Pas beesstelsels aan vir beter kans op wins

Gepubliseer: 24 Maart 2020

189
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Die veebedryf, soos baie ander bedrywe, gaan gebuk onder omstandighede wat tot laer winste lei. Doeltreffendheid en effektiwiteit moet deurgaans verhoog word om kostes te beperk en sodoende ’n beter kans op wins te hê.

Bemarking is net so belangrik soos produksie, veral in die veebedryf waar produksie baie seisoenaal van aard is. Binne die seisoenaliteit van produksie is die aanbod tydens bemarking hoog, wat weer pryse sal beïnvloed. Dit is daarom belangrik dat produsente weet hoeveel dit hulle gaan kos om vleis te produseer en of dit die moeite werd is om hul stelsel aan te pas.

Produsente besin gereeld oor hoe om die veevertakking se winsgewendheid te verhoog. Moet daar nie dalk na ’n ander veeproduksiestelsel oorgeskakel word nie? Om stelsels met mekaar te vergelyk, is gewoonlik nie so maklik nie en onvolledige inligting kan tot die verkeerde antwoorde lei. Dit is dus belangrik dat alle inligting beskikbaar moet wees en dat dit reg vertolk word.

Kry die basiese in plek
Afgesien van die tipe produksiestelsel, moet die basiese aspekte van veeboerdery in plek wees en bly.

Dit sluit die volgende in:

  • Voldoende ruvoer moet ten alle tye beskikbaar wees – met ander woorde, genoeg kos regdeur die jaar.
  • Die regte byvoeding om die diere se behoeftes en die voer te balanseer, is belangrik.
  • Daar moet in siklus met die hulpbronne geproduseer word.
  • Voldoende skoon water is noodsaaklik.
  • Tydige en voorkomende siekte- en parasietbeheer moet toegepas word.
  • Moet nie te veel koeie vervang nie, maar moet ook nie te lank neem om dit te doen nie.

Verskillende beesproduksiestelsels
Die beesstelsels wat met mekaar vergelyk word, is ’n tipiese speenkalfstelsel, ’n 18-maandebemarkingstelsel, ’n 36-maande-osstelsel en dan die nuwe speenkalfstelsel (waar April- speenkalwers oorwinter word en dan net na die winter verkoop word om vir die Kersmark afgerond te word). Elke stelsel is uniek – die reëls, kuddesamestelling, bemarkingstye asook risiko’s verskil.

Droogtes is deel van landbou in Suid-Afrika, daarom word die veestelsel dikwels as die “plaas se bank” gebruik. Dit beteken as die graanvertakking swaar trek, staan die vee in en as die graan baie wins maak, word vee aangekoop om belasting te beperk. In ’n uiterste droogte soos wat tans in die land ervaar word, moet produsente noodgedwonge besluit of vee verkoop of gevoer moet word. Ongelukkig sal net die weer bepaal of die besluit reg of verkeerd was.

Elke veestelsel hanteer dieselfde klimaatsrisiko’s verskillend en so sal die effek van droogte die stelsels verskillend beïnvloed. In ’n droogtejaar sal ’n gedeelte van die koeie in ’n speenkalfstelsel verkoop moet word, terwyl net ’n gedeelte van die kalwers in die ander stelsels verkoop kan word. Die diere wat verkoop word se pryse en beskikbare kopers sal ook verskil. Dit is algemene kennis dat die koeie in ’n speenkalfstelsel moeilik en teen lae pryse verkoop sal moet word. By die ander stelsels kan die kalwers redelik maklik van die veld verwyder word en self gevoer of aan voerkrale verkoop word. As die droogte verby is, sal die volgende slag die speenkalfstelsel tref. Ten einde die plaas weer op vol produksie te kry, sal koeie aangekoop of verse teruggehou moet word. Weer eens is daar ’n onbeplande uitgawe en boonop sal die diere duurder aangekoop word as waarteen dit verkoop is.

Die effektiwiteit van die stelsels verskil ook dramaties. In die speenkalfstelsel produseer die koeie die enigste bron van inkomste, naamlik die kalwers. As die koeie oor welke rede ook al ’n lae kalfpersentasie het, sal die winsgewendheid dramaties beïnvloed word. ’n Hoë kalf- en speenpersentasie is ten alle tye ’n voorvereiste vir winsgewendheid. Dit is moeilik – maar moontlik – om oor tyd ’n kalfpersentasie van bo die 90% te handhaaf. Die ander stelsels se bron van inkomste is nie net die koeie nie, maar ook die kalwers wat reeds geproduseer is en groei. Hierdie kalwers moet so goed as moontlik groei, maar mortaliteit moet tot die minimum beperk word. Gewoonlik is hierdie kalwers op die plaas gebore en behoort hul mortaliteit oor die algemeen laag te wees. Dus is die produksierisiko’s in hierdie stelsels baie minder as in ’n speenkalfstelsel. Dit het ’n groot effek op die winsgewendheid van die stelsel. Die speenkalwers in die speenkalfstel – sel moet binne ’n sekere tyd verkoop word, anders is daar pryspenalisasie en word die produserende koeie se kos opgevreet. Die ander stelsels het in ’n mate meer vryheid wat bemarking betref, maar die diere moet ook binne ’n sekere tyd verkoop word, anders gaan daar ’n voervloeiprobleem ontstaan.

