Nuwe heffing vir sojabone ingestel

156
Gert Heyns,
hoof uitvoerende
beampte, SACTA

In die internasionale graankommoditeitsmark word graanpryse bepaal deur die produksievlakke van die groot landboulande. Suid-Afrikaanse graanprodusente moet in hierdie mark kompeeer. Dit is dan ook hierdie lande wat toegang het tot die nuutste kultivars en ander gevorderde tegnologie, wat hulle produksievlakke optimaliseer.

Die hoër produksievlakke van graankommoditeite het daartoe bygedra dat kommoditeitspryse, in reële terme, oor die lang termyn gedaal het. Die Suid-Afrikaanse graanmark volg noodwendig hierdie neiging. Om volhoubaar oor die lang termyn te kan produseer, moet produsente dus hul produksievlakke per oppervlakte-eenheid verhoog.

In Suid-Afrika bestaan daar goeie wetgewing, die Wet op Planttelersregte (Wet 15 van 1976), wat die regte van planttelers beskerm. Hierdie wet beheer onwettige praktyke soos die onregmatige produksie van plantmateriaal vir plantdoeleindes, die verspreiding van graan vir plantdoeleindes, die onregmatige skoonmaak en verwerking van graan vir saad en die opberging van graan vir die doel van plant. Wat die wet wel toelaat, is dat ’n produsent graan van ’n gewas mag terughou vir die doeleindes van plant op sy eie plaas. Dit staan bekend as farmer’s privilege.

Selfbestuiwende gewasse soos koring, hawer, gars en sojabone is gewasse waarvan die graan teruggehou kan word om weer te plant. Hierdie graan wat geplant word, is geneties identies aan die oorspronklike saad en behoort teoreties dieselfde opbrengs as die oorspronklike aangekoopte saad te lewer.

Daarenteen vind ons dat in ’n gewas soos mielies, bastersaad gebruik word. Bastersaad is die produk van twee lyne wat onder gekontroleerde toestande aangeplant word met die doel om bastersaad te produseer. Die een lyn dien as die stuifmeelouer en die ander as die graanouer – so word die saad dus deur kruisbestuiwing geproduseer.

Bastersaad het die vermoë om baie hoë graanopbrengste te lewer, soos wat ons vandag byvoorbeeld in die mieliebedryf ervaar. Graan geproduseer van bastersaad kan egter nie weer as saad gebruik word nie, omdat die plante van die graan na die oorspronklike lyne sal segregeer en gevolglik laer opbrengste sal lewer.

Sojabone
Die Suid-Afrikaanse Saadorga­nisasie (SANSOR) beraam dat in die geval van sojabone, 80% van die saad wat deur produsen­te geplant word, te­ruggehou word. As gevolg van die hoë persentasie terug­housaad, is dit nie lonend vir saadmaatskappye om te belê in navor­sing en nuwe tegno­logie nie. Nuwe bio­tegnologie, wat reeds in ander lande beskikbaar is, is om hierdie rede nog nie in Suid-Afrika vryge­stel nie.

Sojabone is ’n uitstekende wissel­bou­gewas en met die uitbreiding van plaaslike perskapasiteit, beter gewasbestuur en ander verbouingspraktyke, sal meer produsente sojabone aanplant.

Die oppervlakte onder produksie van sojabone in Suid-Afrika het oor tyd geweldig toegeneem. Soos in Grafiek 1 gesien kan word, is 87 000 ha sojabone in 1990/1991 geplant, terwyl 787 000 ha in 2017/2018 aangeplant is. Die gemiddelde opbrengs in 1990/1991 was maar 1,4 t/ha, terwyl opbrengste die afgelope seisoen net onder die 2 t/ha was.

Grafiek 2 wys dat die gemiddelde opbrengs per hektaar in lande soos die VSA, Argentinië en Brasilië heelwat hoër is as ons plaaslike produksie in Suid-Afrika. Dit dui ook aan dat gemiddelde opbrengste in daardie lande redelik gestyg het sedert 1998, terwyl gemiddelde opbrengste in Suid-Afrika baie minder gestyg het.

Nuwe stelsel
Om te verseker dat Suid-Afrika kompeterend kan bly, moes ’n stelsel ontwikkel word waar saadmaatskappye verseker word dat hulle vir nuwe kultivars en tegnologie vergoed word. Wêreldwyd bestaan daar verskeie heffing- of tantiemestelsels wat gebruik word om vergoeding van selfbestuiwende variëteite en/of tegnologie te bewerkstellig. Sommige van hierdie stelsels is administrasie-intensief en vereis groot getalle perso­neel om dit te admi­nistreer. Hierdie tipe stelsels kan moontlik in groter produksielande suksesvol wees, maar in Suid-Afrika moes ’n eenvoudige, effektiewe en maklik-administreerbare stelsel gebruik word.

Suid-Afrika het onlangs ’n statutêre teling- en tegnologieheffing op koring, gars, hawer en sojabone afgekondig. Hier­die stelsel behels die betaal van ’n ooreengekome heffing op elke ton graan, vir die gewasse hierbo genoem.

Heffings is betaalbaar sodra die graan plaaslik deur produsente verhandel of uitgevoer word. Die heffing op sojabone tree op 1 Maart vanjaar in werking en sal ’n bedrag van R65/ton wees, tot en met 29 Februarie 2020. Op 1 Maart 2020 verander die heffing na R80/ton tot en met 28 Febru­arie 2021.

SACTA
Die South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) is ’n nie-winsgewende maatskappy wat gestig is om die hef­fingsfondse te administreer. Dit is die funksie van SACTA om dan na die aftrekking van hul administratiewe koste en 20% van die heffing, wat vir transformasie aangewend moet word, die balans van die heffingsfondse aan houers van planttelers­regte (saad- en tegnologiemaatskappye) volgens hulle markaandeel uit te betaal.

Die markaandeel van die onderskeie maatskappye word volgens ’n sekere formule bepaal. SACTA doen dus ’n beroep op produsente om, met graanlewering, so akkuraat moontlik te verklaar watter kultivars verbou is. Indien die kultivar nie verklaar kan word nie, sal die naam van die maatskappy aan wie die kultivar behoort, ook van groot hulp wees.

Hierdie model het reeds wye belangstelling gelok. Heelwat buitelande saadmaatskappye het SANSOR gekontak en navraag gedoen oor die stelsel. Die afgelope twee jaar reeds word die nodige evalueringsproewe vir die vrystelling van nuwe biotegnologie in Sud-Afrika geplant. Nuwe kultivars wat hierdie tegnologie bevat, behoort in die afsienbare toekoms beskikbaar te wees.