Trekker- en stroperverkope spreek boekdele

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

1030
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA, corne@grainsa.co.za
Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Insette bly ’n klip in die skoen vir alle produsente met min maniere waarop produsente teen dié veranderlike koste kan verskans. In hierdie maand se rubriek word gekyk na landboumasjinerie – ’n inset waarsonder geen van die ander insette so doeltreffend kon werk en so tydig toegedien kon word nie.

Hierdie ongelooflike hulpmiddels maak hedendaagse landbou soos ons dit ken, moontlik.

Landboumasjineriepryse
Die prysveranderings op ’n jaargrondslag van die verskillende kategorieë landboumasjinerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Landboumasjineriepryse het vanaf Mei 2021 tot Mei 2022 gemiddeld met 0,5% gestyg, met implemente wat die grootste bydrae gemaak het met pryse wat met gemiddeld 0,9% gestyg het. Oor dieselfde tydperk het die wisselkoers met 13,2% verswak. Omdat die grootste hoeveelheid van hierdie land­boumasjinerie ingevoer word, is ’n opwaartse neiging in pryse verwag.

Trekkerverkope
In 2021 is daar 7 871 eenhede verkoop wat ’n styging van 30,2% verteenwoordig in vergelyking met 2020. Die gemiddelde trekkerverkope per jaar sedert 1995 is 5 578 eenhede (Grafiek 1). Trekkerverkope vir 2022 tot dusver is tans 15,9% hoër as dieselfde tyd verlede jaar. Stroperverkope in 2021 was 270 eenhede wat 46% hoër is as in 2020.

Grafiek 1: Jaarlikse trekkerverkope.

Interessanthede uit Tabel 2:

  • Vanaf 2018 is Maart en Oktober die maande met die hoogste verkope.
  • Die tendens in Februarie van belastingjaareindaankope is betekenisvol, maar minder in onlangse jare.
  • Die kwartaal met die grootste verkope in 2021 is kwartaal 4 met 28,7% van die jaarlikse verkope.
  • Die eerste kwartaal (2021) se verkope is die laagste met slegs 22,1% van die totale verkope.
  • In 2021 is Januarie, April en Mei die drie maande met die laagste verkope.
  • Die verhouding tussen die eerste en die tweede helfte van 2021 is 45:55.

Grootte en ouderdom van trekkervloot
Die verandering in die grootte van Suid-Afrika se totale trekker­vloot (die aantal trekkers in Suid-Afrika jonger as 20 jaar) word in Grafiek 2 geïllu­streer, terwyl Grafiek 3 die ouderdomsverspreiding daarvan toon.

Grafiek 2: Grootte van trekkervloot.
Grafiek 3: Verspreiding van trekkervlootouderdom.

Algemene gevolgtrekkings rakende die grootte en ouderdoms­verdeling van die trekkervloot (AGFACTS, 2021):

  • Die totale trekkervloot het na die laagtepunt van 2005 met ’n opwaartse baan voortgegaan en het die afgelope 16 jaar aansienlik toegeneem.
  • Die huidige trekkervloot van 96 034 eenhede is byna 40% groter as die vloot van 68 703 eenhede in 2001 (20 jaar gelede).
  • Die trekkervloot is tans 54% groter as tydens die laag­tepunt wat in 2005 bereik is.
  • Die totale getal trekkers jonger as tien jaar is tans ongeveer 63 062 eenhede, 65,7% van die huidige trek­ker­vloot. Die persentasie trekkers jonger as tien jaar was op ’n laagtepunt in 1993, toe 35,8% van die trekkervloot jonger as tien jaar was.
  • Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot is tans 7,5 jaar.

Die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot staan tans op 7,50 miljoen kW (Grafiek 4). Dit het skerp toe­geneem sedert die trekkrag in 2003, toe ’n minimum van 4,26 miljoen kW bereik is.

Grafiek 4: Totale trekkrag van trekkervloot.

Die gemiddelde trekkrag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot het die afgelope paar jaar geleidelik toegeneem. Hierdie toename in gemiddelde trekkrag kan gesien word in Grafiek 5. Dit het toegeneem van 63,7 kW (20 jaar gelede) tot 75 kW (10 jaar gelede) en het in 2020 op 80,6 kW te staan gekom. Hierdie getal het effens gedaal na 78,4 kW in 2021.

Grafiek 5: Gemiddelde trekkrag van trekkervloot.