Komitee weer in die kol met 2020/2021-oesskatting

Gepubliseer: 3 Mei 2022

1198
Petru Fourie,
landbou-ekonoom
en navorsingskoör-dineerder, Graan SA

3 Mei 2022 – Die 2020/2021-produksieseisoen sal onthou word as ’n baie gunstige produksiejaar vir graan- en oliesaadproduksie, met gunstige klimaatstoestande wat tot hoë­opbrengste gelei het. Alhoewel die La Niňa-weerpatroon tot ’n uitmuntende seisoen vir Suid-Afrika se produsente gelei het, bly dit steeds uitdagend om ’n akkurate oesskatting te maak weens wisselvallige omstandighede binne verskillende streke.

In hierdie artikel word ’n oorsig oor die verloop van die oesskatting vir die 2020/2021-produksieseisoen (pas afgelope seisoen) gegee. Daar word gepoog om te kyk hoe die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sedert die bekendmaking van die eerste produksieskat­ting (Februarie 2021) tot die finale oes (Februarie 2022) vir mielies, sojabone en sonneblomme verander en afgewyk het. Die bekendmaking van akkurate en tydige inligting is van kardinale belang, aangesien dit onder meer ’n direkte impak op prysvorming in die vrye mark het.

Mielies
Witmielie-oes
Grafiek 1 toon die maandelikse produksieskattingsyfers vir witmielies, vanaf die eerste skatting (Februarie 2021) tot die finale skatting (November 2021), soos bekendgemaak deur die NOK. Die rooi lyn dui die gerealiseerde witmielieproduksiesyfer soos dit gedurende Februarie 2022 vrygestel is, aan. Die verskil tussen dié gerealiseerde syfer en die maandelikse skattings is duidelik sigbaar.

Grafiek 1: Witmielies: Maandelikse produksieskattings versus finale skatting (2020/2021-produksieseisoen).

Die NOK het ’n puik taak verrig deurdat die impak van goeie weerstoestande so gou moontlik aan die mark deurgegee is. Die eerste skatting in Februarie 2021 was 8,799 miljoen ton, terwyl die werklike grootte van die finale oes 8,600 miljoen ton (soos op 10 Februarie 2022 bekendgemaak) beloop het. Die witmielie-oes is vanaf die eerste tot die sewende produksieskatting hoër geskat as die gerekonsilieerde syfer, terwyl dit
basies vanaf September besonder akkuraat tot die ge­rekonsilieerde syfer was. Die NOK se witmielieskattings was deurentyd binne die voorgestelde norme (binne 5%-akkuraatheid van die finale oes) – ’n puik prestasie.

Geelmielie-oes
In Grafiek 2 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir geelmielies waargeneem word. Oor die algemeen is beter as verwagte geelmielie-opbrengste behaal; dus het die geelmielie-oesskatting maandeliks verhoog. Anders as witmielies, waar die oes grotendeels hoër geskat is, is die geelmielie-oes onderskat weens die beter as verwagte opbrengste.

Grafiek 2: Geelmielies: Maandelikse produksieskatting versus finale oes (2020/2021-produksieseisoen).

Die NOK se eerste skatting vir geelmielies in Februarie 2021 was 7,049 miljoen ton. Soos die gunstige landboutoestande in die vernaamste produse­rende dele van die land voortgeduur het, het die verwagte geelmielie-opbrengste ook toegeneem. Die komitee het die verwagte geelmielie-oes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes (7,715 miljoen ton) met ’n drastiese 665 400 ton verhoog.

Totale mielie-oes
In Grafiek 3 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir totale mielies gesien word. Die geelmielie- oes wat onderskat is, het meegebring dat die totale mielie-oes ook oor die algemeen onderskat is.

Grafiek 3: Totale mielies: Maandelikse produksieskatting versus finale oes (2020/2021 produksieseisoen).

