GROND: DIE PRODUSENT SE BELANGRIKSTE BATE
    Deel 18: Sout- en natriumgrond

    3263

    Grond is die mees fundamentele hulpbron vir die produsent, waarsonder voedsel en natuurlike vesel nie geproduseer kan word nie. Hierdie artikel vorm deel van ‘n reeks om dié hulpbron toe te lig.

    Sout- en natriumverrykte grond staan in die volksmond gesamentlik as brakgrond bekend. Soos uit die volgende bespreking duidelik sal word, is hierdie egter twee wyd uiteenlopende konsepte en die herwinning daarvan moet heeltemal verskillend gedoen word.

    Klassifikasie
    Twee parameters word gebruik om sout- en natriumgrond te karakteriseer. Die elektriese geleiding (EG) meet die soutinhoud en word in milliSiemen per meter (mS m-1) uitgedruk. Hoe meer sout in die grond teenwoordig is, hoe hoër sal die EG wees. Soutgrond word dus gedefinieer as daardie grond met ‘n EG van groter as 400 mS m-1. Hierdie grond staan in die volksmond ook as witbrak bekend, omdat die soutkristalle as ‘n wit laag op die grondoppervlak kristalliseer (Figuur 1).

    Figuur 1: Die wit laag sout wat bo-op die grond in soutgrond kristalliseer. Hierdie foto is langs die Oranje-Riet Kanaal geneem.

    Die natriuminhoud van grond word as die uitruilbare natrium persentasie (UNP) of die natrium adsorpsie verhouding (NAV) uitgedruk. Alhoewel hierdie twee parameters verskillend is (soos die twee kante van ‘n balansskaal) het dit min of meer dieselfde grenswaarde en word gewoonlik met mekaar verwar. Grond met ‘n UNP van groter as 15% word as natriumgrond geklassifiseer. Hierdie grond staan in die volksmond ook as swartbrak bekend omdat die hoë natriuminhoud ‘n hoë pH tot gevolg het, wat veroorsaak dat die organiese materiaal oplos en as ‘n swart laag akkumuleer (Figuur 2).

    Figuur 2: Swart akkumulasie van organiese materiaal in natriumgrond. Let ook op die digte of porielose aard van die grond.

    Grond met ‘n EG van groter as 400 mS m-1 en ‘n UNP van groter as 15% word as sout-natriumgrond geklassifiseer.

    Eienskappe
    Sout verlaag die osmotiese potensiaal van grondwater (sien Deel 11 in die reeks). Hoe meer sout in die grond teenwoordig is, hoe moeiliker sal dit dus vir die plant wees om water uit die grond uit op te neem. Dit is dus moontlik dat die grond fisies nat lyk, terwyl die plant van droogte verwelk, net omdat daar te veel sout in die grondwater is. Dit is die hoof negatiewe reaksie wat in soutgrond ervaar word.

    Natriumgrond word daarenteen gekenmerk deur natrium wat die diffuse dubbellaag van kleideeltjies verdik (sien Deel 8 in die reeks). Kleideeltjies wat groter word, kan slegs die porieruimtes met hierdie groter volume vul. Die porieruimtes word dus kleiner (of minder) hoe meer klei, veral swelbare klei en hoe meer natrium in die grond teenwoordig is. Omdat die porieruimtes minder is, neem die versadigde hidrouliese geleivermoë en die deurlugting van grond af. Water en lug kan dus nie die grond infiltreer nie. Dit sal dus ook moeilik wees om ameliorante soos gips in die grond in te loog.

    Sout-natriumgrond het die negatiewe effek van ‘n lae osmotiese potensiaal (as gevolg van ‘n hoë soutinhoud), maar die sout werk ook die effek van die natrium (wat die diffuse dubbellaag wil verdik) teen. Dit gebeur omdat ‘n hoë soutkonsentrasie in die grondoplossing ‘n dun diffuse dubbellaag tot gevolg het (sien Deel 8). Die netto effek van ‘n hoë sout- en ‘n hoë natriumkonsentrasie is dus slegs ‘n klein toename in die dikte van die diffuse dubbellaag. Die versadigde hidrouliese geleivermoë is dus nog voldoende vir water en lug om te beweeg.

