Uitspraak oor waterregte ’n oorwinning vir landbou

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 10 November 2021

1535

Waterreghouers mag wel waterregte oordra ingevolge die bepalings van die Nasionale Waterwet en dit is nie verbode of onwettig om handel te dryf in sodanige regte nie. Dit was die uitspraak van regter Clive Plasket namens die meerderheid van die Appèlhof-regters in hul uitspraak op Maandag 8 November.

SA Graan/Grain het in Oktober vanjaar berig dat Agri SA en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Watergebruikersverenigings (SAAFWUA) die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein genader het vir die aanhoor van drie appèlle rakende die vermoë om water van een eiendom na ’n ander en van een persoon na ’n volgende oor te dra.

Volgens Janse Rabie, hoof van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne, het die Hoërhof in Pretoria vroeër vanjaar die drie aansoeke met betrekking tot die Lötter-, Wiid- en SAAFWUA-sake vir ’n verklarende bevel oor die korrektheid van ’n omsendbrief deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS), wat uitgestuur is in Januarie 2018, van die hand gewys. Hierin het die departement bepaal dat watergebruiksregte nie oorgedra mag word nie.

“Die uitspraak is uiters belangrik vir Agri SA en ander partye,” sê Janse oor die oorwinning. “Die vermoë om waterregte wettig ingevolge die bepalings van artikel 25 van die Nasionale Waterwet oor te dra, is noodsaaklik – veral vir die besproeiingsektor. Die oordraagbaarheid van watergebruiksregte ingevolge die Nasionale Waterwet is sedert die begin deur die DWS beoog en aktief ondersteun.”

Hierdie aangeleentheid is eweneens belangrik vanuit ’n regsoogpunt, veral met betrekking tot oordrag en verhandeling ingevolge die wet, meen Janse. “Die uitspraak deur die Appèlhof dien as regverdiging vir die posisie wat Agri SA en ander ingeneem het oor die korrekte vertolking van die Suid-Afrikaanse wet.”

Agri SA het van die begin af die regskoste in die Lötter- en Wiid-sake met fondse uit sy Vrywillige Waterfonds gedek.

’n Moontlike besluit deur die DWS om teen die uitspraak te appelleer, word afgewag.