Akademikus, produsent en brugbouer

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 7 September 2020

1127

Prof Danie Vermeulen, dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat (UV), glo dat landbou in Suid-Afrika kerngesond is. Hy skryf dit toe aan die vernuf en kwaliteit van die land se produsente en die ondersteuning wat hulle van landbouorganisasies ontvang.

Die vertrouensverhouding tussen universiteite en die bedryf is vir hom van kardinale belang en hy glo daarin om brûe te bou om sodoende te verseker dat landbou vooruitgaan. SA Graan/Grain het met hom gesels oor sy loopbaan as navorser, akademikus en produsent.

Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is in Walvisbaai in Namibië gebore. My pa het by Omaruru geboer en ons het in Otjiwarongo skoolgegaan. Later in my hoërskoolloopbaan het my pa grond gekoop by Carnarvon (my ouers was beide Karoo-kinders), waar ek gematrikuleer het. Ek het my studies aan die Universiteit Stellenbosch voortgesit.

Waar het jou belangstelling in die wetenskappe begin?
As kind wou ek net altyd laboratoriumstelle gehad het, maar die natuur het my die meeste geprikkel. Water het my nog altyd gefassineer, seker omdat ek in die droë dele van die land grootgeword het. Aanvanklik wou ek medies studeer, maar my pa was oortuig dat ek nie vasgevang in ’n spreekkamer sou wou wees nie. Hy het voorgestel dat ek Geologie studeer. Na my studies het ek my loopbaan as ’n myngeoloog op Copperton afgeskop, en dit was veral die studie van grondwater wat my belangstelling geprikkel het.

Later sou ek by Barkly-Oos begin boer, waar ek saam met my skoonpa vir water geboor het. My skoonpa was self ’n produsent wat deeltyds ’n paar boormasjiene bedryf het. Op 43 het ek besluit om deeltyds te studeer, want ek wou meer van grondwater verstaan. Ek het nooit die idee gehad dat ek voltyds akademikus sou word nie – my stokperdjie word toe my werk en andersom. My ou universiteitsvriende lag altyd van verbasing as hulle hoor ek is in die akademie; my profiel pas nie eintlik in daardie rol nie.

Watter studieveld interesseer jou die meeste?
Ek is ’n geohidroloog en die passiewe behandeling van suur mynwater is my belangstellingsveld. Grondwatervolhoubaarheid, die aanvulling van grondwater en hoe ons dit bestuur (of die gebrek daaraan) lê my na aan die hart. Boerdery bly egter my groot liefde. Dit was nogal ’n uitdaging toe ek dekaan word om nie op my boeremanier die landbou-akademici te wil voorskryf nie.

Die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe het in 2018 bykans 50% van die UV se PhD’s gelewer. Waaraan skryf jy die suksesse toe?
Ek dink natuur- en landbouwetenskaplikes is meer geneig om verder te studeer as ander dissiplines, maar ons het ook programme in plek in die fakulteit om die akademici aan te moedig om klaar te maak. Ek sê altyd vir die personeel dat solank jy beurse aanbied, sal studente die geleentheid aangryp en verder studeer. Gaan soek geld in die bedryf en bied beurse aan vir navorsingsprojekte. As akademici kan ons egter nie bakhand staan nie, ons moet ’n diens aan die bedryf lewer.

Wat is na jou mening die gehalte van navorsing in landbou?
Die gehalte van navorsing is baie goed. Daar is ’n jong groep entoesiastiese navorsers in landbou wat moet oorneem by die ouer geslag – daar is maar min akademici in die tusseningroep. Daar is egter groot haakplekke, soos die tydperk wat dit neem om die projekte te voltooi en ook die feit dat navorsers in “silo’s” werk. My droom is om bestuurders met bedryfsondervinding aan te stel, wat die “silo’s” by mekaar kan bring om die navorsing te koördineer. Die wenresep is om na die bedryf te luister en brûe te bou. My eerste indrukke as dekaan was dat daar ’n gebrek aan vertroue binne die bedryf is. Ek glo universiteite moet hard werk om die vertroue van die bedryf en die produsente te herstel.

Wat is nodig om die navorsing verder te verbeter?
Ons is besonder gelukkig by die UV dat ons ’n rektor het wat ons ondersteun en die belangrikheid van landbou besef – dit maak my taak aansienlik makliker. Ons werk tans aan ’n strategie om ou tegnologie te vervang, maar dis ’n duur en lang uitgerekte proses.

