Verander grond om droogte te kan verdra

Gepubliseer: 3 Augustus 2020

2142
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

“Get water in, keep the water in, get the water out.” Dit is die beginsel wat toegepas moet word om grond teen droogtes te beskerm, meen Dale Strickler, ’n besoeker aan die Ottosdal No-Till-klub en spreker by ’n boeresamekoms in Ottosdal.

Om water in die grond te kry, is die eerste stap om grond droogteverdraagsaam te maak en om waterafloop te beperk. Hoe minder die afloop, hoe meer water moet in die grond infiltreer. Bewerking en bedekking is die groot rolspelers wat afloop beïnvloed. Hoe hoër die bedekking en hoe minder die bewerking, hoe minder is die afloop en hoe hoër is die infiltrasie. In Foto 1 word die verskillende stelsels se afloop na 50 mm reën getoon. Die werk is met ’n reënvalsimulator gedoen.

Waterafloop na 50 mm se gesimuleerde reënval.

Dit is duidelik uit die demonstrasie dat hoe hoër die bedekking, hoe hoër die infiltrasie. Met lewendige plante op die perseel is die afloop baie min, maar die gronderosie is verreweg die minste. Plante hou die grond vas en beperk sodoende die erosie.

As die reënvalsimulator se grondpanne na die 50 mm-watertoediening omgedraai word, kom interessante feite na vore. In Foto 2 word die grondpanne van die grond met groeiende dekgewasse en bewerkte grond sonder bedekking getoon.

Die effek van grondbedekking op waterinfiltrasie.

Die verskille aan die onderkant is duidelik met die bewerkte grond wat nog droog is en die grond met dekgewasse wat sopnat is. Die algemene infiltrasie­spoed by die bewerkte grond is 50 mm/uur terwyl die infiltrasiespoed in ’n geenbewerkte land met goeie bedekking ongeveer 163 mm/uur is.

Naas groeiende plante is grondbedekking die volgende aspek wat waterinfiltrasie verhoog. In Tabel 1 word die effek van grondbedekking in die vorm van strooi op reënvalinfiltrasie getoon.

Uit hierdie inligting is dit duidelik dat goeie bedekking die waterinfiltrasie met tot 2,8 keer kan verhoog.

Lewende organismes soos wurms en ander organismes speel ook ’n betekenisvolle rol in die grond. Die gate en kanale wat hulle maak, is hoofweë waarmee water en suurstof in die grond kom. Hierdie organismes benodig ook beskerming. Goeie grondbedekking verseker dat daar heelwat meer wurms per vierkante meter is en hierdie organismes sal definitief help dat meer water die grond infiltreer.

Hou die water in die grond
Die volgende stap om die grond teen droogte te beskerm, is om grondvogverlies te beperk. Volgens Dale is daar twee hoofmaniere om die vog in die grond te stoor. Eerstens moet die verlies bo uit die grond beperk word en tweedens moet die vogverlies uit die profiel beperk word.

Grondbedekking is uiters belangrik, nie net vir infiltrasie nie, maar ook om verdamping te beperk. Met goeie bedekking word tot 125 mm minder vog verloor as op onbedekte grond.

In Foto 3 is die effek van goeie bedekking sigbaar. Hier kan die verskil in ’n sojaboonland mooi gesien word. Nie net beperk die grondbedekking die vogverdamping nie, maar dit keer die ontkieming van onkruide wat sodoende baie vog bewaar.

Die effek van grondbedekking op onkruiddruk en plantegroei.

Daar is min wat gedoen kan word om die vogverlies onder uit die profiel te beperk. Die natuur het egter ’n wonderlike manier om die vog te bewaar. Organiese materiaal in die grond is die beste manier om grondvog te bewaar. In Tabel 2 word die effek van die persentasie organiese materiaal op die hoeveelheid water in die profiel getoon.

Hieruit is dit duidelik dat hoe hoër die organiese materiaal in die grond, hoe meer water word gestoor. Die vraag is hoe om die organiese materiaal te bewaar en hoe om dit in die grond te kry.

Dit is algemene kennis dat bewerking van grond die organiese materiaal vernietig. Maak nie saak watter bewerking gedoen word nie, daar is ’n verlies aan organiese materiaal. Hoe meer aggressief die bewerking is, hoe meer organiese materiaal word afgebreek.

Die meeste organiese materiaal in die grond is afkomstig van wortels. Hoe meer en hoe dieper die wortels kan gaan, hoe beter is dit vir die grond. Volgens Dale is die plant van ’n kombinasie van dekgewasspesies die beste manier om die organiese materiaal in die grond te verhoog. Dit gaan alles oor die verskillende wortels wat saam geplant word. Party gewasse se wortels penetreer besonder diep, terwyl ander weer nie so diep ingaan nie. Deur dus ’n kombinasie van gewasse saam te plant, kan die hele grondprofiel met wortels gevul word.

Dekgewasse kan ook aangewend word om organiese materiaal op die grond te laat. Daar is verskeie gewasse wat geplant kan word en elkeen het sy eie voordele en nadele.

Kry die water uit die grond
Wortels is die enigste manier vir ’n plant om grondwater in groei om te sit. Hoe meer en hoe dieper die wortels kan penetreer, hoe beter is dit vir die plant. Wat kan gedoen word om die gewas se wortels so diep as moontlik in die grond te kry?

Gewasse se wortels groei daar waar die minste weerstand in die grond is. Opvolggewasse sal in baie gevalle die vorige gewasse se wortelkanale gebruik om vinnig in die grond af te groei. Die wortels benodig egter suurstof om te kan groei en hier help die ou wortels weer om suurstof in die grond te bring. Radyse is ’n voorbeeld van gewasse wat ’n groot ruimte in die grond laat waarin suurstof en water geberg kan word. Wortels help baie om grondstruktuur weer te herstel en dit kan taamlik vinnig gebeur.

Volgens Dale is dit besonder voordelig om ’n veekomponent met dekgewasse en die saaiboerdery te kombineer. Wanneer vee die weiding bewei, hersirkuleer dit heelwat voedingstowwe en verhoog dit die hele stelsel se volhoubaarheid. Met wortels in die grond kan die plante self die water uit die grond omsit in ’n bemarkbare produk – of dit nou graan of vleis is.

Dit is moontlik om grond so te verander dat daar van ’n misoes na ’n aanvaarbare oes beweeg kan word. Die verskil tussen Foto 4 en Foto 5 is net die pad met verskillende praktyke.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir enige navrae.

Droogtebeskadigde mielies.
Mielies met ’n aanvaarbare verwagte opbrengs.