Broodkoring – nuwe kultivars vrygestel

Jolanda Nortjé, laboratoriumbestuurder, SAGL
Gepubliseer: 9 Desember

250

Die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse koringbedryf word deur ’n aantal faktore bepaal. Een hiervan is die beskikbaarheid van koringkultivars wat agronomies goed presteer en terselfdertyd voldoen aan die kwaliteitsvereistes van die graanbedryf ten opsigte van vermalings-, reologiese (deeg-) en bakeienskappe.

Aangesien reënval, klimaat, omgewingsinteraksies en bewerkingspraktyke alles ’n effek op graankwaliteit het, maak dit die gebruik van absolute kwaliteitswaardes vir vrystellingsdoeleindes onprakties. In die evalueringsproses van nuwe koringteellyne word kommersiële kultivars dus as biologiese kwaliteitstandaarde gebruik om as verwysingsraamwerk te dien waarteen die nuwe lyne geëvalueer kan word.

Kwaliteitstandaarde en -evaluasie
Kultivars wat tans as kwaliteitstandaarde dien, is Elands in die noordelike droëlandproduksiegebiede, SST 027 in die suidelike droëlandgebiede en SST 806 in die besproeiingsgebiede. Die proses om ’n plaasvervang­er vir SST 027 te identifiseer, is tans goed op dreef. Twee jaar se kwaliteitsresultate van potensiële nuwe standaarde is reeds beskikbaar. Sodra die 2020/2021-seisoen se resultate beskikbaar is, kan die besluit tydens die vergadering van die Koringforum se kultivar- en tegniese komitee, wat beplan word vir April 2021, gefinaliseer word.

Die kwaliteitsevaluasie, soos uiteengesit in die ontledingsprosedure, strek oor ’n minimum van twee jaar vir lyne bestem vir verbouing in die besproeiingsareas en ’n minimum van drie jaar vir lyne bestem vir die noordelike droëlandareas (somerreënval) en suidelike droëlandareas (winterreënval). Vroeëgenerasie-seleksies deur saadtelers, wat oor ’n aantal jare strek, loop hierdie kwaliteits­evaluasie vooruit.

Vir voorlopige vrystelling van ’n besproeiingsteellyn moet ’n jaar se kwaliteitsdata oor minstens vyf lokaliteite aan die kultivar- en tegniese komitee van die Koringforum voorgelê word. Vir finale vry­stelling is ’n minimum van twee jaar se data oor vyf lokaliteite per jaar nodig. Vir droëlandlyne in die noordelike en suidelike produksiegebiede word ’n minimum van twee jaar en drie jaar onderskeidelik oor vyf lokaliteite vereis.

Kwaliteitsontledings word deur die Suider-Afrikaanse Graan­la­boratorium NPC (SAGL) gedoen. ’n Projekaansoek vir die befondsing van die maal- en bakkwaliteitsontledings word jaarliks by die Wintergraantrust ingedien.

Die kwaliteitseienskappe wat geëvalueer word, wissel van koringeienskappe soos hektolitermassa, valgetal, meelekstraksie en proteïeninhoud tot meeleienskappe soos kleur, mixogram­piektyd, farinogramwaterabsorpsie, alveogramsterkte en P/L-waarde.

Kwaliteitsnorme vir evalueringsdoeleindes word in primêre (P) en sekondêre (S) norme verdeel. Die primêre norme is onon­derhandelbaar, terwyl daar in grensgevalle na die sekondêre norme verwys kan word. Die toelaatbare afwykings vir die kwaliteits­norme vanaf die biologiese standaard word in Tabel 1 aangetoon.