Kritieke suksesfaktore
Alhoewel die stelsels verskil, bly die kritieke suksesfaktore van die verskillende stelsels dieselfde. Koeie moet produseer en die kalf- en speenpersentasie en speengewigte moet altyd beskerm word. Die veegetalle moet deurgaans binne die drakrag van die weiding bly. As daar ’n tekort aan kos is, gaan dit die produksie benadeel. Lekke moet by die behoefte van die diere en die voorsiening van die veld aangepas word. Dit moet nie as ’n voerbron gesien word nie, maar as byvoeding. Die lekke se inname moet volgens verwagting wees om te verseker dat die diere die nodige elemente inkry. Tog moet dit die winsgewendheid van die stelsel verbeter, anders maak dit nie sin om dit te gebruik nie. Die diere se gesondheid moet altyd goed wees en beide inwendige en uitwendige parasiete moet tydig en verkieslik voorkomend beheer word. Die neem van gereelde mismonsters kan die dosering en die effektiwiteit daarvan help bepaal.

Die verskillende veestelsels se kuddesamestelling verskil dramaties. ’n Plaas wat ongeveer 100 grootvee-eenhede (GVE) kan dra, sal in ’n speenkalfstelsel ongeveer 60 koeie kan dra, terwyl dit in ’n 18-maandebemarkingstelsel sowat 44 koeie en in ’n 36-maandebemarkingstelsel slegs 32 koeie sal kan dra. Die res van die drakrag sal deur vervangingsdiere, kalwers of groeiende diere opgeneem word.

Grafiek 1: Die langtermyntendense van produsentebeesvleispryse vir C-grade.
Bron: AMT

Prystendense
Verskillende stelsels het hul eie bemarkingstye en verskillende tipes diere sal bemark word. Die lentekalf-speenkalfstelsel sal hoofsaaklik speenkalwers asook ou diere tydens April bemark, terwyl die 18-maandestelsel hoofsaaklik afgeronde 400 kg-beeste gedurende Maart tot Mei aan die mark kan lewer. In die 36-maandestelsel sal volgroeide, afgeronde osse gedurende Oktober tot Desember aan die mark gelewer word. Vir hierdie tye is daar vir seker verskillende pryse wat geld en dit is belangrik om die vraag en aanbod in die mark in ag te neem.

Gewoonlik is die C-grade goedkoop wanneer die ou koeie verkoop word. Dit maak sin om eerder die ou koeie later te verkoop en eers waarde tot hulle toe te voeg.

A-grade se prys volg definitief ook sekere tendense. Dis laag in Januarie en Februarie en neem dan redelik konstant toe tot April-maand, waarna dit styg tot en met Kerstyd. Hou dit in gedagte as A-grade bemark word. Die hoofdrywer hiervan is die aanbod van en aanvraag na vleis.

Grafiek 2: Die langtermyntendense van produsentebeesvleispryse vir A-grade.
Bron: AMT

Soos in Grafiek 3 aangetoon, is dit duidelik dat daar baie skakeling tussen die algemene vleisprystendens en die produksiesiklus van speenkalwers is. Pryse is laag in die tye waar daar ’n ooraanbod van vee is en styg wanneer daar ’n tekort is. Soos in die grafiek gesien kan word, is die algemene speenkalfpryse laag van Maart tot en met Junie, wanneer die pryse weer begin styg na Desember toe.

Dit is egter nie net vraag en aanbod wat die pryse van vee bepaal nie, maar ook ander aspekte soos die algemene stand van die ekonomie, die mielieprys asook die prys van hoendervleis – om maar net ’n paar te noem.

Grafiek 3: Prystendens van speenkalwers.
Bron: AMT

Winsgewendheid
Die algemene persepsie bestaan dat speenkalfstelsels die laagste winsgewendheid lewer. Gegewe hierdie inligting is dit duidelik dat die winsgewendheid per stelsel, behalwe vir die 36-maandestelsel, nie baie van mekaar verskil nie. Dit is dus duidelik dat die stelsel waarbinne geboer word nie noodwendig die winste dramaties beïnvloed nie.

Indien die 18-maandebemarkingsisteem gebruik word, is dit belangrik om ’n mark vir die afgeronde diere te verseker. Onthou daar word meegeding met ander vleisprodusente wat maandeliks vee aan die verbruiker en slagters kan lewer. Dit sal goeie praktyk wees om vooraf met ’n vleiskoper ooreen te kom om mark-klaar diere te koop.

Wat die produksie in die stelsel betref, sal die vee waarmee geboer word die vermoë moet hê om afgeronde diere te produseer voordat die diere begin wissel. Indien die diere reeds wissel en dan eers afrond, sal dit die prys van die vleis benadeel en so die winsgewendheid van die stelsel laat daal.

Indien die speenkalwers na die winter verkoop word, is dit belangrik dat die verwagte prysverhoging en massatoename die ekstra voerrekening kan diens. Maak dus seker hiervan voor die besluit geneem word om die speenkalwers terug te hou vir bemarking in ’n latere stadium.

Alles in ag genome, is dit nie werklik die keuse van stelsel wat die winsgewendheid van die veeboerdery bepaal nie, maar eerder die effektiwiteit en produksie van die stelsel wat gevolg word. Deur die effektiwiteit en produksie van die huidige stelsel te verhoog en dalk klein bemarkingsaanpassings te maak, sal die winsgewendheid dramaties verbeter.

Die vervangingsbeleid van koeie is ook ’n aspek wat meer aandag vereis. As koeie te vinnig vervang word, moet daar meer vervangingsdiere gedra word, wat plek van diere opneem wat moet produseer. Maar as die koeie te lank in die kudde gehou word, sal dit sonder twyfel die produktiwiteit van die kudde benadeel. Hier speel ras ’n rol. Sommige rasse se koeie bly langer produktief, terwyl ander rasse se koeie vinniger vervang moet word. Maak seker wat die kudde se koeidoeltreffendheid is en gebruik dit as norm om te bepaal wanneer koeie vervang moet word. Dit het ’n reuse-impak op winsgewendheid.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.