Produsente voer verskeie redes aan waarom hulle nie grondbone as verbouingsgewas oorweeg nie. Sekere redes is gegrond, terwyl ander persepsies ongegrond is. Dit bly egter belangrik om ondersoek in te stel na waarom produsente die produksie van grondbone nie oorweeg nie.
Vir kleiner produsente kan die verbouing van grondbone definitief ’n lonende opsie wees. Indien die besigheid se beperking oppervlakte is, moet die produsent die gewas wat die hoogste bruto marge per hektaar lewer, produseer. Op ’n klein stukkie grond kan grondboonverbouing heelwat wins maak. Die besigheid is ook nie so groot dat die bestuur van die boerdery ’n probleem behoort te wees nie. Die risiko’s van grondboonverbouing sal vir seker deur die inkomsteverhoging oortref word.
Winsgewendheid
Graan SA versamel jaarliks inligting oor die werklike produksiekoste van ’n verskeidenheid gewasse. As hierdie gewasse se winsgewendheid vergelyk word, bly grondbone een van die winsgewendste gewasse om te verbou. In Grafiek 1 word die winsgewendheid van grondbone met die van mielies in die Noordwes-Vrystaat vergelyk.
Uit hierdie grafiek is dit duidelik dat grondbone vanaf 2007/2008 tot 2017/2018 elke jaar meer geld as mielies gemaak het. Oor die laaste tien jaar het grondbone mielies met meer as 200% oortref. In hierdie syfer is die waardevermindering ook in aanmerking geneem. As die syfer oor ’n aanplanting van 50 hektaar geprojekteer word, is die inkomsteverhoging vir die laaste tien jaar ’n allemintige R1,44 miljoen, wat ’n aansienlike verbetering vir die plaas sou wees.
Deur die winste met mekaar te vergelyk, word slegs een deel van die prentjie weergegee. As die winste bo die insette vergelyk word, kom nog ’n interessante prentjie na vore. In Grafiek 2 word die wins as persentasie van die totale insetkoste uitgedruk.
Uit hierdie inligting is dit duidelik dat grondbone se winste oor tyd nie elke jaar meer as die insette is nie, terwyl mielies se winste nie een jaar meer as die insetkoste is nie. Daar is wel sommige jare waar die grondboonwinste baie meer as die insette is. Dit is tydens hierdie jare dat grondbone oor tyd die winste opstoot, sodat dit meer as die totale produksiekoste is. Dieselfde kan nie van mielies gesê word nie. In goeie jare kan mielies nie fondse opbou nie en dit is een van die redes waarom produsente die aanplant van grondbone behoort te oorweeg.
Grondbone kan beskou word as ’n spesialisgewas wat beide arbeid- en bestuursintensief is. Dit is ook vatbaar vir baie peste en plae. ’n Grondboonprodusent behoort bykans daagliks deur die lande te loop om moontlike probleme te identifiseer, want siektes kan ’n groot gedeelte van die winste wegneem. Dit is ’n gewas wat eerder proaktief as reaktief bestuur moet word en ’n produsent moet seker maak dat genoeg tyd daaraan afgestaan kan word. Implemente en toerusting moet tydig beskikbaar wees om hierdie gewas suksesvol te verbou. Daarmee saam moet seker gemaak word dat bespuiting tydig plaasvind. ’n Produsent wat besluit om grondbone te verbou, moet aktief op die verbouing van die gewas bly fokus.
Kennis is mag
Genoegsame kennis van grondbone se verbouing, siektes en hulpbronvereistes moet opgedoen en jaarliks opgeskerp word om probleme vroegtydig te identifiseer. ’n Produsent moet weet waar om aan te klop vir oplossings. Maak in die eerste plek seker dat hulpbronne die verbouing van grondbone pas deur byvoorbeeld die volgende vrae te beantwoord. Is die kleipersentasie van die grond gepas vir grondboonverbouing? Is daar nie dalk verdigtingslae nie? Is die grond nie te vlak en versuip dit maklik nie? Pas die verwagte reënvalpatroon die vogbehoeftes van grondbone?
Hulpbronne
Opleiding van permanente werkers is ’n voorvereiste. Arbeidsverhoudinge kan baie tyd en energie in beslag neem. Om grondbone winsgewend te verbou, moet hulpbronne, insluitend menslike hulpbronne, so effektief en doeltreffend moontlik aangewend word. Die meerderheid werkers ken nie meer grondboonverbouing nie en daarom moet hulle opgelei word om hierdie gewas te leer ken. Die identifisering van probleme is nie so maklik nie en ’n goeie oog is nodig om die gewas te bestuur.