Notas:
*1 Valgetalwaardes moet 250 sekondes oorskry en mag nie meer as 15% laer as dié van die kwaliteitstandaard wees nie.
*2 Kleur word aangesuiwer na 76%-ekstraksie op die basis van 0,4 KJ-eenhede per 1%-ekstraksie. Byvoorbeeld, by ’n lyn met ’n ekstraksie van 77% sal 0,4 KJ van die lyn se kleurwaarde afgetrek word. Sou die lyn se ekstraksie 75% wees, sal 0,4 KJ by die lyn se kleurwaarde getel word.
*3 Broodvolume word geëvalueer teen die proteïenvlak van die lyn. Vir die aanpassing van die broodvolume van die lyn na dié van die standaard, word 40 cm3 per 1%-proteïenverskil gebruik. Byvoorbeeld, sou ’n lyn se proteïeninhoud 11,0% wees en die standaard se proteïeninhoud 12,0%, sal 40 cm3 by die lyn se broodvolume getel word. Indien die lyn se proteïeninhoud hoër as dié van die standaard is, sal 40 cm3 vir elke 1%-proteïenverskil van die lyn se broodvolume afgetrek word.
Graan SA fotokompetisie – Stephan Erasmus, 2020

Toegewing vir hoë-opbrengskultivars
Daar bestaan feitlik altyd ’n lineêre verband tussen proteïen­inhoud en bakkwaliteit en daarom word proteïeninhoud hoofsaaklik as maatstaf gebruik om koringkwaliteit te bepaal. Dit is egter ook so dat ’n negatiewe verband tussen opbrengs en proteïeninhoud bestaan. Hierdie negatiewe verband is ’n bepalende faktor wanneer dit by saadteling kom en voorkeur moes dikwels gegee word aan maal- en bakkwaliteit. Komplekse genetiese interaksies kompliseer die genetiese seleksie vir ’n spesifieke eienskap verder.

Tydens ’n spesiale vergadering van die tegniese navorsings­komitee van die Wintergraantrust gedurende Januarie 2016, is daar besluit dat die toelaatbare afwykings verslap kan word om die weg te baan vir die vrystelling van hoë-opbrengslyne. Hierdie toege­wing is egter slegs van krag indien die lyn onder bespreking ’n opbrengs van ten minste 5% hoër lewer as kommersiële kultivars wat tans in daardie area verbou word. Sien Tabel 2 vir die toelaatbare afwykings vanaf die biologiese standaard vir hoë-opbrengsteellyne.

Nota: Verwys na verduidelikende notas by Tabel 1.

Nuwe teellyne
Die evaluerings- en vrystellingstelsel van nuwe kultivars in Suid-Afrika was tot dusver baie geslaagd. Dit kan afgelei word uit die kwaliteit van nuwe kultivars wat die afgelope jare vir aanplanting deur produsente in die mark vrygestel is. Die afgelope drie jaar is elf lyne vir die besproeiingsgebiede vrygestel, drie lyne vir die suidelike droëlandproduksiegebiede en sewe lyne vir die noordelike droëlandproduksiegebiede (Tabel 3).

*Lyne is voorwaardelik goedgekeur vir finale vrystelling as broodkoringkultivars in die areas soos aangedui, gebaseer op die aanvaarding van die elektroforetiese resultate wanneer beskikbaar.

Tydens die kultivar- en tegniese komitee se vergadering in Mei 2020, is vyf lyne voorwaardelik vir finale vrystelling goedgekeur. Vanweë ’n oponthoud in laboratoriumanalises by die Universiteit van die Vrystaat as gevolg van die COVID-19-pandemie, kon die elektroforetiese suiwerheid van die lyne nog nie bevestig word nie. Geen probleme met die uiteindelike resultaat word egter voorsien nie en dit behoort slegs ’n formaliteit te wees.

Die dokument waarin die ontledingsprosedure en evaluasie­norme vir die vrystelling van broodkoringteellyne in Suid-Afrika beskryf word, kan besigtig word deur die volgende QR-kode te skandeer. Die Koringforum se kultivarlys is ook hier beskikbaar. Beide dié dokumente word jaarliks hersien.