Al hoe meer jong Suid-Afrikaners sprei hulle vlerke op soek na werksgeleenthede oorsee. Dit is veral in Amerika waar daar in landbou vele geleenthede is.
So vertel Dillon de Vries, ’n jongman van Secunda, wat tans vir ’n oesspan (harvesting crew) op plase in Goodland, Kansas, werk. Dit is sy derde jaar in die VSA, waar hy al in Mississippi, Noord-Dakota en Nebraska ondervinding opgedoen het.
Daar word beraam dat slegs 2% van die Amerikaanse bevolking in landbou werk en gewillige, hardwerkende jongmense met landbouervaring is skaars. Volgens ’n opname wat deur USAFarmlabor gedoen is, sê 56% van Amerikaanse respondente dat dit uiters moeilik is om betroubare en ervare werkers aan te stel.
Hoewel Dillon nie op ’n plaas grootgeword het nie, het hy na skool op ’n plaas naby Warmbad gewerk. Met dié ervaring het hy ’n werksgeleentheid in Noord-Dakota gekry en daarmee saam ’n veel beter salaris. Hy sê sy ondervinding met trekkers en gewasse het handig te pas gekom en hy kon reeds in sy eerste jaar sy skuld afbetaal. Daar is ook ’n groot tekort aan vragmotorbestuurders, vertel hy.
Sy raad aan jong produsente is: “Jy sal nie spyt wees nie, daar is geleentheid om goed geld te maak. Jy ontmoet wonderlike mense en maak goeie vriende. Daar is relatief min uitgawes en jy kan jou skuld by die huis makliker afbetaal.”
Dillon se dag-tot-dag taak in Nebraska was om beesvoer te meng vir die winter, waar dit tot -40˚C word. “In die somer berei ons lande voor en werk aan spilpunte. Ondervinding met spilpunte kan vir jou heelwat deure oopmaak. Ek moet byvoeg dat jy baie lang ure werk – van die oggend 05:00 tot laat in die aand en soms tot vroeg die volgende oggend.” Die afgelope jaar het Dillon vragmotors bestuur en gewasse gestroop. “Jy moet weet dat jy iets van alles gaan doen,” voeg hy by.
Hy erken dat die verlange soms pla. “Na die eerste sewe maande tref die verlange jou erg. Dan maak ons maar ’n potjie of braai ’n vleisie – ons maak selfs ons eie biltong. Gelukkig weet ons dat Kerstyd om die draai is en dat ons weer ’n bietjie huis toe kan gaan.”
Twanette Burger van die Agri Employment-agentskap sê dat al hoe meer jongmense hulle nader om oorsee geplaas te word. “Hier by ons is die vereiste dat jy tussen 21 en 45 jaar oud moet wees en dat jy ten minste drie jaar plaasondervinding moet hê. Daar is heelwat geleenthede vir die wat kwalifiseer.”
Sy sê dit is voordelig om deur ’n agentskap te werk, aangesien die Amerikaanse konsulaat dit so verkies. “So kan jy baie slaggate vermy. Indien ’n persoon sonder ’n agent werk, het hy niemand wat hom kan help wanneer hy in die vreemde is nie,” vertel sy.
Twee jongmanne wat met Twanette se hulp oorsee geplaas is, is Armand en Jeandré Wolmarans van Klerksdorp. Dié twee broers plant en stroop sojabone in Indianola, Mississippi. Dit is Armand se vyfde jaar oorsee en hy en Jeandré behartig die boerdery op hulle eie. “Dit is harde werk en jy dra self die verantwoordelikheid, maar jy leer ook baie in die proses. ’n Mens kan sê jy word gou groot daar,” vertel hy.
Armand en Jeandré stem saam dat hulle die ervaring sterk sal aanbeveel. Hulle raad is om van ’n goeie agentskap gebruik te maak. “Dit is net soveel makliker wat visa- en werksaansoeke en onderhandelinge met die werkgewer betref.”
Hulle waarsku dat uitsonderlik hoë mediese koste jou drome gou aan skerwe kan laat lê en daarom het hulle ’n mediesefondskontrak uitgeneem vir die tydperk wat hulle oorsee is. Armand vertel van ’n jong Suid-Afrikaner wat sy enkel gebreek het en met mediese skuld van R400 000 huis toe gekom het.
Dillon, Armand en Jeandré kan nie uitgepraat raak oor die ervaringe en geleenthede in die VSA nie, maar al drie is dit eens dat Suid-Afrika hul huis is en dat hulle na ’n paar vrugtevolle jare in die vreemde sal wil terugkeer om hier hul toekoms te bou.