elke dag beter boer as gister

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

123

Danie le Roux

Hulle wil elke dag beter as die vorige dag boer, sê Danie le Roux van Schweizer-Reneke, Noordwes. Danie boer vir PGL Boerdery van Pieter en PG van Zyl saam met COFCO International op die plaas Kleindoorns. Die boerdery het die rekordboeke herskryf met ’n mielie-opbrengs van 13,79 t/ha in die Groei vir Goud-kompetisie.

Die opbrengs op die 2 ha wat ingeskryf is, was ook ’n rekord op die plaas. Die vorige jaar was daar sojabone op dié land geplant, wat gehelp het met goeie stikstof in die grond. Die gemiddeld vir die kultivar oor die land waar die proef gestroop is, was 9,5 t/ha. Sowat 70% van die hektare op die plaas is met die wenkultivar, DKC 75-65BR, geplant.

Koste per ton vir die ingeskrewe hektare was R471,20 en volgens Danie is dit in ooreenstemming met die koste van die res van die plaas asook die omgewing. Dié koste sluit slegs die direkte insetkoste soos kalk, onkruid- en insekbeheer, kunsmis, saad en diesel in. Die duurste komponent was die kunsmis.

“Die beheer en bestuur van koste asook prysstrategie bepaal of ’n mens gaan wins maak of nie. Ons prysstrategie is gebaseer op die tyd wanneer en die prys waarteen ons die graan bemark,” sê Danie.

Danie se twee mentors, PG en Pieter van Zyl.

Klimaat is die grootste uitdaging wat hulle moet bestuur. “Reën – veral die verspreiding van reën oor die seisoen – bepaal gewoonlik of ons ’n rekord- of ’n misoes gaan hê. Tydsbeplanning is dus deurslaggewend. Indien dit reën, moet ons gereed wees om alles op die regte tyd te doen. Deeglike voorafbeplanning verseker in ’n mate dat ons aan die einde van die seisoen ’n optimale oes kan stroop.”

PGL Boerdery pas al vir 21 jaar presisieboerdery toe. Al die grond is geklassifiseer om elke hektaar se potensiaal te bepaal. Grondmons­ters word jaarliks op 25% van die hektare in ’n rotasiesisteem geneem en dit word saam met die stroperdata gebruik om die bemestingsprogram uit te werk. So verseker hulle dat die grond nie uitgeput raak en verarm nie.

Met ’n kunsmisstrooier word 40% van die stikstof breedwerpig uitgestrooi. ’n Orthman-kunsmistoediener word gebruik om ’n mengsel van stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) 150 mm onder die grond op die ry toe te dien. Die res van die NPK word as ’n mengsel saam met plant deur die planter toegedien.

Proewe is vir hulle uiters belangrik. “Eie proewe is belangrik omdat kultivars, bemesting, chemie en bewerkingsmetodes wat by jou buurman werk, nie noodwendig op jou plaas en in jou boerderyopset gaan werk nie. Saadmaatskappye se proewe gee ’n holistiese blik op die potensiaal en gee ’n kykie na nuwe genetika in die pyplyn.”

Minimumbewerking word toegepas met ’n rybewerking so diep as wat die grond dit toelaat. Onkruidbeheer kry baie aandag in die boerdery. “Skoon lande is vir ons een van die belangrikste aspekte in ons boerdery. Daar moet niks anders op die lande groei as mielies nie. Onkruid is kompetisie vir die mielieplant wat ’n afname in opbrengs gee.”

Voor plant spuit hulle glifosaat asook kletodim om opslagmielies te beheer. Met plant spuit hulle 25% van die chemiese onkruidbeheer bestaande uit terbutilasien, mesotrioon en S-metolakloor direk agter die planter. Die oorblywende 75% van die beheer word ses weke na plant oor die mielies toegedien. Sodra die mielies fisiologies ryp is, spuit hulle weer glifosaat om winteronkruide te beheer.

Danie meen sy twee mentors, Pieter en PG van Zyl, beteken vir hom ongelooflik baie en dat hy moeilik sonder hulle raad en ondersteuning sou kon boer. Hy glo ook dat ’n mens baie by medeprodusente en bure kan leer.

“As jy ’n liefde en passie het vir dit wat jy doen, sal jy ’n sukses maak. Gee altyd 110%. Sit al jou energie in die boerdery en die res sal van Bo af voorsien word. Werk hard en moet nie huiwer om soms kanse te vat nie. Bly positief, maak nie saak hoe moeilik die omstandighede lyk nie. Baklei teen die uitdagings en moenie huiwer om by jou buurman raad te vra nie.”