Oliesade: Graan SA en SAGF fasiliteer belangrike gesprekke

Gepubliseer: 7 Februarie 2020

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan

1689

Die Suid-Afrikaanse Grondboonforum (SAGF) het in samewerking met Graan SA en verskeie grondboonverwerkingsaanlegte drie grondbooninligtingsdae in Oktober 2019 aangebied. Die voorsitter van die SAGF, Adri Botha, sê daar is tydens dié dae belangrike inligting rakende die strukture wat in belang van die oliesade-industrie optree, gedeel.

“Ons weet uit persoonlike ervaring en bevindings van die BFAP Volhoubaarheidstudie (2012) dat daar ’n groot mate van wantroue tussen sektore van ons industrie bestaan, maar spesifiek ook onder baie van ons produsente. Na aanleiding van hierdie studie en gesprekke by die Forum het ons daaraan gewerk om van die grootste knelpunte in die bedryf te probeer aanpak. Aan die reën kan ons self niks doen anders as om te bid nie, maar ’n paar ander projekte is geloods om begrip en gesonde, verantwoordelike samewerking tussen die sektore te bewerkstellig.”

Tydens sy voorlegging het Gerhard Keun, administrateur van die Olie- en Proteïensade-ontwikkelingstrust (OPOT) produsente ingelig oor die werksaamhede en administrasie van die trust en die Oliesade-advieskomitee. “Daar is ’n redelike mate van onkunde op grondvlak rondom die strukture wat in belang van die oliesade-industrie saamwerk. Dit is vir ons baie belangrik dat produsente bewus is daarvan dat fondse beskikbaar is en verantwoordbaar bestuur en aangewend word vir relevante navorsing en ontwikkeling, en wie die mense uit die industrieë is wat na hul belange daar omsien,” verduidelik Adri.

Graan SA se rol
Graan SA wat produsente by die Forum verteenwoordig, gee gereeld op verskeie wyses markinligting deur en by die grondbooninligtingsdae het Luan van der Walt (landbou-ekonoom, Graan SA) ’n plaaslike en internasionale markoorsig gegee. Hier was die belangrikste raakpunte dat die onstabiele plaaslike aanbod Suid-Afrika se plek in die wêreldorde ’n groot knou toegedien het, maar dat daar weens die verbouing van hoofsaaklik Spaanse-tipe grondbone steeds groot potensiaal in die internasionale mark is. Daar word verwag dat groter opbrengste en beskikbaarheid daardie orde in die toekoms kan herstel.

“Die belangrikste boodskap wat ons van Graan SA se kant af aan die produsente wou oordra, is aspekte waarmee ons besig is om ’n beter omgewing vir die grondboonprodusent te skep. ’n Meer deursigtige markomgewing ten einde die bemarking van grondbone makliker en beter te maak, is vir ons van optimale belang. Daar word ook gekyk na verskillende alternatiewe om die ontwikkeling van nuwe kultivars te stimuleer. Graan SA werk nou saam met ander rolspelers in die bedryf ten einde die hele bedryf te bevorder,” sê Luan.

Adri het Graan SA by die geleentheid bedank vir hul bereidheid om gereeld insette te lewer, terwyl hulle produsente se primêre belange op die hart dra. “As ons nie aanhou wegbeweeg van die ‘ons versus hulle en julle’-mentaliteit nie, gaan ons nie die sukses behaal wat moontlik en noodsaaklik is nie … en in hierdie verband het ek in die laaste jaar of twee gesien wat gedoen kan word indien gewillige mense besluit om na mekaar te luister en dan saam ’n verskil te maak.”

