Bestuursbesluite vir beter wins

Gepubliseer: 28 Oktober 2020

836
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Net soos droëlandprodusente het besproeiingsprodusente baie keuses om te maak. Daar is ’n baie groter keuse van gewasse wat verbou kan word en dit is vir seker nie so maklik om te besluit nie.

Besproeiingsprodusente het ook beperkings. Sommige produsente het dalk te min geld om te produseer, terwyl ander weer te min grond het. Dan is daar natuurlik die grootste beperking – die water wat beskikbaar is vir besproeiing. Produsente moet hul beperkende faktor optimeer om sodoende die winste van die onderneming te verhoog.

Die produsent moet besluit of hy die gewas met die hoogste bruto marge gaan plant; of hy die gewasse met die hoogste rendement gaan kies en of hy volgens verdienste per millimeter besproeiing gaan plant.

Hierdie besluit is nie so eenvoudig nie en produsente moet hul eie, korrekte berekeninge doen om die regte keuse te maak.

Louis Wilken, ’n voormalige Graanprodusent van die Jaar-finalis, boer saam met sy seuns op die plaas Juriesbaken by Middelburg in die Oos-Kaap onder die Oranje-Visskema. Hy verbou koring, mielies, uie, aartappels, lusern, pampoene en hawer in kombinasie onder besproeiing. Louis kyk baie noukeurig na die wins wat hy per millimeter water verdien om te besluit wat hy gaan verbou.

Omdat Louis glo water is die beperking in sy boerdery, doen hy moeite om dit so effektief en doeltreffend moontlik aan te wend en om soveel as moontlik wins per millimeter besproeiing te maak. Hy en sy seuns maak baie somme om te besluit watter gewasse verbou moet word en om seker te maak dat die volle waterkwota gedurende die seisoen gebruik word. Daar mag nie ’n druppel water vermors word nie – water kos geld, is baie skaars en gaan nog skaarser word.

Wisselbou bly belangrik en met die insluiting van meerjarige gewasse soos lusern raak die keuses nog taaier. Sodra meerjarige gewasse verbou word, raak die berekeninge moeiliker. Die markte speel ook dan ’n rol en die groot arbeidvraagstuk wat bestuur moet word, bring ’n nuwe dimensie in die boerdery. Wanneer besluit word wat om te plant, is dit belangrik om die volgende inligting per gewas bymekaar te kry:

  • Moontlike gewasse wat verbou kan word en wanneer hulle die grond sal okkupeer.
  • Realistiese opbrengs (t/ha).
  • Realistiese prys (R/ton).
  • Bruto inkomste (R/ha).
  • Realistiese insetkoste (R/ha) vir meerjarige gewasse wat die vestigingskoste insluit.
  • Marge per hektaar.
  • Watergebruik (mm/ha).
  • Wisselboubeperkings wat geld.
  • Kontantvloeibeperkings.

Uit hierdie inligting word die watergebruiksdoeltreffendheid (kg/mm water), waterproduktiwiteit (R/mm) en marge per millimeter (R/mm) bereken.

Met hierdie inligting is dit maklik om te besluit hoeveel van watter gewasse verbou moet word.

In Tabel 1 is ’n voorbeeld van hoe die berekeninge gedoen word. Aan die hand van hierdie berekeninge word die gewasse gekies asook die wisselbouprogram wat gevolg moet word.

Hierdie berekeninge is net een deel van die sukses van die boerdery. Die waterskedulering is van deurslaggewende belang. Daar word daagliks besluit hoeveel water toegedien moet word en daar word ten minste weekliks water bestel om seker te maak daar is water beskikbaar vir die besproeiing.

Die korrekte rekord van besproeiing word bygehou. “Dit help niks ons dink die gewas gebruik 400 mm en in werklikheid gebruik dit amper 800 mm nie,” sê Jaco, Louis se een seun wat saam met hom boer.

Jaco noem ook dat hy die kontantvloei mooi beplan om seker te maak daar is fondse beskikbaar om die verskillende gewasse te verbou. Hulle kyk na die koste en sal die gewassamestelling verander om binne die kontantvloei te pas.

Die data in Tabel 1 kan gebruik word om ’n paar eenvoudige scenario’s te skep. Aanvaar byvoorbeeld dat die produsent net 10 ha grond het, maar dat hy 5 000 mm water en onbeperkte kapitaal tot sy beskikking het. Hy mag egter nie meer as 5 ha van gewas 2 plant nie. Wat moet hy doen?

Uit die inligting in Tabel 2 is dit duidelik dat die meeste wins behaal sal word deur 5 ha van gewas 2 en 4,75 ha van gewas 1 te plant. Indien die produsent egter net 9 ha van die wintergewas sou plant, sou hy R194 431 wins gemaak het, wat R862 858 minder is as die beste kombinasie.

Die beginsel by ’n beperking is om te kyk waar die meeste met die beperking verdien kan word tot ’n volgende beperking ontstaan.

As kapitaal ook beperk raak, moet die berekeninge nog verder ontleed word. In Tabel 3 word ’n scenario voorgestel waar die boerdery 5 000 mm water beskikbaar het met 10 ha grond en R400 000 kapitaal, maar daar mag nie meer as 5 ha van gewas 2 verbou word nie.

Met hierdie scenario is dit duidelik dat daar nog minder lande geplant kan word, omdat die bedryfskapitaal beperkend raak. Die beperking maak die bruto wins nog laer. As die beperkings nie in aanmerking geneem word nie, sou die bruto marge R1 057 289 gewees het, maar nou is dit R480 621. As net ’n wintergewas geplant is, sou daar net 4,55 ha geplant kon word en sou die bruto marge net R194 431 gewees het. Om die beste keuses te maak, moet die produsent berekeninge doen.

Louis noem verder dat besproeiingsprodusente ’n verantwoordelikheid teenoor die land en sy hulpbronne het. “Besproeiingsprodusente moet seker maak dat hulle die beste besluite vir die water beskikbaar neem en besef dat hierdie besluite ook die gemeenskap en dorpe in die streke raak. As die water vandag sou wegval, sal daar definitief dorpe wees wat in spookdorpe verander en vele huishoudings sal groot teenspoed beleef.”

Volgens Louis is grondwater ’n hulpbron wat nie ligtelik bestuur moet word nie. As hierdie hulpbron opdroog, is dit vir altyd weg en produsente het ’n ekstra verantwoordelikheid om die beste met elke millimeter te doen.

Produsente wat enige hulp nodig het met hierdie besluite, kan hul landboubesigheid se landboudienste-afdeling of vir Pietman Botha by 082 759 2991 kontak.