SACTA haal steeds ASEM na tien jaar

Gepubliseer: 30 September 2026

94
Gerrit Olivier, landbou-ekonoom intern, Graan SA

Op 19 Augustus het Graan SA en ander belangrike rolspelers in die Suid-Afrikaanse landbousektor die tienjaarvie­ring van die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) byge­woon tydens die jaarvergadering, oftewel ASEM (annual stakeholder engagement meeting). Die geleentheid het ’n belang­rike mylpaal in SACTA se ontwikkeling en bydrae tot die sektor gevier.

Die oggend is geopen deur SACTA se voorsitter, Ryk Pretorius, wat ook op die Graan SA-Raad dien. In sy toespraak het Pretorius klem gelê op die mense en maatskappye wat by SACTA betrokke is en wat deur hul kundigheid, samewerking en toewyding ’n belangrike rol speel in die verbetering en ontwikkeling van volhoubare planttelings­programme.

Hy het beklemtoon dat hierdie kundigheid nie net vir SACTA van waarde is nie, maar dat die breër landbousektor uiteindelik die vrugte daarvan pluk.

As deel van die tienjaarviering is drie toekennings oorhandig (Foto 1). Pretorius het dit beskryf as ’n blyk van erkenning en waardering vir die rolspelers wat oor die jare ’n belangrike bydrae tot die totstandkoming van SACTA gelewer het. Die toekennings het erkenning gegee aan die mense agter die organisasie en hul bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van Suid-Afrikaanse plantteling.

Ryk Pretorius (links) het toekennings oorhandig aan Corné Louw (hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA), John Odendaal (voormalige besig­heids­bestuurder van Pannar Saad) en Andries Theron (voorsitter van die Proteïennavorsingstigting) as erkenning aan hulle bydrae tot Suid-Afrikaanse plantteling.

Die viering was ’n geleentheid om terug te kyk op SACTA se eerste tien jaar, maar ook om waardering te toon vir die mense en organisasies wat tot die organisasie se groei en sukses bygedra het.

Tegnologie dryf opbrengste
Prof Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), het tydens die geleentheid dieper ingegaan op studies rakende koring en sojabone. Hy het beklemtoon dat die Suid-Afrikaanse landbousektor sedert 2011 ongeveer drie keer vinniger as die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel gegroei het.

Volgens Meyer het Suid-Afrika, met die ondersteu­ning van SACTA, oor die jare goeie groei in opbrengste per hektaar vir beide koring en sojabone gesien. Die verbetering van tegnologie in saad is volgens hom een van die belangrikste drywers agter hierdie sukses en speel ’n al hoe belangriker rol in die verbetering van produktiwiteit.

Hy het verder perspektief gebied op die volgende fase van die Suid-Afrikaanse soja-boonbedryf. Plaaslike produsente moet toenemend met internasionale rolspe­lers meeding teen invoerpariteitspryse, terwyl plaaslike pryse tussen invoer- en uitvoerpa-
riteit verhandel. Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika daarom verdere investe­ring in die plaaslike waardeketting moet verwelkom.

Ongeveer R9 miljard is belê in sojaboonperse, met ’n gesamentlike perskapasiteit van sowat 2,9 miljoen ton. Sulke beleggings kan die plaaslike verwerking van sojabone versterk, nuwe geleenthede binne die waardeketting skep en verdere ondersteuning aan die plaaslike sojaboonbedryf bied.

Koring onder druk
’n Paneelbespreking onder leiding van Meyer (Foto 2) het gevolg, met die fokus op die rol van koring in die Suid-Afrikaanse landbousektor en die uitdagings wat die bedryf tans moet trotseer.

Prof Ferdi Meyer (besturende direkteur van BFAP), prof Marena Manley (Universiteit Stellenbosch), Kobus van Huyssteen (SANSOR), Corné Louw, Rossouw Swart (Graan SA-Raadslid en produsent van Swellendam) en dr Melissa van der Merwe (Universiteit Stellenbosch) tydens die paneelbespreking.

Rossouw Swart, produsent van Swellendam en Graan SA-Raads­lid, het beklemtoon dat winsgewendheid in die winterproduserende streke tans onder groot druk is. Produ-
sente het dikwels beperkte alternatiewe gewasse wat in die spesifieke toestande verbou kan word, terwyl ouer kultivars in gewasse soos gars ook uitdagings skep.

Kobus van Huyssteen van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saad­organisasie (SANSOR) het daarop gewys dat die ontwikkeling en registrasie van ’n nuwe kultivar ’n lang proses is. ’n Nuwe kultivar kan tot twaalf jaar neem om geteel te word. Saadteling moet daarom as ’n langtermynbelegging beskou word, aangesien dit aansienlike tyd en kapitaal verg.

Die doel van SACTA is om die beskikbaarheid en gebruik van nuwe genetika in die Suid-Afrikaanse mark te bevorder terwyl praktyke soos brown bagging bekamp word. Die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) speel ook ’n belangrike rol in die proses deur die finale toetse op koring uit te voer voordat saad die mark betree, onder meer om te verseker dat die genetiese eienskappe en kwaliteit van die koring geskik is vir menslike gebruik.

