Wisselvallige dieselprys’n kenmerk in 2026

Gepubliseer: 30 September 2026

98
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

DIE AFGELOPE JAAR IS GEKENMERK DEUR BUITENGEWONE WISSELVALLIGHEID IN DIE DIESELPRYS, AANGEDRYF DEUR INTERNASIONALE GEOPOLITIEKE SPANNING, ONTWRIG-
TINGS IN WÊRELD-OLIEVOORSIENING, WISSELKOERSBE-
WEGINGS EN PLAASLIKE BRANDSTOFHEFFINGS.

Ná ’n relatief gunstige begin van die jaar het die sluiting van die Straat van Hormoes vroeg in 2026 ’n skerp styging in dieselkoste veroorsaak, wat produsente se begro­tings onder druk geplaas het. Teen September – planttyd vir die grootste gedeelte van die somerreënvalgebied – was dieselpryse steeds beduidend hoër as ’n jaar tevore. Tabel 1 toon die dieselprysverandering maand tot maand vir 2025 en 2026.

In 2026 was die dieselprys heelwat meer wisselvallig en het dit beduidend hoër as in 2025 beweeg. Hoewel pryse gedurende die eerste kwartaal steeds laer as die vorige jaar was, het skerp stygings vanaf April die tendens omgekeer. Die grootste jaar-op-jaar-toename is in Mei aangeteken, toe diesel 65% duurder was as in Mei 2025. Die skerp styging in die prys gedurende April en Mei 2026 kan grootliks toegeskryf word aan die uitbreek van die Straat van Hormoes-krisis op 28 Februarie. Die konflik het wêreldwye kommer oor olievoorsiening geskep en gelei tot skerp stygings in internasionale ruolie- en brandstofpryse, wat uiteindelik ook Suid-Afrikaanse dieselkoste verhoog het.

Ondanks ’n mate van verligting gedurende Junie en Julie, het pryse hoog gebly en teen September steeds 50% bo die vorige jaar se vlak verhandel. Die data beklemtoon die toenemende impak van brandstof­koste op graanproduksie en die belangrikheid van doeltreffende brandstofbestuur op plaasvlak.

Hoe word die dieselprys bepaal?
Die aankoop van petroleumprodukte op die internasionale mark teen invoerpariteit en die vervoer daarvan is die grootste faktore wat die basiese brandstofprys opmaak. Hierdie twee faktore word ook sterk deur die internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers beïnvloed. Vanaf die basiese brandstofprys (werklike koste van brandstof) word belasting en heffings deur die regering bygevoeg. Grafiek 1 toon ’n uiteensetting van die groothandelprys van diesel 0,05% S teen R29,11/liter (soos aangeteken op 7 September 2026).

Grafiek 1: Samestelling van die groothandeldieselprys in September 2026.
Bron: Sentrale Energiefonds (SEF)

In Suid-Afrika word petrolpryse deur die regering beheer en elke maand aangepas. Hierdie aanpassing is gebaseer op die gemiddelde internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers van die vorige maand – wat beteken daar is ongeveer ’n maand se vertraging in aanpassing. Die sogenaamde basiese brandstofprys (BBP) dek die koste om brandstof na Suid-Afrikaanse hawens in te voer. Daarna word belasting, heffings en vasgestelde winsmarges bygetel om by die finale kleinhandelprys uit te kom.

Diesel werk anders. Die regering reguleer nie dieselpryse op kleinhandelsvlak nie. Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMRE) publiseer slegs ’n riglyn-groothandelprys, wat beteken dat dieselpryse meer direk op marktoestande reageer.

In September 2026 het die groothandelprys van diesel bestaan uit die volgende komponente:
• Basiese brandstofprys: R19,33 (66,4%)
• Belasting en heffings: R7,25 (24,9%)
• Marges en ander koste: R2,52 (8,7%)
• Totaal: R29,11/liter

Faktore wat die dieselprys beïnvloed
Grafiek 2 toon die dieselprysbeweging teenoor die rand/dollar-wisselkoers en die Brent-ruolieprys oor die afgelope 15 jaar. Die grafiek maak dit duidelik dat dieselpryse in Suid-Afrika deur veel meer as slegs internasionale oliepryse bepaal word. Hoewel veranderinge in die ruolieprys ’n direkte invloed het, het die langtermynverswakking van die rand ’n al hoe groter rol gespeel in die opwaartse bewe­ging van plaaslike dieselkoste. Die opvallendste tendens op lang termyn is die beduidende verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar.

Grafiek 2: Dieselprysbeweging teenoor die rand/dollar-wisselkoers en die Brent-ruolieprys.
Bron: Graan SA

Waar die wisselkoers in 2011 rondom R7 tot R8/dollar beweeg het, het dit teen 2026 grootliks tussen R16 en R18/dollar verhandel. Hierdie verswakking het beteken dat selfs wanneer internasionale oliepryse relatief stabiel of laer was, Suid-Afrikaanse verbrui-
kers steeds hoër dieselpryse moes betaal. Dit dui daarop dat die wisselkoers oor tyd waarskynlik een van die belangrikste drywers van plaaslike brandstofkoste geword het. Die jongste data wys ook dat dieselpryse relatief hoog kan bly selfs wanneer ruoliepryse afneem, wat dui op die invloed van faktore soos brandstofheffings, logistieke koste en internasionale dieselmarktoestande. Vir produsente beklemtoon dit die belangrikheid daarvan om nie net die olieprys nie maar ook die wisselkoers fyn dop te hou.

Verwikkelinge rakende biobrandstof
Biodiesel in Suid-Afrika is tans by ’n interessante keerpunt. Vir jare was daar groot beleidsambisie maar beperkte kommersiële implementering. Die afgelope twee jaar het daar egter meer regula­toriese beweging gekom wat daarop dui dat die regering weer momentum probeer bou vir ’n plaaslike biobrandstofbedryf.

Die belangrikste ontwikkeling is dat daar in 2026 regulasies vir biobrandstofpryse gepubliseer is as deel van die implementering van die Regulerende Raamwerk vir Biobrandstowwe. Die eerste fase mik na ’n biobrandstofpenetrasie van ongeveer 2% in die nasionale brandstofpoel, afkomstig van plaaslik geproduseerde eerstegenerasie-biobrandstowwe. Suid-Afrika beskik reeds oor regulasies wat die verpligte vermenging van biobrandstowwe met fossielbrandstowwe moontlik maak. Die raamwerk voorsien onder meer vir minimum vermenging van biodiesel met diesel en bio-etanol met petrol.

Vir die volgende paar jaar is die waarskynlikste scenario nie onmiddellik ’n groot biodieselbedryf nie, maar eerder ’n geleidelike uitbreiding van vermenging, nuwe beleggings in verwerking en toenemende belangstelling in oliesaadgewasse as energiegrondstowwe. Indien die regulatoriese raamwerk konsekwent toegepas word, kan biodiesel op medium termyn ’n betekenisvolle nuwe vraagkomponent vir Suid-Afrika word.

Samevatting
Die dieselmark in 2026 is gekenmerk deur skerp prysskommelinge, met die Straat van Hormoes-krisis, wisselkoersbewegings en plaaslike heffings as die belangrikste drywers van hoër brandstofkoste. Vir graanprodusente beklemtoon dit die belangrikheid van doel­treffende brandstofbestuur, aangesien diesel een van die grootste veranderlike insetkoste bly. Terselfdertyd kan die hernude fokus op biobrandstowwe nuwe markgeleenthede vir Suid-Afrikaanse oliesaadgewasse skep en bydra tot groter energiesekerheid.