Hy leef sy passie vir landbou ten volle uit

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

1218

Johann Pistorius

Johann Pistorius boer in die Val-omgewing en bedryf ’n geïntegreerde gemengde boerdery. Landbou is sy passie en hy baseer sy boerdery op die geïntegreerde bestuur van sy grond, die omgewing, diere en plante. Sy filosofie is om eerder saam met die natuur as teen die natuur te boer.

Hy het koning gekraai in die afdeling vir droëlandmie­lies in die oostelike Hoëveld in die Groei vir Goud-kompetisie met ’n opbrengs van 15,26 t/ha met die Pannar-kultivar, PAN 3A-124.

Behoorlike bestuurs- en finansiële rekordhouding is volgens Johann ononderhandelbaar. Rekordhouding vorm die basis van alle besluitneming – as dit op datum, volledig en korrek is, kan ’n mens maklik tendense optel en bestuur en ook onnodige risiko’s vermy. Hierdie noukeurige rekordhouding maak dit moontlik om sy opbrengs te meet aan die beskikbare vog – hy kon dus aandui dat hy 25 kg graan/mm reën op die wenland gestroop het.

Johann bestuur sy risiko’s deur baie aandag te gee aan grondvrugbaarheid en vogbewaring. Hy gebruik ook die nuutste beskikbare tegnologie, wat hom in staat stel om effektief te boer en sy produktiwiteit op te stoot terwyl hy steeds sy hulpbronne
ver­antwoordelik benut. Sy hele boerdery berus op presisieboerdery­beginsels.

Johann Pistorius, wenner in die kategorie vir droëlandmielies in die oostelike Hoëveld, saam met sy gesin.

Hy beskik oor meer as 15 jaar se verwerkte stroopdata, wat hy gebruik wanneer hy voorberei vir die volgende jaar se plantseisoen. Hy pas sy plantestand en bemesting variërend binne die lande toe volgens sy stroperdata.

Johann is ’n voorstander van minimumbewerking: “In my ervaring word die meeste vog hierdeur bewaar.” Oesreste wat in verminderde bewerking op die bogrond teenwoordig is, bied nie net weerstand teen wind- en watererosie nie, maar bou ook mettertyd die organiese materiaal in die boonste grondlaag op en help met beter grondstruktuur, voginfiltrasietempo asook grond­vogbewaring.

Onkruidbeheer is verder van kardinale belang. Goeie kennis van onkruiddoders is dus baie belangrik asook die tydige toedie­­ning van korrekte kombinasies. Omdat hitte-eenhede ’n beper­kende faktor in sy omgewing is, het Johann sy stelsels so verfyn dat dit hom in staat stel om vroeg te plant en sodoende die optimum groeityd vir sy gewasse te verkry.

Johann sê: “Leef jou passie vir landbou ten volle uit. Landbou is ’n wonderlike wêreld binne ons deurmekaar wêreld.

“Pas ekonomiese beginsels in jou boerdery toe. Dit is ook raadsaam om nuwe idees eers op klein skaal te toets. As dit blyk dat die idee meriete inhou op ekonomiese asook bestuursvlak, kan ’n mens dit verder voer en implementeer. Toets die grense!

“Alles is net genade. Suid-Afrika het ongelooflike produsente met groot eksterne uitdagings. Ons kan alles so presies as moontlik probeer doen, maar op die ou einde moet dit genoeg reën op die regte tyd om goeie oeste af te haal.”

Johann bou sy boerdery op die basis van geloof en vertroue in sy Hemelse Vader. “Al probeer ek alle risiko’s so goed as moontlik bestuur en al spandeer ek baie tyd aan behoorlike beplanning, sal ek geen sukses behaal as die Here nie deel van my boerdery is nie en Hy ons nie seën met sy genade nie. Naas my Hemelse Vader is my gesin en familie alles. Hul ondersteuning en liefde hou my aan die gang en gemotiveerd. Die lewe is baie kort. Leef voluit, geniet jou passie vir boerdery as ’n Godgegewe beroep en ’n groot voorreg. Lekker boer!”