Kies kultivars volgens grondtipes

Gepubliseer: 9 Julie 2020

2141
Willem Eigenhuis,
hooflandboukundige:
Grane, Agri Technovation
Marnus Ferreira,
grondkundige,
Agri Technovation

Dit is alombekend dat die produksiepotensiaal van ’n gewas deur grondtipe beïnvloed word, maar die verskillende genetiese eienskappe van kultivars speel natuurlik ook ’n belangrike rol in die produksie van grane – iets wat produsente al menigmaal ervaar het.

Agri Technovation maak gebruik van spesiale tegnieke om buitengewoon groot hoeveelhede data te verwerk, waar opbrengs met grondtipe gekontroleer word. Sodoende kan die opbrengspotensiaal van verskillende kultivars vir die verskillende tipes grondein verskillende areas (klimaatsones) bepaal word.

Analise van datapunte
Deur miljoene datapunte van grondklassifikasie en stroperkaarte noukeurig te analiseer (Figuur 1 en Figuur 2) kan ’n geskikte kultivar vir ’n spesifieke land of gebied geïdentifiseer word, wat op al die hektare van die plaas of area (of klimaatsone) gebaseer is.

Figuur 1: Die verwantskap (2 249 407 datapunte) tussen grondtipe en kultivar van ’n kommersiële aanplanting. Opbrengs wissel tussen 1,8 t/ha en 10,0 t/ha vir die verskillende kultivars.

Inligting oor die verwantskap tussen grondtipe en opbrengs maak dit moontlik om grondvariasie beter te bestuur met behulp van multikultivarplanters (multi-hybrid planters). Al het produsente miskien nie nou al toegang tot hierdie tipe planters nie, kan die onderskeie lande se toppresterende kultivars steeds geïdentifiseer word. Kultivarkeuse word gebaseer op grondtipe en klimaatsfaktore. As 70% van die land byvoorbeeld uit grondtipes bestaan waarop ’n bepaalde kultivar goed presteer, kan die algehele produksie van daardie land verhoog word deur die mees geskikte kultivar vir die grondtipe wat dominant voorkom, te kies.

Figuur 2: Die beste genetika (kultivar A op Katspruit-grondtipe) op 6,5% van totale data met 146 543 datapunte. Die variasie op kultivarvlak wissel tussen 2,3 t/ha en 9,2 t/ha op dieselfde grondtipe.

Tipiese inligting wat deur die analise van grondklassifikasie en stroperkaarte verkry kan word, sluit die volgende in:

  • Identifisering van ’n geskikte kultivar vir ’n bepaalde plaas of omgewing, wat grondtipe, gronddiepte en grondpotensiale in ag neem.
  • Kultivars wat die minste sensitief (stabiel) vir variasie in reënval is en die effek van die grondtipe daarop.
  • Die omgekeerde is natuurlik net so belangrik – kultivars wat die swakste vaar en die sensitiefste is vir variasie in reënval per grondtipe.

Grondklassifikasie en toepassing
Grondklassifikasie is die sistematiese bepaling van grondtipes gebaseer op grond- fisiese eienskappe. Dit word dan deur kundiges geïnterpreteer om die volgende inligting te onttrek:

  • Grondpotensiaal. Die potensiaal van die grond vir die verbouing van spesifieke gewasse met inagneming van faktore soos die gebied, besproeiing en langtermyn- gemiddelde reënval.
  • Plantbeskikbare waterkapasiteit (PBWK). Die hoeveelheid water in millimeter wat beskikbaar is vir die plant tussen veldwaterkapasiteit en die permanente verwelkingspunt per effektiewe wortel­diepte.
  • Bewerkingsdiepte en -metode. Bepaling van die ideale diepte en metode van bewerking vir ’n spesifieke gewas in ’n spesifieke grondsoort.
  • Grondbeperkende lae. Die identifisering van beperkings, soos onder meer natheid, klippersentasie asook karbonaat- en verdigtingslae. Die verskillende beperkings kan elk die plant se wortelontwikkeling beïnvloed, wat weer ’n invloed het op die plant se opbrengs.
  • Risikobestuur. Dit is voor die hand liggend dat grondklassifikasie met al sy verskillende aspekte ’n impak op risikobestuur kan hê. Veral droëlandprodusente moet deurlopend besluite neem rakende verskillende aspekte soos plantdigtheid en bemesting teenoor die waterhouvermoë en potensiaal van die grondsoort. Hierdie besluite het ’n groot invloed op die winsgewendheid en volhoubaarheid van die produsent.

