WAAROM ONS UITNEMENDHEID VIER

Gepubliseer: 12 November 2026

60
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

’N PAAR DAE NÁ DIE GRAANPRODUSENT VAN DIE JAAR-TOEKENNINGS­GELEENTHEID, HET EK MYSELF BETRAP DAT EK MINDER DINK AAN WIE GEWEN HET EN MEER AAN WAAROM ONS AL DIE MOEITE DOEN OM UITSONDERLIKE PRODUSENTE TE IDENTIFISEER, HUL PLASE TE BESOEK, HUL ONDERNEMINGS TE EVALUEER EN HULLE UITEINDELIK TE VIER.

Graanprodusent van die Jaar is nie ’n skoonheidskompetisie of die Wêreldbeker nie. As jy die Wêreldbeker verloor gaan jy net aan, en as jy wen is daar ’n oorwinningsoptog deur die strate. Boerdery is baie meer ernstig as dit. Wanneer ’n sportspan verloor, is ondersteu­ners teleurgesteld – wanneer produsen­te herhaaldelik verliese ly, is die gevolge rampspoedig.

Mense verloor hul werk. Kapitaal wat oor geslagte heen opgebou is, word vernietig. Verskaffers verloor klante. Plattelandse dorpe word armer. Verwerkers word al hoe meer afhanklik van ingevoerde grondstowwe, wat die land buitelandse valuta kos en ons mededin­gendheid verswak. Uiteindelik betaal gewone Suid-Afrikaners die prys deur hoër voedselpryse en verhoogde druk op huishoudelike begrotings. Wanneer ons produsente egter suksesvol is, wen ons as land en skep hulle welvaart vir Suid-Afrikaners.

Vir boere is dit werklik ’n stryd om op die grond te bly. Dit is waarom ons produsente nie ter wille van glans vier nie. Ons vier hulle omdat hul toewyding en pre­stasies ons waardevolle lesse leer oor die verbetering van produktiwiteit, die verster­king van sakeveerkragtigheid, die omar­ming van innovasie – en uiteindelik hoe om te floreer in internasionale markte terwyl hulle boerdery-ondernemings vir toekomstige generasies bou.

Vanjaar se toekennings, wat met die tema “Saam bou ons aan môre” aangebied is, was die 27ste jaarlikse Graantoekennings. Ons het weer die aandag gevestig op produsente wie se ondernemings praktiese voorbeelde van wins­gewende en volhoubare boer­dery bied. Vir my kan dit waarna ons soek uiteindelik in drie vrae saamgevat word.

Eerstens: Kan jy buitengewoon goed produseer?
Verstaan jy jou grond, gewasse, klimaat, tegnologie en produksiestelsel goed genoeg om skaars hulpbronne konsekwent in opbrengs om te skakel?

Tweedens: Kan jy ’n volhoubare besigheid om daardie produksie bou?
Opbrengs sonder ’n marge is nie sukses nie. ’n Uitstekende oes wat die balansstaat swakker laat, is nie volhoubaar nie. Goeie agronomie en goeie ekonomie moet uiteindelik op dieselfde hektaar by mekaar uitkom.

Derdens: Bou jy aan iets groter as jouself?
Belê jy in mense, sorg jy vir die grond, deel jy jou kennis en dra jy by tot jou gemeen-
skap? En is jy hopelik besig om ’n boerdery-onderneming te bou wat veerkragtig genoeg is om tot in ’n volgende geslag voort te bestaan?

Die drie finaliste het hierdie eienskappe op uiteenlopende maniere uitgebeeld: Henk Michau het weer sy boerdery in die Oos-Vrystaat opgebou nadat hy aanvanklik op huurgrond begin boer het in Limpopo. Sy verhaal getuig van aanpassing, noukeu­rige meting en blywende verhoudings. Neethling Dippenaar se filosofie begin by die grond; dit kombineer grondgesondheid, presisie en voortdurende leer met rentmeesterskap oor geslagte heen. Pieter Nortjé het ’n onderneming gebou gegrond op nuuskierigheid, gedissiplineerde eksperimentering en bekwame mense aan wie werklike verantwoordelikheid toevertrou word.

Nortjé is uiteindelik aangewys as Graan SA/Syngenta se 2026 Graanprodusent van die Jaar. Sedert hy in 2014 sy eerste mielies geplant het, het hy naas die gevestigde sitrus-
onderneming by Sitrusrand ’n uitgebreide besproeiingsgraanboerdery ontwikkel. Ge-
sonde grond, beplanning, meting en bewese tegnologie staan sentraal tot sy benadering, maar so ook sy mense. Met aanvaarding van die toekenning het hy die erkenning met sy bestuurspan gedeel en produsente met ’n wonderlik eenvoudige uitdaging gelaat: “Wees positief. Wees hoopvol. Boer vir die toekoms.”

Dit verwoord dalk waarom hierdie toekennings belangrik is.

Landbouproduktiwiteit het nog altyd oor meer as net voedsel gegaan. Die vermoë om graan in voldoende hoeveelhede te produseer om meer mense vir langer tyd­perke te voed het die grondslag gelê vir die ontwikkeling van die beskawing. Deur ’n oorskot te genereer, het landbou mense in staat gestel om vaardighede op ander gebiede te ontwikkel, besighede op te bou en gemeenskappe te ontwikkel. Hierdie beginsel is vandag net so relevant as ooit tevore.

Die impak op landbou strek wyd
Maar landbou se bydrae strek ook veel verder. Dit is ’n manier waarop ons ’n toekoms vir ons kinders kan skep en ’n meer welvarende samelewing kan bou. Die voordele daarvan strek tot by werknemers en hul gesinne, insetverskaffers, kontrakteurs, vervoeroperateurs en verwerkers. Dit bereik ook plattelandse dorpe en plaaslike ondernemings, terwyl dit bydra tot uitvoer, beleggings en uiteindelik Suid-Afrika se voedselstelsel.

Ons ambisie behoort dus groter te wees as om landbou bloot as ’n bron van bekos­tigbare voedsel in stand te hou. Landbou moet ook ’n ekonomiese geleentheid vir landelike gemeenskappe bly – en dit vereis suksesvolle produsente.

Baie geluk aan Pieter Nortjé, ons 2026-wenner, en aan Henk Michau en Neethling Dippenaar, twee uitsonderlike finaliste. Die titel behoort aan een produ­sent, maar die lesse behoort aan ons almal.

En dit is waarom ons uitnemendheid vier.