Appèlhof besin oor oordrag van waterregte

Janse Rabie, hoof: Natuurlike Hulpbronne, Agri SA
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

179

Agri SA en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Water­gebruikersverenigings (SAAFWUA) het in Augustus die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein gena­der vir die aanhoor van drie appèlle (Lötter, Wiid en SAAFWUA). Dit het te make met die vermoë om water van een eiendom na ’n ander en van een persoon na ’n volgende oor te dra. Agri SA befonds die Lötter- en Wiid-sake deur sy Vrywillige Waterfonds.

Uitspraak in die drie sake is op Vrydag 20 Augustus 2021 deur die Bloemfonteinse Appèlhof voorbehou. Argumente is virtueel namens drie appellante voor ’n volbank van die Hoogste Hof van Appèl aangevoer oor waarom dit steeds vir watergebruiksreghouers moontlik behoort te bly om waterregte te kan oordra ingevolge die bepalings van die Nasionale Waterwet.

Die staat staan die appèlle teen. Op die spel is die vermoë van produsente om watergebruiksregte (of ’n gedeelte daarvan) te verkoop en te verhandel en dan sodanige regte oor te dra vanaf een plaas na ’n ander en/of van een persoon na ’n ander. Dié oordrag van watergebruiksregte word in samewerking met die Departement van Water en Sanitasie of die waterbestuursinstelling met die nodige gedelegeerde magte gedoen ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet.

In die Nasionale Waterwet word uitdruklik vir die oordrag van watergebruiksregte voorsiening gemaak, terwyl die departement dit ook vir byna 20 jaar lank onderskryf en aktief ondersteun het.

Impak van die uitspraak
In 2018 het die departement sy streekskantore opdrag gegee om alle aansoeke vir oordrag van waterregte ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet af te keur. Die departement was van mening dat die proses misbruik word deur gevestigde kommersiële produsente om water onder mekaar te koop en te verkoop en op dié wyse opkomende boere uit te sluit (dit wil sê privatisering van water in die hande van wit, kommersiële produsente).

Menige produsent en landbou-onderneming het Agri SA ge­nader om hierdie kwessie te bevraagteken. Verskeie voorgestelde ontwikkelings (insluitende transformasieprojekte) wat staatgemaak het op die vermoë om watergebruiksregte ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet te bekom, kan moontlik nadelig hierdeur beïnvloed word.

Die vermoë om watergebruiksregte oor te dra, is noodsaaklik vir doeltreffende watergebruik. Onderliggende koop/verkoop/huur­ooreenkomste is nooit voorheen deur die regering ingevolge die Nasionale Waterwet verbied nie.

Terwyl die Nasionale Waterwet bepaal dat water aan alle Suid-Afrikaners behoort, behels ’n watergebruiksreg steeds eiendom (soortgelyk aan ’n mynreg of dranklisensie).

2020-uitspraak strydig met Grondwet
Op 16 Junie 2020 het die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria uitspraak gelewer in die drie sake. Daar is beslis dat hoewel artikel 25 van die Nasionale Waterwet voorsiening maak vir ’n persoon om ’n watergebruiksreg (of gedeelte daarvan) oor te kan dra van een plaas na ’n ander en/of van een persoon na ’n ander, die verkoop van watergebruiksregte onwettig is. Dit is strydig met artikel 2 (die doel) asook met die gees, strekking en doelwitte van die Handves van Regte in die Grondwet, is verklaar.

Die uitspraak verwys nie na die voortgesette benutting van bestaande watergebruiksregte op spesifieke plase/eiendomme nie. Dit ontneem nie die grondeienaar van bestaande watergebruiks­regte (eiendom) nie en verbied of beperk ook nie die verkoop van plase met bestaande wettige waterregte aan titelopvolgers nie. Die hof het slegs die vermoë om watergebruiksregte (of ’n gedeelte daarvan) se oordra van een eiendom na ’n ander en van een persoon na ’n ander en verder te oorweeg en het bepaal dat dit onwettig is om daarmee handel te dryf of ’n kommersiële voordeel daaruit te verkry.

Hierdie beslissing dat handel in of verkoop van watergebruiks­regte onwettig is, is regtens onbevredigend. Vanuit ’n ekonomiese oogpunt maak dit ook geen sin nie en kan dit ernstige implikasies inhou ten opsigte van die batewaarde van plase en boerdery-ondernemings, die banksektor se kredietposisies en toekomstige ekonomiese investering in die landbou.

Die erns van hierdie aangeleentheid is voor die hand liggend. Indien dit nie bevraagteken word nie, kan dié hofbesluit effektief aanleiding gee tot ’n konstruktiewe aftakeling van eiendomsregte ten koste van nie slegs die landbousektor nie, maar ook ander water­gebruikers in Suid-Afrika. Dit is veral belangrik in die konteks van die debatte rondom die voorgenome wysiging van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.