Koringkultivars: Oorsig oor die Wes-Kaap se 2019-seisoen

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

5164
Ian Heyns,
LNR-Kleingraan,
Stellenbosch

Koring word beskou as een van die belangrikste graangewasse in Suid-Afrika met ’n jaarlikse verbruik van ongeveer 3,2 miljoen ton, waarvan ongeveer 1,86 miljoen ton plaaslik geproduseer word. Die Wes-Kaap is nog altyd beskou as die broodmandjie van Suid-Afrika en produseer ongeveer 50% van alle plaaslike koring. Koringproduksie in dié gebied was egter die afgelope seisoen laer weens ’n warm, droë seisoen met onder gemiddelde reënval.

Die 2019-seisoen in perspektief
Die 2019-koringseisoen in die Swartland het einde April begin met produsente wat in grond met ’n lae voginhoud begin plant het. Die Swartland het gemiddelde reënval ontvang vir Junie, Julie en Augustus, maar September – ’n belangrike tyd in die produksieseisoen – is gekenmerk deur onder gemiddelde reënval en hoë temperature (Grafiek 1). ’n Soortgelyke tendens is in die Rûens waargeneem, waar die reën aan die begin van Augustus weggeraak het, terwyl hoë temperature in hierdie tyd aangeteken is (Grafiek 2). Dit het aanleiding gegee tot swakker as verwagte opbrengste, wat produsente onder groot finansiële druk plaas, aangesien dit die derde seisoen in die afgelope vyf produksieseisoene is waar onder gemiddelde opbrengste behaal is.

Grafiek 1: Reënval- en temperatuursyfers vir Langgewens (Malmesbury) vir die periode April – November 2019.
Grafiek 2: Reënval- en temperatuursyfers vir Tygerhoek (Riviersonderend) vir die periode April – November 2019.

Alles was darem nie net donker nie. Die ligpunt van die seisoen was die implementering van die nuwe graderingstelsel vir koring. Volgens die nuwe stelsel behoort die meerderheid van die koring wat dié seisoen geproduseer is, op grond van proteïenvlakke in die nuwe superklas gegradeer te word. Dit sal ’n addisionele inkomste van 2% bo Safex vir produsente beteken.

LNR se koringkultivarprestasie vir die 2019-seisoen
LNR-Kleingraan het tans drie kommersiële koringkultivars, naamlik Ratel, Steenbok en Tredou, wat jaarliks op verskeie lokaliteite in die Swartland en Rûens geplant word. Die doel is om hulle opbrengs en ander eienskappe in verskeie omgewings te evalueer. Ratel het ’n medium groeiperiode, terwyl Steenbok oor ’n medium tot kort groeiperiode met goeie droogtetoleransie beskik. Dit maak dit ’n goeie kultivarkeuse in areas met ’n droër klimaat. Tredou is die jongste toevoeging tot die LNR-Kleingraan se kultivars en het ’n medium tot lang groeiseisoen.

Al die bogenoemde kultivars beskik oor goeie strooisterkte, pitvastheid en uitloopweerstand. Opbrengsdata vir die 2019-seisoen het getoon dat Steenbok die beste presteer het in die Swartland, maar dat Ratel en Tredou ook goed aangepas is vir dié omgewing. In die Rûens was Tredou weer die beter kultivar, gevolg deur Ratel en Steenbok (Grafiek 3).

Grafiek 3: LNR-Kleingraan-kultivaropbrengsdata (t/ha) vir die Swartland en Rûens vir die 2019-seisoen.

Verwagtinge vir die 2020-koring­seisoen in die Wes-Kaap
As al die feite in ag geneem word, lyk dit na ’n uitdagende seisoen wat voorlê – produksiegewys asook ekonomies. Dit is egter belangrik om te besef dat daar wel nog geleenthede is. Met die regte kultivarkeuse en bestuurspraktyke gaan koring altyd ’n wenner wees. Van die LNR se kant af word daarna gestreef om die beste koringkultivars te ontwikkel wat presteer in verskeie omgewingstoestande – selfs tydens droogte. Produsente word uitgenooi om op die uitkyk te wees na LNR-Kleingraan se kultivars by plaaslike boeredae.

Sterkte en groot oeste vir 2020 word alle produsente toegewens.