    Herwinning
    Soutgrond kan redelik maklik herwin word deur die grond met skoon (soutlose) water te loog. Die hoeveelheid water wat deur die grond moet loog om die sout te verwyder, word deur die logingsfraksie (EG van die besproeiingswater/EG van die dreineerwater) bereken.

    Natriumgrond word herwin deur die natrium op die uitruilkompleks en in die grondoplossing met kalsium te vervang. Gips (CaSO4) word normaalweg as ‘n kalsiumbron gebruik omdat dit meer oplosbaar as kalk is. Die gips moet in die grond in geloog word en die NaSO4 wat gevorm word, moet uit die grond uit geloog word.

    Dit is dus duidelik dat die verlaagde hidrouliese geleivermoë vir beide hierdie prosesse problematies sal wees. Dit maak die herwinning van natriumgrond baie moeisaam, lank en duur – amper tot die vlak dat dit nie die moeite werd is nie. Die hoeveelheid gips wat toegedien moet word, hang van die Na-, Ca-, en Mg-inhoud sowel as die katioonuitruilkapasiteit van die grond af. Grondontledings en kundige advies word dus benodig.

    Sout-natriumgrond is makliker om te herwin omdat die versadigde hidrouliese geleivermoë redelik deur die sout in stand gehou word. Die natrium moet egter eerste deur die toedien van gips en loging uit die grond verwyder word. Daarna kan die sout deur skoon water uit die grond geloog word. Indien die herwinning andersom geskied, sal van ‘n sout-natriumgrond ‘n natriumgrond gemaak word, wat op sy beurt baie moeilik is om te herwin. Net soos by natriumgrond, is grondontledings en kundige advies van kardinale belang.

    In al die bogenoemde gevalle is dreinering van die grond noodsaaklik. Indien die sout en natrium nie uit die grond geloog (dreineer) word nie, bly dit in die grond agter en sal die effek daarvan nie verminder word nie. Dit is die hoofrede hoekom vlak, swak gedreineerde grond nie vir besproeiing aanbeveel word nie en hoekom kunsmatige ondergrondse dreinering teen groot koste in sommige besproeide lande geïnstalleer moet word.

    Oorsprong
    Alhoewel grond in die natuurlike toestand soute bevat, is besproeiing met sout-bevattende water die hoofoorsaak van soutgrond. Alle water bevat sout en net suiwer water word getranspireer. Sout sal dus in die grond akkumuleer, tensy dit uit die grond geloog word. Soutgrond is algemeen in besproeiingskemas in Suid-Afrika en is meer algemeen hoe swakker die waterkwaliteit (meer soute) en hoe swakker die dreinering van die grond is.

    Figuur 3: Kunsmatige dreinering, soos hierdie by Vaalharts, wat nodig is om van die sout en natrium uit die grond te loog.

    Die hoofbron van natrium in grond is uit die moedermateriaal, veral die Beaufort- en Ecca-skalie gesteentes. Hierdie grond word normaalweg nie vir besproeiing aanbeveel nie. Derhalwe is die voorkoms van natriumgrond onder besproeiing skaars.

    Samevatting
    Sout- en natriumgrond het wyd uiteenlopende eienskappe en moet derhalwe verskillend hanteer word om dit te herwin. Die enigste manier om tussen hierdie drie grondtipes te onderskei, is deur van grondontledings gebruik te maak. Kundige advies is ook nodig om die regte hoeveelhede ameliorante te bereken. Indien sout- en/of natriumgrond verkeerd geïdentifiseer en herwin word, kan ‘n slegte toestand in ‘n uiters slegte toestand omskep word.

    Vir verdere besonderhede of navrae kontak Martiens du Plessis by martiens@nwk.co.za of prof Cornie van Huyssteen by vanhuyssteencw@ufs.ac.za.

    Bronnelys
    Brady, NC. 1990. The nature and properties of soils. 10th ed. Macmillan Publishing Company: New York.