Die wondersaad

Gepubliseer: 12 November 2026

56

Beste Grootneef

Onlangs lees ek weer die besondere verhaal van lewe wat uit ’n dadelpalmpit van meer as 2 000 jaar oud ontsluit is.

In ongeveer 66 n.C. breek opstande teen die Romeinse owerhede in Judea uit en word die Romeinse magte uit die landstreek verdryf. Joodse magte neem beheer van Jerusalem en Masada. Nadat berigte van die opstande Rome bereik het, stuur keiser Nero ’n Romeinse legioen om die opstande in Judea te onderdruk.

Romeinse magte omsingel Jerusalem met ’n beleg wat tot groot hongersnood in die stad gelei het. Uiteindelik moes die Joodse leiers oorgee. Die Romeinse magte verwoes die stad, verbrand die tempel en takel dit tot op grondvlak af. Joodse oorlewendes word as slawe oor die hele Romeinse Ryk versprei. Hierdie gebeure het plaasgevind ongeveer 40 jaar na Jesus se kruisiging.

Masada was ’n bergspits in die woestyn langs die Dooie See, met hoë kranse maar ’n plat plato. Tydens die heerskappy van Herodes is Masada in ’n fort omskep, met paleise, voedselskure en enorme watertenks wat uit klip gekap is.

Na die val van Jerusalem ruk die Romeinse magte op na Masada. Soos met Jerusalem, was die strategie om Masada te omsingel en ’n muur om die berg te bou sodat niemand kon ontsnap nie.

Aanvalle teen die kranse van Masada was onsuksesvol. Die Romeine het toe met ’n unieke tegniek en strategie begin wat vandag nog sigbaar is, deur ’n pad teen die berg uit te bou. Stadig maar seker, dag na dag, is met die pad teen die berg gevorder. Joodse mans en vrouens wat in Jerusalem gevange geneem is, is as slawe vir die bouwerk gebruik.

In ’n laaste nag van tragedie het Joodse oorlewendes op Masada die besluit geneem dat hulle die dood bo slawerny ver­kies, en is die lot gewerp om manne aan te wys wat die moeilike daad moes voltooi om die oorblywende mans, vrouens en kinders om die lewe te bring. Die volgende oggend het die Romeinse magte 960 Jode dood op Masada aangetref.

Die winde het oor baie eeue heen oor Masada gewaai, maar die Romeinse pad berg-uit en die bouvalle van die paleise op Masada kan steeds gesien word. In 1963 het die Israeliese owerheid besluit om met argeologiese uitgrawings by Masada te begin. In een van die ou stoorkamers is ’n kleipot met dadelpitte daarin gevind. As gevolg van die droë toestande, maar ook omdat dit onderdak gestoor was, was die dadelpitte in ’n redelik goeie toestand. Dit, saam met ander vondste van Masada, is by die Bar-Ilan Universiteit uitgestal.

In 2005, 40 jaar na die ontdekking van die dadelpalmsade as deel van die Masada-versameling, het die navorser Sarah Sallon in samewerking met die botanis Elaine Solowey besluit om ’n proefneming te doen met die palmsade wat op Masada gevind is. Drie sade is uitgekies en is in Januarie 2005 geplant. Die wonderwerk, ses weke later, was dat een van die drie sade ontkiem het. Die boompie is Methuselah gedoop. Die boompie het van pot tot pot gevorder, elke keer effe groter, waarna dit in 2011 op die kibboets Ketura in die Arava-vallei uitgeplant is.

Die ongelooflike is dat die vrug van ’n dadelpalm uit die Bybelse tyd vir 2 000 jaar bo-op Masada gestoor is, daarna vir 40 jaar as deel van ’n argeologiese versameling bewaar is, en stééds ’n bron van lewe was.

Methuselah was ’n manlike palmboom wat stuif­meel gelewer het. Hierna, wéér ’n wonderwerk. Uitgrawings in die Jericho-omgewing het weer dadelpitte, netjies bewaar, gelewer. Die proef is herhaal en een saad het ontkiem. Dit was ’n vroulike palm en is Hannah gedoop. Navor­sers het versigtig die stuifmeel van Methuselah geoes en dit na Hannah oorgedra. In 2020 is die eerste dadels van Hannah geoes – 111 dadels in totaal.

Die wonderwerk: Saad is nie net ’n pit nie – dit is lewe. Hoede af vir ons boere wat jaar na jaar goud uit die grond uit laat groei met uitsonderlike prestasies om seker te maak dat ons land se mense nie honger hoef te gaan slaap nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.