Aanpassing gee wins ’n hupstoot

Gepubliseer: 1 Oktober 2020

2067
Ruan Schutte,
ekonoom en bemarker, Graan SA

Om die koringbedryf in Suid-Afrika te bevorder en die volhoubaarheid van die bedryf te verseker, het Graan SA in 2011 ’n omdraaistrategie in plek gestel. Deel van hierdie strategie was om te kyk na die koringgraderingstelsel.

Suid-Afrika is ’n netto invoerder van koring en dus is dit belangrik dat die plaaslike koringbedryf op internasionale vlak kan meeding. Die bedryf het ingestem dat die graderingsregulasies verander word om plaaslike koring sodoende internasionaal meer kompete­rend te maak. In die meeste gevalle was die plaaslike gradering nie in lyn met dié van internasionale mededingers nie.

Gemiddelde proteïenverspreiding
Die feit dat Suid-Afrika van die wêreld se beste koringkwaliteit produseer, moet in die koringprys gereflekteer word. Daar is dus gekyk hoe die gradering dit kan fasiliteer om ’n premie te bewerkstellig vir die goeie kwaliteit wat plaaslik geproduseer word. Graan SA het ondersoek ingestel en die nuwe graderingsregulasies is sedert Oktober 2019 in werking. Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) is genader om te bepaal wat die voordeel is wat die nuwe gradering vir die bedryf inhou. Die modelleringsaannames en benaderings wat BFAP gemaak het in die wintergraanscenariobeplanning vir die 2020-produksieseisoen was soos volg:

  • Die geprojekteerde Safex-prys vir die 2020-pe­riode van Maart tot September is op R4 741/ton
    bereken.
  • Die verskil in die gemiddelde aftrekking per proteïenvlak volgens die nuwe graderingstelsel kan soos volg saamgevat word:

    • Netto aftrekking volgens die ou graderingstelsel – R77,92/ton
    • Netto aftrekking volgens die nuwe gradering­stelsel – R3,08/ton
    • ‘n Onmiddellike verskil van R74,84/ton
  • Tabel 1 toon die aannames rakende die gemiddelde proteïenverspreiding tussen 2013 en 2018 asook die graad- differensiële aanname tussen die ou en nuwe gradering.
Bron: BFAP: Wintergraanscenariobeplanning vir die 2020-produksieseisoen

Implikasie per hektaar
Volgens die vorige graderingstelsel het die totale graadverskil R78/ton beloop. Volgens die nuwe graderingstelsel, met inagneming van die premie ontvang vir supergraad, is die totale aftrekking net R3/ton. As aanvaar word dat daar geen aanpassings aan die toedeling van insette aangebring is nie, is die gemiddelde verskil in bruto marge tussen die vorige en aangepaste graderingstelsel die volgende:

  • R222/ha vir die Wes-Kaap
  • R177/ha vir die Vrystaat
  • R510/ha vir die besproeiingstreke

Aangesien ’n nasionale proteïenverspreiding gebruik is, is dit belangrik om daarop te let dat die streeksproteïenverspreiding in sekere streke hoër of laer kan wees. Die verskil in bruto marge kan dus ook hoër of laer wees.

Implikasie op plaasvlak
Grafiek 1 toon die hoeveelheid ekstra inkomste wat uit ’n boerdery verdien sal word, gegewe veranderlikes in die totale hoeveelheid hektare wat onder koring verbou word. In die Wes-Kaap sal ’n plaas wat 250 ha koring verbou, ’n ekstra R55 000 oplewer. ’n Plaas wat 250 ha koring onder besproeiing verbou, sal ’n ekstra R127 000 oplewer. Die invloed van die veranderinge op die totale wintergraanbedryf is positief. As die intensies van die gebiede onder die veronderstelling van tendensopbrengste oorweeg word, sal die totale Suid-Afrikaanse koringbedryf ’n bykomende R137 miljoen by sy bruto marge voeg. Dit word soos volg versprei: R16 miljoen vir droëlandstreke in die somerreënvalgebied, R74 miljoen vir die droëlandstreke in die winterreënvalgebied en R47 miljoen in die besproeiingstreke.

Grafiek 1: Koringgradering.
Bron: BFAP: Wintergraanscenariobeplanning vir die 2020-produksieseisoen

Opsommend
Die impak op die winsgewendheid is deur ’n studie wat BFAP in die Caledon-area gedoen het, bereken. Die studie fokus op aangepaste graderingsamestellings en opbrengsscenario’s per hektaar.

1.     Die huidige graderingsaannames:

i. BS- en B1-aandeel = 63%

2.     Lae BS- en B1-scenario:

i. BS- en B1-aandeel = 47% (2012/2013)

3.     Hoë BS- en B1-scenario:

i. BS- en B1-aandeel 79% (2015/2016)

Grafiek 2 illustreer die verskil in bruto marge van die vorige tot die nuwe graderingstelsel. Die twee scenario’s illustreer variasie in proteïenvlakke en variasie in opbrengs. Die Caledon-streek is as gevallestudie gebruik om die onderskeie impakte te kwantifiseer. Die BFAP-basislyn dui aan dat die produsent R239/ha beter af is. Met ’n lae kwaliteit, soos in die 2012/2013-seisoen beleef is, kan die nuwe gradering R124/ha meer vir die produsent beteken. As die kwaliteit goed is, soos in die 2015/2016-seisoen die geval was, kan die graderingsvoordeel tot R338/ha vir die produsent inhou.

Grafiek 2: Koringgradering-sensitiwiteitsanalise.
Bron: BFAP: Wintergraanscenariobeplanning vir die 2020-produksieseisoen
Nota: BS = Supergraad