Koring in die Oos-Vrystaat kompeteer nie tans nie

Ruan Schutte, ekonoom en bemarker, Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2020

64

Die winsgewendheid van koring is al vir ’n geruime tyd onder druk en juis daarom het Graan SA ’n omkeerstrategie vir die bedryf in plek gestel.

Hierdie omkeerstrategie se doel is nie net om winsgewendheid te verbeter nie, maar ook om plaaslike produksie te ondersteun en so die koringbedryf te help om selfonderhoudend te raak. Plaaslike produksie, veral in die Oos-Vrystaat, verkeer onder druk en al hoe minder hektare word in die gebied aangeplant.

Uitdagings in koringproduksie
Die hoofrede vir die afname in hektare in die Vrystaat is die feit dat koring op ’n wins­gewendheidsvlak met somergrane moet kompeteer. Alhoewel somergraanproduksie se winsgewendheid ook gereeld in dié provinsie fluktueer, is dit baie meer konstant as dié van koringproduksie.

Weersomstandighede speel natuurlik ’n belangrike rol. Die feit dat Suid-Afrika die laaste aantal jare wisselvallige neerslag beleef het, het bygedra tot die afname. Grafiek 1 illustreer die bruto marge van ko­ring teenoor dié van somergraan in die Oos-Vrystaat. Hieruit kan duidelik waargeneem word dat dit sedert 2012 slegs in die 2015-seisoen was dat koring somergraan kon klop. Volgens die projeksiesyfers van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) lyk dit tog asof die 2020-seisoen beter gaan wees, alhoewel die werklike syfers eers later in die 2021-seisoen beskikbaar sal wees.

Grafiek 1: Koringprestasie teenoor somergewasse.
Bron: BFAP.

’n Ander groot uitdaging met ko­ringproduksie in die Oos-Vrystaat is dat indien daar in ’n land koring geplant word na somergraan, daardie land dan vir tot tien maande moet rus na die laaste somergraanoes voordat koring weer aangeplant kan word. Koring word in Desember in die gebied geoes en indien ’n produsent na koring weer somergraan wil aanplant, moet die lande eers rus tot die volgende jaar November met planttyd, wat ’n verdere elf maande is. Dit veroorsaak dus dat een hele produksieseisoen gemis word indien wintergraan aangeplant word, wat verdere finansiële druk op boer­derye in die gebied plaas.

Bruto marges
As gekyk word na die brutomarge-indeks van koring in die Oos-Vrystaat, soos in Grafiek 2 geïllustreer, kan waargeneem word dat koring se bruto marges baie meer wisselvallig is as dié van die onderskeie somergrane. Die indeks­waarde word gebruik om die mede­dingendheid van koring te illustreer teenoor ander somergrane. Die werklike bruto marges dui daarop dat koring die afgelope agt jaar net een keer (2015) beter as die somergraan se gemiddeld was. Dit maak dit baie moeilik vir koring om te kompeteer met die somergrane en dra by tot die afname wat beleef word in die koringbedryf in die Oos-Vrystaat.

Grafiek 2: Brutomarge-indeks.
Bron: BFAP.

Produksie-indeks
Uit ’n produksie-oogpunt het koringkultivars in die Vrystaat beter begin presteer, alhoe­wel die neerslag wisselvallig was. In Grafiek 3 is die produksie-indeks uitgebeeld. Volgens die Nasio­nale Oesskattingskomitee (NOK) se syfers kan gesien word dat daar ’n toename van 11% in produksie per hektaar vanaf 2006 tot 2020 was. Die vyftienjaar- gemid­delde opbrengs is 2,89 t/ha en die tienjaar- gemid­delde opbrengs is 3,21 t/ha. Die vyfjaar- gemiddelde opbrengs is 3,62 t/ha. Daar kan ook gesien word dat daar byna ’n 43%-afname in totale produksie was en ’n 4%-afname in aangeplante hektare sedert die basisjaar van 2006.

Grafiek 3: Produksie-indeks.
Bron: NOK.

Die pad vorentoe
Ten spyte van al die uitdagings wat tans in die koringbedryf beleef word, streef produsente steeds om produksie te verbeter. Sedert die instelling van die teling-en-teg­nologieheffing op koring het verskeie nuwe kultivars die mark betree met goeie resultate. Die grade­ringsverande­ring wat in plek gestel is en die verbete­ring in opbrengste wat beleef word deur nuwe kultivars, dra ook by tot meer wins­gewende verbouing van koring regoor Suid-Afrika. Met die omkeerstrategie wat in plek gestel is in die bedryf, word daar ook gestreef om koringproduksie selfonderhoudend te kry. Die graderingsveranderinge het in die 2019/2020-seisoen goeie resultate gelewer en vele produsente het premies gekry vir die supergraadkoring (BS) wat gelewer is. Dit sal bydra om koring meer mededingend te maak teenoor somergraan, wat heel moontlik in die toekoms kan lei tot ’n toename in produksie van koring in die onderskeie gebiede van die somergraanareas.