Waaroor is produsente bekommerd?
Oor die algemeen is produsente se twee grootste bekommernisse die omgewingstoestande en winsgewendheid. “Die afgelope paar jaar was moeilike jare vir grondboonproduksie, aangesien die reën elke jaar te laat gekom het en die planttyd verbygegaan het. Winsgewendheid bly ook steeds ’n redelike uitdaging. Dit gaan oor ’n kombinasie van produksie en prys. Na afloop van die inligtingsdae was die produsente meer opgewonde, omdat hulle besef wat daar vir die bedryf gedoen word en dat hulle bekommernisse aandag kry,” vertel Luan.

Luan van der Walt gee ’n markoorsig in die boeresaal op Setlagole.

Produsente het tydens die inligtingsdae die volgende kwessies op die tafel geplaas:

  • Die droogte was hoog op die agenda en dit was duidelik dat elke sektor, direk en indirek, hierdeur geraak is.
  • Prysdeursigtigheid bly steeds ’n sensitiewe saak, maar Adri sê hulle is vol hoop dat die wyse waarop Graan SA nou met die ondersteuning van die Forum en verwerkingsaanlegte die pariteitspryse publiseer, reeds baie sal help. “In die toekoms sal daar egter verseker moet word dat die inligting tot op grondvlak gesien en gebruik word. Daar is nou ’n goeie pakkie inligting vir produsente beskikbaar om te gebruik wanneer dit by onderhandelings kom.”
  • Die ander groot kommerwekkende saak is ’n tekort aan nuwe hoë-opbrengs- en kortgroeikultivars asook die beskikbaarheid van saad. Tydens die drie inligtingsdae is verduidelik dat daar deur middel van ’n spesiale werksgroep nouer met die Landbounavorsingsraad (LNR) saamgewerk gaan word om produsente te ondersteun en ook om gereelde en ingeligte terugvoer aan die industrie te gee.
  • ’n Verdere bekommernis is die beheer van aalwurm sonder die gebruik van Temik.
  • Die prysstruktuur in die industrie van plaas tot verbruiker wek kommer.
  • Daar is ’n tekort aan interaksie van groter rolspelers in die sekondêre industrie op produsentevlak (alhoewel genoem moet word dat hierdie rolspelers wel op forumvlak met die ander sektore saamgesels en waardevolle insette lewer).
  • Die effek van winderosie en ander kommoditeit-spesifieke aspekte op prys en kostemodelle is bespreek.

Volgens Luan was die produsentebywoning oor die algemeen goed. “Ons het redelik goeie terugvoergesprekke gehad en daar was oor die algemeen meer positiwiteit onder die produsente. Dit maak ’n beduidende verskil in die gemoed van die produsente wanneer die regte inligting met hulle gedeel word. Dit skakel persepsies uit en hulle kry die geleentheid om vrae te vra rakende die dinge wat hulle pla.”

Gerhard Keun, Luan van der Walt, Adri Botha en Christiaan Bouwer (produsent van Bothaville en lid van Graan SA se spesialiswerkgroep) by die inligtingsdag op Viljoenskroon.

Adri is dit eens dat die beste manier om wantroue aan te spreek die deel van kennis is. “Produsente kon nou direk van ons hoor waar en hoe die gesprekke plaasvind wat lei tot projekte en aksies om die industrie te ondersteun, en ook hoe die sektore onderling kan inskakel om te verseker dat besluite wat geneem word wel sal lei tot verbetering in die groter konteks. Baie min van wat ons doen, kan in isolasie gedoen word en die effek op die res van die industrie moet altyd met sorg en oorleg oorweeg word – en daarvoor is deelname van kritieke belang.”

“Gee grondbone ’n regverdige kans – vra die moeilike vrae, laat ons weet van nuwe knelpunte en gee positiewe terugvoer of erkenning wanneer moontlik of geregverdig. Die sukses van die industrie is in die hande van die produsente. Ons kan al die ander werk doen, maar dit help net as hulle in staat is om deurlopend en winsgewend te plant. Kom ons gee mekaar die voordeel van die twyfel en praat oor die feite waar nodig.”

Kontak Adri deur ’n e-pos te stuur na groundnutforum@opot.co.za