Dit is duidelik waarom grondklassifikasie die eerste stap in gewasproduksie behoort te wees. Wanneer ’n produsent ’n duidelike prentjie het van die tipe grond waarmee gewerk word, kan goed ingeligte besluite geneem word oor gewastipes, plantdigtheid, genetika, bemesting, besproeiingsuitleg, besproeiingskedulering, dreinering, verteenwoordigende grondvogmetingsposisies/inspek­siepunte en grondvoorbereiding.

Grondklassifikasie kan dus vir baie jare voordelig vir die hele boerdery wees.

Kultivarvoorkeure van sekere grondtipes
Sekere plante vaar beter wanneer sekere fisiese en biologiese eienskappe in die grond voorkom. Dit sluit onder meer eienskappe soos waterhouvermoë, dreinering, gronddiepte, tekstuur, diepte tot watertafel, nutriëntstatus en mikrobiologiese aktiwiteit in.

Elke grondtipe is anders in hierdie opsig. Dink so daaraan – elke hoofgrondtipe kan gesien word as ’n ander habitat. Hierdie habitat kan soortgelyk wees aan ’n oerwoud, grasveld, bergland, vleiland, kusstreek of woestyn. Dit is omdat die langtermyn- heersende toestande in daardie grond kan verskil. Moontlike verskille sluit in dat die grond gereeld versuip, maklik loog, lae waterhouvermoë het, uitstekend dreineer, tipies baie sout bevat of kalkagtig is. Plante verkies gewoonlik een habitat bo ’n ander. Graansorghum en sojabone is ’n voorbeeld van twee plante wat verskillende voorkeure het rakende habitat. Dieselfde geld vir verskillende kultivars. Soms is daar gevalle waar sekere kultivars onsensitief is vir variasie in grondsoort en soms is daar duidelike voorkeure. Elke plaas en land is anders. Dit is dus belangrik om hierdie verwantskappe te bepaal om die opbrengspotensiaal van elke land of plaas maksimaal te benut.

Verwerking van groot datastelle
Die insiggewende verwerking van groot hoeveelhede data maak dit moontlik om met die druk van ’n knoppie die beste kultivar vir ’n land te bepaal (Figuur 1 en 2).

Daar word verder onderskei tussen al die verskillende gewasse soos sojabone, mielies en sonneblom. Die beste plantpopulasieproewe wat op stropers gemerk is tydens die oesproses kan ook teen verskillende grondtipes, diepte, ensovoorts gemeet word.

In die meeste gevalle word mielie-opbrengsverskille van tot vier ton per hektaar op plase en grondtipes (potensiale) gesien. Dit hou groot finansiële geleenthede vir produsente in om die data te verwerk en werklik hieraan aandag te gee.

Dit is moontlik om met die gebruik van GIS-spanne (geografiese-inligtingstelselspanne) en data-analiste hierdie potensiaal te bepaal. Die beste genetika per grondtipe word dan van hoog na laag gesorteer. Die beste opbrengskorrelasies van genetika tot plantpopulasies word getrek asook jare, grondtipe, grondpotensiaal en waterhouvermoë – oftewel alle kaarte in ’n grondklassifikasieboek.

Geleentheid
As produsente se lande geklassifiseer is, maak die gebruik van nuwe tegnologie dit nou moontlik om elke jaar ’n lêer te skep wat kultivarverskille op die verskillende gronde uitwys. Hierdie geleentheid kan produsente help om meer tonne te stroop deur die mees geskikte kultivars op die verskillende gronde, lande en plase te plant.

Vir meer inligting, kontak Agri Technovation by 021 300 0543 of besoek www.agritechnovation.co.za. Navrae kan ook per e-pos na info@agritechnovation.co.za gestuur word.