Nuwe kompetisie laat jou groei vir goud

Gepubliseer: 12 Junie 2020

1887

Graan SA se Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie het graanprodusente van regoor Suid-Afrika behoorlik aan die praat. Produsente kan in verskillende kategorieë, waaronder droëland en besproeiing, meeding.

Die kompetisie word opgedeel in streek- en nasionale deelname. Innoverende produksiepraktyke en slim boerderyplanne sal aangemoedig word om die hoogste opbrengste per hektaar te behaal, ongeag die kultivar wat geplant is. Die kompetisie is die enigste in sy soort wat deur Graan SA aangebied word en sal die produksie van mielies, koring, sonneblom en sojabone insluit.

“Opbrengs is ’n belangrike komponent van ’n graanprodusent se winsgewendheid en effektiwiteit. Dit is dus belangrik om te leer wat moontlik gedoen kan word om opbrengste te verhoog en onder watter omstandighede,” het dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking van Graan SA, by die bekendstelling gesê.

’n Kompetisie soos dié bied die geleentheid om genetika en tegnologie se uiterstes te toets, maar gee produsente ook kans om by mekaar te leer wat moontlik is. Die hoogste opbrengs het natuurlik nie altyd die optimale winsgewendheidsvlak nie, maar dit laat produsente toe om te sien waar die grense lê en wat vermag kan word.

“Graan SA is daartoe verbind om die effektiwiteit en volhoubaarheid van graanprodusente te bevorder. In ’n omgewing met wisselvallige produksietoestande en markte, kan innoverende praktyke om hoë opbrengste te bewerkstellig vir produsente van onskatbare waarde wees. Watter beter geleentheid is daar vir produsente as om van hul eweknieë te leer?” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê.

Dié nasionale opbrengskompetisie bied saadmaatskappye verder die geleentheid om hul eie kompetisies te vestig en sodoende ook die plattelandse omgewing te ondersteun. Daar is reeds talle bestaande projekte wat onder meer skole, kerke en niewinsgewende organisasies ondersteun. Die nuwe kompetisie gee almal die geleentheid om eie inisiatief aan die dag te lê, maar ook om deel van die nasionale kompetisie te wees. Die formaat stel individuele produsente in staat om in te skryf en bied verder aan saadmaatskappye die opsie om drie van hul beste opbrengste in elke kategorie in te skryf.

In konsultasie met saadmaatskappye het Graan SA ’n standaardprotokol opgestel ter ondersteuning van ’n formaat vir die nasionale kompetisie om deursigtigheid en standaardpraktyke te verseker sodat regverdige vergelykings getref kan word.

Besoek www.groeivirgoud.co.za vir meer inligting.