Saadtekort wek kommer

Gepubliseer: 4 Mei 2020

1764
Valerie Cilliers, redakteur,
SA Graan/Grain

Sprake van ’n tekort aan koringsaad vir die komende seisoen doen tans die ronde. SA Graan het met die saadmaatskappye K2, Sensako en Pannar gesels oor die vooruitsig vir die nuwe seisoen.

K2
Fanie Meiring, bemarkingsbestuurder van K2, verduidelik dat saadmaatskappye begroot vir ’n seisoen se verkope volgens die vorige jare se aanvraag. “Weens die wisselvalligheid van klimaatsomstandighede is dit soms moeilik om presies te bepaal wat die behoefte in die komende seisoen gaan wees. Daar is ook ’n groot verskil tussen die vraag na droëland- en besproeiingskultivars,” verduidelik hy.

Nog ’n faktor wat die beskikbaarheid van saad beïnvloed, is terughousaad. Fanie verduidelik dat ’n groot persentasie van koringsaad soms deur produsente teruggehou word. Indien daar egter ’n swak oes is, sal die produsent minder saad terughou en eerder saad aankoop.

Wat die vorige seisoen se droëlandkoring betref, was daar ’n groot verwagting vir ’n goeie oes, maar met strooptyd het volgehoue reën die tydige stroop van die koring belemmer. “Die nat omstandighede het veroorsaak dat die koring op die lande uitloop en ons kon vir sommige van ons aanplantings geen saad vir die komende seisoen stroop nie,” sê Fanie.

Hy verduidelik dat die tekorte in van die droëlandkultivars die vraag na Matlabas-saad vervierdubbel het in vergelyking met ander jare. Produsente het minder saad teruggehou weens die swakker kwaliteit van die oes en dus is die aanvraag nou groter.

Matlabas is ook in aanvraag omdat die omstandighede tans gunstig is om vroeër te plant en dié kultivar ideaal hiervoor geskik is. In die Oos-Kaap word Matlabas ook toenemend vir weiding aangeplant, omdat dit koue baie goed hanteer.

’n Faktor wat ook die aanvraag vir koringsaad verhoog, is die feit dat die swak rand graanpryse laat styg. Koring raak dus ’n aanloklike opsie vir produsente. “Kultivars soos Matlabas, Elands en Senque wat deur ons bemark word, is eie aan Suid-Afrika en kan daarom nie ingevoer word nie,” voeg hy by.

Volgens Fanie gaan daar dus beslis ’n tekort aan koringsaad in die noordelike produksie-areas die komende seisoen wees. “Selfs al het ons volgens ons begroting genoeg voorraad gehad, sou dit nie die groter aanvraag kon dek nie. Wat besproeiingskultivars betref, het ons in voorraad waarvoor ons begroot het om te verkoop, maar selfs dit gaan nie genoeg wees vir die komende seisoen nie,” verduidelik hy.

Sensako
Sensako se kommersiële direkteur Patrick Graham, glo dat daar wel genoeg besproeiingskoringsaad vir die komende seisoen sal wees.

“Tydens die 2019-produksieseisoen was daar wydverspreide skade weens koue in besproeiingskoringareas. Met oestyd is bepaal dat tot 50% van die oes verlore gegaan het en dat die oorblywende oes swak grade behaal het. Deur verskeie opsies te oorweeg en te implementeer, kon ons egter wel daarin slaag om ons begrote teiken te behaal. Ongelukkig het die koue ’n invloed op ontkieming van sowat 30% van die oes gehad – iets wat ons in die laaste 60 jaar nog nie beleef het nie. Die resultaat is dat ons 30% van ons begrote voorraad verloor het.”

Patrick verduidelik dat hulle tot 120% van die geskatte aanvraag begroot en daarom behoort hulle genoeg besproeiingsaad te hê indien daar nie ’n verhoogde aanvraag in die komende seisoen is nie.

Sensako is besorg dat produsente wat saad teruggehou het groot risiko dra, daarom stel hulle ontkiemingtoetse wat in hul laboratoriums gedoen word, gratis beskikbaar. Hulle verwag ook dat daar ’n groter aanvraag gaan wees weens die hoër graanpryse.

Droëlandkoring is volgens Patrick erg geaffekteer deur die droogte in 2019 en die oes was aansienlik kleiner. Vroeë lentereën, veral in die Oos-Vrystaat, het die oes en kwaliteit verder belemmer. Hy verduidelik dat Sensako nie genoeg droëlandkoringsaad vir die noordelike produksie-areas vir die komende seisoen gaan hê nie.

As ’n teenvoeter het Sensako die SST 356-kultivar in ’n someraanplanting aangeplant. “Indien dit slaag, sal die saad in Julie 2020 beskikbaar wees. SST 356 is ’n baie aanpasbare kultivar en kan laat aangeplant word. Ten tyde van die skryf van hierdie artikel (middel April) lyk die vooruitsigte vir die aanplanting baie goed. Vroeë koue kan egter ’n impak hê.

Koring in die Kaap
Volgens Patrick het die 2019-koringseisoen in die Kaap goed afgeskop (veral in die Swartland), maar die voortslepende droogte het ’n impak op produksie gehad. Saadverskaffers is negatief beïnvloed en saad in die area is reeds uitverkoop. Sensako kon egter wel in die aanvraag vir ouersaad voorsien en daar behoort geen impak op die 2021-produksie te wees nie.

Pannar
In antwoord op SA Graan/Grain se navraag het Pannar se nasionale bemarkingsbestuurder, John Odendaal, bevestig dat die saadverskaffer tans beperkte saad van droëlandkultivars het. “Ons het egter sowat ’n 30%-surplus op van ons gewildste besproeiingskultivars. Die afgelope produksieseisoen was uitdagend en ’n kombinasie van erge droogte en laat koue het droëlandproduksie benadeel. Goeie produksies van besproeiingskultivars is egter behaal. Wisselvallige vlakke van terughousaad deur produsente bemoeilik ook jaarliks beplanning.

Vanjaar verwag ons dat aanvraag hoër gaan wees weens onder meer die hoër kommoditeitspryse. Ons het hopelik genoeg saad van besproeiingskultivars om aan die vraag te voldoen, maar sal waarskynlik ’n tekort aan saad van droëlandkultivars hê,” het hy bygevoeg.