Simulators word tans ondersoek, waar ons studente praktiese vaardighede kan aanleer sonder dat hulle fisies in die veld moet kom of ’n dier moet hanteer – ’n voorbeeld hiervan is ’n simulator om disseksies te doen. Sodoende sal ons groter getalle studente meer sinvol kan akkommodeer.

Dit is belangrik dat ons na internasionale standaarde kyk. Gaan oorsee en sien wat in die wêreld gedoen word. As leek het ek verskeie reise meegemaak om daardeur te verstaan wat die wêreld van ons vra en hoe ons die volle waarde tot die voedselketting en voedselsekerheid kan toevoeg. Wat ons jong navorsers nodig het, is mentors.

Prof Danie Vermeulen, wat aan die hoof staan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe by UV, se eerste liefde is boer. Hy moedig sy studente graag aan om soveel moontlik tyd in die veld te spandeer.

’n Proefplaas vir praktiese opleiding is van kritieke belang. In die verlede het die meeste landboustudente van ’n plaas af gekom, maar deesdae was die meeste nog nooit op ’n plaas gewees om ’n skaap se bek oop te maak, wol te hanteer of ’n koei se speen te trek nie. Hulle weet nie hoe werk ’n trekker, baler of planter nie. Ek glo elke student, afgesien daarvan of hy/sy gaan boer of nie, moet boerdery eerstehands ervaar en beleef. Internskappe op die proefplase is ook ’n wonderlike geleentheid vir na­graadse studente om beter opleiding te kry.

Ons belê tans geweldig baie geld daarin om dekades se agterstand op die proefplase weer te probeer inhaal. Soos wat ek van ander universiteite hoor, het hulle dieselfde probleem. ’n Proefplaas kan nooit winsgewend wees soos kommersiële boerderye nie, want ons lewer ’n klomp akademiese dienste, maar my leuse is dat jy so na as moontlik aan selfonderhoudend moet wees. Ons het onlangs saaigrond bygekry, sodat ons alle fasette van landbou kan dek. Daarby het ons ook weer met ’n melkery begin en ons nuwe sensoriese laboratorium voeg geweldig baie waarde toe. Ek glo apparaat moet verbeter word sodat ons die nuutste tegnologie het.

Dit kan egter nie alleen gedoen word nie en die bedryf kan ’n groot rol speel deur in landbounavorsing te belê. Ons moet die professionele persone van die toekoms oplei, nie net produsente nie.

Watter raad gee jy graag aan studente?
Die sokkerlegende, Pelé, het gesê: “Success is no accident. It is hard work, perseverance, learning, studying, sacrifice and most of all, love of what you are doing or learning to do.” Doen waarvoor jy lief is, nie wat pa en ma van jou verwag nie. As ’n student nie wil opstaan en klas draf nie, is hy/sy nie geïnteresseerd in wat hulle studeer nie. Natuurlik moet die dosente ook so klas aanbied dat die student se belangstelling geprikkel word.

Wat maak jou opgewonde oor die stand van landbou in Suid-Afrika en waaroor is jy bekommerd?
Die entoesiasme en kwaliteit van ons produsente en die ondersteuning wat hulle kry van die bedryf, maak my opgewonde. Kyk maar net na die NAMPO Oesdag en wat dit produsente bied. Landbou is kerngesond. Die feit dat ons in so ’n droë land so geslaagd voedsel kan produseer, maak dat ek glo daar is ’n toekoms. As ek van die suksesvolle boerderye besoek, is ek verstom oor hoe hulle wetenskap en tegnologie gebruik om sukses te behaal. Daar is vir seker tegnologiese vooruitgang. Niks kry ons produsente onder nie, hulle staan net elke keer weer op. Kyk maar net na die droogte in groot dele van die land – dit kry hulle nie onder nie.

Ook die feit dat daar soveel belê word in agtergeblewe boere deur organisasies soos Graan SA asook die finansiële steun wat ons by die universiteit kry om sulke boere op te lei. Ons gaan nêrens kom as ons nie hierdie boere saamneem nie. Ek het onlangs ’n artikel gelees oor die geweldige bydrae wat kleiner en bestaansboere tot voedselproduksie in die land maak.

Waaroor is ek bekommerd? Die feit dat politici die landbou gebruik as ’n speelbal om hulle doelwitte te bereik en soveel onwaarhede verkondig. Plaasveiligheid en grondhervorming sonder vergoeding is nog bekommernisse asook die stand van ons watervolumes, veral grondwater in die droër dele van die land. Diefstal van vee en gesaaides ook, maar dit gaan nie regkom voordat die regering nie die sosiale probleme en agterstand in hierdie land takel nie.