Saad as produksie-inset vir wintergraanproduksie is nie noodwendig produsente se duurste inset nie, maar moontlik die belangrikste. Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring, veral in die noorde van die land, is besig om te kwyn en nuwe hoë-opbrengskultivars is nodig om die bedryf weer ’n hupstoot te gee.
Die wintergraansaadbedryf beleef tans ’n kritieke tydperk. Daar is ’n uitstekende voorteelprogram vir koring in plek en die teling-en-tegnologieheffing vir gars en koring is al in sy vierde jaar om telers te vergoed vir hulle aandeel in die saadmark. Daar is nou ook ’n heffing op hawer bygevoeg. Produsente wag angstig vir nuwe kultivars met ’n hoër opbrengs.
Gedurende die afgelope twee jaar is 19 nuwe koringkultivars geregistreer, waarvan vier vir die Wes-Kaap, tien vir besproeiingsgebiede en vyf vir die noordelike droëlande. Vir meer oor die vordering met die teling-en-tegnologieheffing vir wintergrane, lees Gert Heyns (uitvoerende hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap, SACTA) se artikel: https://sagrainmag.co.za/2020/02/25/teling-en-tegnologieheffing-op-wintergraan-wat-is-bereik/.
Kultivarkeuse is uiters belangrik om produksierisiko tot ’n minimum te beperk. In hierdie artikel word die jongste saadpryse van kommersieel beskikbare koring- en garskultivars met produsente gedeel, sowel as wenke om seker te maak die beste word uit die saad geput.
Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om deel te neem aan die prysvergelykings. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie.
Saadpryse
Wintergraansaadpryse vir 2020 word in Tabel 1 tot Tabel 5 aangetoon. Daar is altesaam 28 koringkultivars vir die noordelike produserende gebiede (besproeiing ingesluit) beskikbaar, terwyl daar kommersieel sewe verskillende kultivars vir die Wes-Kaap beskikbaar is. Daar is ses garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies.
Koringsaadpryse het in 2020 op ’n gemiddelde basis met 3,4% gestyg. Sommige kultivars het tot 8,6% duurder geword, terwyl ander weer met soveel as 0,5% gedaal het. Interessant genoeg kos koringsaad in die noordelike produksie-areas gemiddeld R395 per 25 kg-sakkie, terwyl saadpryse in die Kaap R418 per 50 kg-sakkie is. Garssaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 7,1% gestyg.
Die inligting in Tabel 1 neem nie kortings vir vroeë bestellings en grootmaataankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om navrae by die saadmaatskappye self te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.
Kultivarkeuse
Die volgende belangrike riglyne behoort gevolg te word by die maak van kultivarkeuses:
- Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
- Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe of onbekende een vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
- Raadpleeg die LNR-Kleingraan (LNR-KGI) se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Sien ook die kultivarbylaag (invoegsel) waarin die resultate van die Nasionale Kultivarevaluasieprogram deur die LNR-KGI gepubliseer is.
- Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n ongetoetste kultivar aan te plant.
Saadkwaliteit is deurslaggewend
Saad van goeie kwaliteit verbeter die kans op die suksesvolle vestiging van die gewas en ’n goeie oes. Koringsaad kan volgens kwaliteit in drie kategorieë verdeel word:
Gesertifiseerde saad
Hoëkwaliteitsaad waarvan belangrike eienskappe soos kiemkragtigheid en suiwerheid teen relatief streng norme deur saadmaatskappye gewaarborg word. Indien produsente probleme met gesertifiseerde saad ondervind, kan ’n saak uitgemaak word wanneer ’n eis ter sprake kom. Die tipe saad word deur erkende saad- en landboumaatskappye verskaf.
Kommersiële saad
Saad van aanvaarbare tot goeie kwaliteit wat aan sekere vereistes van die Plantverbeteringswet voldoen. Die kwaliteitsvereistes is egter nie so streng soos vir gesertifiseerde saad nie. In die geval van ’n saadprobleem sal ’n produsent hom tot die Registrateur van die Plantverbeteringswet kan wend. Dié tipe saad word ook deur erkende saadmaatskappye en landboubesighede verskaf.
Teruggehoue saad
Teruggehoue saad is graan wat deur produsente uit die vorige oes teruggehou is om as saad in die volgende seisoen te dien. Dit is wettig, solank die graan nie as saad verkoop word nie. Produsente loop egter produksie- en opbergingsrisiko’s indien teruggehoue saad gebruik word. Moontlike probleme sluit in die muf van saad indien dit te klam gestoor word, kalanderskade indien nie dit nie berook word nie en swak ontkiemingsvermoë indien dit teen te hoë temperature geberg is.
’n Produsent het geen eis of regsgronde ten opsigte van saadkwaliteit (en algemene prestasie van die kultivar) indien teruggehoue saad geplant word nie. Indien saad opgeberg word, behoort dit volgens voorskrifte vir opberging skoongemaak, skoon en suiwer gehou, gedroog asook koel en droog opgeberg word. Beroking om kalanders en ander graaninsekte te beheer, is noodsaaklik en dit moet veilig teen rotte en muise geberg word. Ontkieming- en suiwerheidstoetse moet gedoen word voor aanplanting en die saad moet met geregistreerde plaagdoders teen saadgedraagde siektes behandel word.