Struikelblokke
Die tydige identifisering van siektes, peste en plae wat grondboonproduksie kan benadeel, is uiters belangrik. Sommige van die bakteriële en swamsiektes kan deur weerstandige kultivars beheer word, maar die tydige chemiese beheer daarvan bly uiters belangrik. ’n Produsent moet dus seker maak dat hierdie siektes en plae hom nie onkant betrap nie.
Blaarvlek en onkruid is aspekte wat opbrengste baie vinnig benadeel en waaraan daar aandag gegee moet word. Maak gebruik van geregistreerde chemiese produkte wat toelaatbaar is om hierdie struikelblokke te oorkom. Daar is tans goeie onkruiddoders beskikbaar wat in staat is om ’n grondboonland onkruidvry te hou. Praat gerus met ’n chemiese verteenwoordiger oor hierdie aspekte.
Aalwurms se bydrae tot opbrengsverlies is ook beduidend. Maak seker dat hierdie klein (maar effektiewe) winsdiewe doeltreffend beheer word. Identifiseer watter aalwurms in die lande voorkom en kies die regte kultivars wat die meeste verdraagsaam is, maar beheer ook die aalwurms op die regte tyd met die regte middels. Chemiese beheer van aalwurms moet met ’n chemiese verteenwoordiger bespreek word.
Die bewerking van grondbone het sonder twyfel ook uitdagings. Die algemene aanbeveling is om die lande voor plant baie fyn en gelyk te bewerk en om die saad vlak te plant. Dit het tot gevolg dat wind, veral by die sandgronde van die westelike dele, groot skade kan aanrig. Doen dus vroegtydige stappe om windskade te beheer. Die opvolggewas na grondbone is ook baie blootgestel aan dié soort skade. Die uithaal van grondbone en die wegneem van die oesreste laat die grond kaal, met ’n baie goeie kans van windskade.
Gewasbeplanning is dus van uiterste belang – nie net oor wat geplant kan word nie, maar ook of die grondbone nie deur vorige onkruiddoders benadeel sal word nie. Maak ook aktief planne om die windskade vir die volgende gewas te beperk.
Plantdatum
Die plantvenster van grondbone was die laaste paar jaar weens die laat reën baie kort. Produsente wat grondbone wil plant, moet gerat wees om die grondbone binne dié kort tydjie geplant te kry. Hou die lande se bewerking, vogbestuur en onkruidbestuur op standaard, want met die eerste reën sal daar dalk geplant moet word. Die belangrikheid van grondvog tydens plant kan nie oorbeklemtoon word nie.
Verder is die tydige uithaal van grondbone van kardinale belang. Die uithaalproses moet binne drie weke afgehandel word en ’n produsent moet seker wees dat hy die kapasiteit het om dit te kan doen. Hierdie proses kan dalk baie arbeid benodig of moet gemeganiseer word. Toerusting vir grondboonverbouing is ongelukkig besonder duur – maak dus seker dat dit ekonomiese sin maak om te meganiseer.
Ekonomie van skaal
Skaalvoordele is ook by grondboonverbouing belangrik. Daar moet genoeg oppervlakte geplant word om die ekstra masjinerie en toerusting te kan aankoop en te kan terugbetaal. Hierdie toerusting moet sorg dat die nodige kwaliteit en gehalte grondbone gelewer word. Indien die kapitale uitleg wel aangegaan word, kan ’n produsent nie maklik omdraai nie. As die skaal van die boerdery te klein is om die masjiene te regverdig, kan meer as een produsent dit saam koop en gebruik.
Vertroue tussen die produsent en die koper bly van uiterste belang. Dit is belangrik om die regte koper te identifiseer. Die produsent wil genoegsaam vergoed word, terwyl die koper waarde vir sy geld wil hê. ’n Produsent moet homself vergewis van wat in die kontrakte staan. Wat is die bepaling indien die kontrakte nie gelewer kan word nie en word die produsent se regte in die kontrakte beskerm?
’n Produsent moet homself afvra of hy kans sien om tyd aan grondboonverbouing af te staan, hoeveel hektaar grondbone hy moet verbou om winsgewend te wees en wat hy gaan doen om hierdie inkomste te verseker. Indien hy hierdie vrae positief kan beantwoord, mag grondboonverbouing dalk net ’n uitstekende opsie wees om te oorweeg.
Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.