Norm waarbinne die NOK moet skat
In Suid-Afrika het die graanbedryf ’n norm/grens vir die NOK gestel waarbinne die oesskattings moet val. Vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei) moet dit nie meer as 8% vanaf die finale oes afwyk nie en vanaf die vyfde tot die finale skatting (Junie tot November) moet dit nie meer as 5% vanaf die finale oes afwyk nie. Grafiek 4 toon die boonste en onderste aanvaarbare norm/grens waarbinne die NOK moet wees. Indien die skatting (syfer) op ’n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar retrospektief na ’n oor- of onderskatting verwys word.

Grafiek 4: Die persentasie oor-/onderskatting van die mielie-oes teenoor die beraamde finale oes (2020/2021-produksieseisoen).

Uit die grafiek is dit duidelik dat die afgelope seisoen se wit- en geelmielieproduksieskattings uitsonderlik goed geskat is en dat die komitee binne die gestelde norme/grense was, uitgesluit die eerste tot vyfde geelmie­lieproduksieskatting wat effens onderskat is. Die totale mielie-oes, vanaf die eerste tot die finale skatting, is baie goed geskat en het tussen die voorgestelde norme/grense beweeg.

Sojabone
Grafiek 5 toon die maandelikse produksieskattingsyfers vir sojabone. Die sojaboonoes is slegs vanaf die eerste tot die derde produksieskatting onderskat, waarna dit baie naby aan die gerealiseerde sojaboonproduksie­syfer was. Die eerste skatting in Februarie 2021 was 1,621 miljoen ton, maar soos gunstige landboutoestande voortgeduur het, het die verwagte sojaboonoes tydens die eerste vier skattings toegeneem, waarna dit sywaarts beweeg het. Die komitee het die verwagte sojaboonoes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes (1,897 miljoen ton) met 276 100 ton verhoog.

Grafiek 5: Sojabone: Maandelikse produksieskatting versus finale oes (2020/2021-produksieseisoen).

Met die norme/grense wat reeds by mielies verduidelik is, is dit opmerklik dat die NOK slegs vir die eerste twee produksieskattings buite die voorgestelde norme was, waarna hulle uiters goed presteer het deur binne die norme te beweeg (Grafiek 6).

Grafiek 6: Die persentasie oor-/onderskatting van die sojaboonoes teenoor die beraamde finale oes (2020/2021-produksieseisoen).

Sonneblom
Grafiek 7 toon die maandelikse produksie­skattingsyfers vanaf Februarie tot November virsonneblomsaad. Die NOK se eerste skatting vir die sonneblomsaadoes (Februarie 2021) was 712 940 ton. Die komitee het die verwagte oes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes (677 240 ton) met slegs 34 940 ton verlaag, wat ’n uiters goeie prestasie is.

Grafiek 7: Sonneblom: Maandelikse produksieskatting versus finale oes (2020/2021-produksieseisoen).

Die sonneblomoes is slegs vanaf die eerste tot die derde produksieskatting oorskat, waarna dit baie naby aan die gerealiseerde sonneblomproduksiesyfer beraam is (Grafiek 8).

Grafiek 8: Die persentasie oor-/onderskatting van die sonneblomoes teenoor die beraamde finale oes (2020/2021-produksieseisoen).

Slotsom
Graan SA wil graanprodusente hiermee met die vertroue laat dat die NOK hulle beste gee om akkurate skattings daar te stel. Geen instansie in Suid-Afrika is beter as hulle vir hierdie taak gerat nie. Die afgelope seisoen se skattings kan as uiters goed beskou word en Graan SA bedank die komitee vir die be­langrike taak wat hulle verrig.

Produsente word aangemoedig om, indien hulle nie reeds aan die oesskattings­proses deelneem nie, die vraelyste wat aan hulle gestuur word, te voltooi. Indien die vraelys nie ontvang word nie, kontak ge­rus vir Rona Beukes, lid van die NOK, by 012 319 8032 of stuur vir haar ’n e-pos na RonaB@Dalrrd.gov.za.

Graan SA-fotokompetisie – Tiani Claassen, 2021