Corné Louw, hoof van Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, het vervol-
gens die vraag gestel oor hoe nuwe kultivars en produsente se winsgewendheid met mekaar gebalanseer kan word. Daar is aangedui dat die aangeplante koringoppervlakte in Suid-Afrika in 2026 op die laagste vlak in 97 jaar is. Internasionale subsidies in die koringbedryf plaas verdere druk op plaaslike produsen­te, aangesien dit mededinging met ingevoerde koring bemoeilik.

Dr Melissa van der Merwe van die Universiteit Stellenbosch het klem gelê op die belang-
rikheid van plaaslike produksie en die toekoms van die Suid-Afrikaanse koringbedryf. Sy het beklemtoon dat alle rolspelers in die waardeketting moet saamwerk en mekaar moet vertrou om die bedryf volhoubaar te hou. Elke rolspeler is immers van die ander afhanklik, en dit is belangrik dat almal hul deel doen en besluite neem wat in die beste belang van die bedryf as geheel is.

Die vraag is of Suid-Afrikaanse produsente voldoende vergoed word vir hoë kwaliteit en laer opbrengste, veral wanneer laer­kwaliteit- ingevoerde koring met plaaslik geprodu-
seerde koring gemeng kan word om steeds aan die vereiste proteïenvlakke van meule-
naars te voldoen. Daar is dus ’n behoefte om te kyk na kultivars wat moontlik laer kwaliteit lewer, maar ’n beter opbrengs per hektaar kan realiseer en sodoende produ-
sente se winsgewendheid verbeter.

Swart het bygevoeg dat hierdie moontlikheid verder ondersoek behoort te word. Prak-
tiese proewe met verskillende kultivars sal nodig wees om te bepaal watter opsies die beste by Suid-Afrikaanse produksietoestande en die behoeftes van produsen­te pas. Hierdie navorsing kan ’n belangrike rol speel in besluite oor die toekomstige rigting van die Suid-Afrikaanse koringbedryf.

Beleggings in genetika
Andrew Bennet, hoof- uitvoerende beampte van SACTA, het tydens die geleentheid die organisasie se jaarlikse verslag aangebied. Hy het beklemtoon dat SACTA se hoofverant-woordelikheid is om die statutêre heffing op sekere selfbestuiwende graangewasse te administreer en te verseker dat die fondse wat ingevorder word, korrek en regverdig tussen die betrokke saadmaatskappye verdeel word.

Hierdie fondse word vervolgens aan­gewend om verdere investering in saad­ont­wik­kelings- en navor­singsprogramme moont­lik te maak, met die doel om nuwe en verbe-
terde kultivars vir Suid-Afrikaanse produsente te ontwikkel.

Tydens die aanbieding is die geskie­denis van die SACTA-hef­fing ook visueel uiteengesit – vanaf die implementering daarvan tot waar die program tans staan en wat die toekom-
stige rigting daarvan is (Figuur 1). Die ontwikkeling oor hierdie tyd­perk toon die verbetering wat in verskeie gewasse plaasgevind het en dien as ’n aanduiding van die waarde wat die program vir Suid-Afrikaanse landbou inhou.

Figuur 1: Huidige status en geskiedenis van die SACTA-heffing.

Oor die afgelope tien jaar het SACTA ’n belangrike bydrae tot saadontwikkeling in Suid-Afrika gelewer, met 231 nuwe kultivars wat plaaslik geregistreer is. Hiervan was 146 sojaboonkultivars en 66 koringkultivars. Daar was ook elf garskultivars, ses hawerkulti-
vars en twee lupienkultivars.

Hierdie syfers beklemtoon die belang­rike rol wat belegging in saadnavorsing en -ontwikkeling speel om nuwe genetika aan Suid-Afrikaanse produsente beskikbaar te stel. Dit is ook ’n duidelike aanduiding van die vordering wat oor die afgelope dekade gemaak is en die waarde wat SACTA se werk vir die toekomstige ontwikkeling van die landbousektor inhou.

Die heffingsbenutting het verder die aanwending van elke R100 wat deur SACTA inge-
vorder word uiteengesit (Grafiek 1). Dit bied aan rolspelers ’n duidelike beeld van waarheen die fondse vloei en beklemtoon die belangrikheid van deursigtigheid en ver­antwoordbaarheid binne die organisasie.

Grafiek 1: Heffingsbenutting vir elke R100 wat ingesamel word.

Terugvoering
Sandile Mahlangu, transformasiebestuurder by SACTA, was ’n spreker tydens die geleentheid en Anelda Craffert, hoof- operasionele beampte van SACTA, het terugvoer gedeel wat van 335 produsente in agt verskillende provinsies ontvang is.

Produsenteterugvoer was oor die algemeen positief. Hulle kan die waarde van die SACTA-heffing sien en waarneem hoe die tegnologie en genetika binne kultivars oor die jare verbeter het. Dit beklemtoon die praktiese waarde van die investering in saadontwikkeling en -navorsing.

Die dag is afgesluit deur dr Simphiwe Ngqangweni, hoof- uitvoerende beampte van die Nasionale Landboubemarkings­raad (NLBR), wat die belangrikheid van innovasie in die landbousektor beklemtoon het. Sy boodskap het gepas aangesluit by die fokus van die dag: die rol van tegnologie, navor­sing en samewerking in die ontwikkeling van ’n meer produktiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse landbousektor.