Kunsmis: Pryse en wisselkoers soos olie en water

Gepubliseer: 30 September 2020

2366
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Vir die grootste gedeelte van 2020 het internasionale kunsmispryse gedaal – van die grondstowwe redelik skerp. As gevolg van die wisselkoers het die plaaslike mark egter nie noodwendig in hierdie dalings gedeel nie.

Soos ons weet word meer as 80% van Suid-Afrika se kunsmisbehoefte in­gevoer, dus gaan die wisselkoers en internasionale pryse altyd ’n bepalende impak op plaaslike kunsmispryse hê. Die vraag bly egter hoe groot hierdie impak werklik is.

Wisselkoers
Die rand het vanaf Augustus 2019 tot Augustus 2020 met 13,6% teenoor die dollar verswak, met die gevolg dat insette heelwat duurder as verlede jaar dieselfde tyd ingevoer is. Die effek hiervan word in Tabel 3 getoon.

Langtermyneffek
Grafiek 1 toon die internasionale kunsmispryse sedert 2012 aan, waar­van die tendens skerp afwaarts neig. Die verswakking in die wisselkoers veroorsaak egter dat hierdie prentjie vir plaaslike pryse heeltemal anders lyk. Tabel 1 wys internasionale kuns­mispryse in dollarwaarde sedert 2012. Skerp dalings kan in al die internasionale grondstofpryse opgemerk word, maar omdat die wisselkoers oor hierdie tydperk met 115% verswak het, het plaaslike pryse, behalwe vir kaliumchloried, skerp gestyg.

Grafiek 1: Internasionale kunsmispryse in dollarterme versus die wisselkoers (rand/dollar).

Internasionale kunsmispryse in dollarwaarde
Pryse van alle internasionale kuns­misgrondstowwe, behalwe kaliumchloried, het die afgelope jaar in dollarterme gestyg (Tabel 2). Soos reeds genoem het die wisselkoers die afgelope jaar met 13,6% verswak – ’n swakker rand beteken insette word duurder ingevoer.

Internasionale kunsmispryse in randwaarde
Tabel 3 toon internasionale kuns­mispryse in randwaarde aan. Die internasionale prys van ammoniak, ureum en DAP het met onderskeidelik 23,8%, 22% en 16,0% gestyg. Die prys van kaliumchloried het oor hierdie tydperk met 6,2% gedaal.

In Tabel 4 word aangetoon wat in die afgelope maand met interna­sionale kunsmispryse gebeur het. Vanaf Julie tot Augustus het die prys van ammoniak, ureum en DAP met onderskeidelik 9,0%, 26,9% en 7,1% gestyg, terwyl kaliumchloried met 4,1% gedaal het.

Plaaslike kunsmispryse
Tabel 5 toon gemiddelde plaaslike kunsmispryse oor ’n jaartydperk aan (pryslyspryse). Uit die tabel is dit duidelik dat plaaslike prystendense redelik goed korreleer met dié van internasionale pryse in randwaarde – behalwe dat plaaslike stikstof- en fosfaatpryse nog opwaarts kan neig.

Dit is nie die pryse wat belangrik is nie, maar die persentasieverandering. Internasionale pryse is gebaseer op pryse in internasionale hawens en plaaslike pryse is gebaseer op gemiddelde pryslyspryse.

Tabel 6 toon aan wat die afgelope maand met plaaslike kuns­mispryse gebeur het. Behalwe vir kaliumchloried het grondstofpryse re­delik toegeneem vir September, veral wat stikstofpryse betref.

Wat word verwag vir die res van 2020?
Dit voel of internasionale kunsmispryse weer begin kop optel, nadat dit in die middel van 2020 ’n laagtepunt bereik het. Die swak waarde van die rand help plaaslike produsente beslis nie hiermee nie. Die wissel­koers in Oktober gaan dus redelik bepalend wees vir wat somergraanprodusente uiteindelik vir kunsmis sal moet opdok.

Klik op dié ikoon om na ’n potgooi te luister waarin Corné ’n kort opsomming van hierdie artikel gee.