Die ware krag van ’n gemeenskap lê nie in wat elke geslag vir homself opbou nie, maar in wat geslagte vir mekaar nalaat.
Dit is hierdie gees van omgee wat die verhaal van Kosmos Aftreeoord in Standerton reeds sedert 1956 kenmerk. Die oord het 70 jaar gelede ’n nederige begin as Kosmos Ouetehuis gehad – ’n gemeenskapsinisiatief om finansieel kwesbare senior burgers te ondersteun.
Dit het mettertyd ontwikkel tot ’n gevestigde aftreeoord. Volgens Sanpat Coetzee, bestuurder, beskik Kosmos vandag oor die hele spektrum van onafhanklike verblyf tot afhanklike versorging.
“Daar is ’n wêreldwye tendens om ouer mense so lank as moontlik in hul eie woon-
plekke te laat woon waar hulle onafhanklik kan funksioneer. Wanneer hulle met daaglikse take begin sukkel, bied Kosmos ook daardie dienste.”
Kosmos funksioneer as ’n niewinsgewende organisasie ingevolge die Wet op Bejaardes en is grootliks afhanklik van ondersteuning uit die gemeenskap.


Waterkrisis
Vier boereverenigings in die omgewing het onlangs hande gevat met plaaslike sakeman Hendrik Dippenaar om ’n voortslepende waterkrisis by Kosmos volhoubaar aan te pak. Dippenaar is ook voorsitter van die oord se direksie.
Quinton Roberts, voorsitter van die Platrand Boerevereniging, vertel dat daar tye was dat die oord vir tot vier dae geen water gehad het nie.
Dippenaar sê hy het onlangs by sy ondernemings laat boor en skielik die ingewing gekry om dieselfde by die oord te doen. Aangesien sy pa, Christo – ’n afgetrede sakeman – ook daar woon, was Dippenaar eerstehands bewus van die uitdagings wanneer die oord weens onstabiele watervoorsiening van aangeryde water afhanklik was.
Hy het die koste van die diesel gedra en danksy ’n ruim korting van JM Landmann Boordienste kon twee boorgate by Kosmos gesink word.
Siende dat die oord se waterbehoefte groot is, sou opgaartenks alleen nie voldoende wees nie. Na die grondwater getoets en as drinkbaar verklaar is, is besluit om ’n opgaardam met ’n kapasiteit van sowat 149 000 liter op te rig om ’n betroubare watervoorraad vir die inwoners te verseker.
Dippenaar lag wanneer hy vertel dat hy nie ’n langtermynplan gehad het nie. “Ek wou net hê hulle moet water direk uit die kraan kan drink – daar moet geen gesukkel wees met filters of houers drinkwater wat aangery moet word nie.”
Na hy ’n vriend, wat lid van ’n boerevereniging is, van die boorwerk vertel het, het die boereverenigings spontaan begin bydra. Van daar af het die projek vinnig momentum gekry.
Teen druktyd het die gemeenskap reeds R260 000 (in die vorm van kontantskenkings, produkte en dienste) bygedra – ’n klinkklare bewys van wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamstaan om ’n verskil te maak. Daar is hard gewerk om die projek te voltooi voor Kosmos Aftreeoord in September hul sewentigste bestaansjaar op luisterryke wyse gevier het.
Coetzee meen die nuwe boorgate en opgaardam sal die oord se watervoorsiening aansienlik verbeter, afhanklikheid van munisipale onderbrekings verminder asook die daaglikse welstand van inwoners verbeter.
“Ons staan telkens verstom oor die betrokkenheid van ons gemeenskap – dit is vir ons van onskatbare waarde om te weet dat die gemeenskap vir ons inwoners omgee.”
Platrand Boerevereniging
Platrand Boerevereniging wat oor ’n radius van 50 km suidoos van die dorp funksio-
neer, het binne ’n week R68 500 ingesamel. Roberts vertel dat lede kontantdonasies gegee het en dat die vereniging ook skenkings van landboumaatskappye, soos saad en baalsakke, aan lede verkoop het om die bedrag te bereik. Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 12, Ebert du Plessis, is ’n lid van Platrand. Dié vereniging het 52 lede, waarvan 26 ook lede van Graan SA is.
Volgens Roberts is die landbougemeenskap en die dorp se inwoners onlosmaaklik met mekaar verweef. “Wanneer dit sleg gaan met een van hierdie gemeenskappe, word die ander ook benadeel. ’n Sterk gemeenskap is voordelig vir almal; daarom dra ons by, hetsy dit vir die aftreeoord, die skool of die kerk is.”
Francois van Tonder, penningmeester van Platrand, sê die vereniging bestaan al 121 jaar. “Hier by Platrand besef ons jare lank al die waarde daarvan om mekaar te dra en te ondersteun.”

Holmdene Boerevereniging
Volgens Thinus Bosse, wat reeds vir twee jaar voorsitter van Holmdene Boerevereniging is, het die vereniging betrokke geraak omdat van hul voormalige lede tans in Kosmos woon, maar ook omdat hulle doelbewus ’n positiewe verskil in hul gemeenskap wil maak.
“Ons ondersteun ook skole en ander organisasies wat hulp benodig – meestal deur kontantskenkings.”
Oor hul bydrae aan Kosmos sê hy: “Dit is ons manier om dankie te sê aan die mense wat deur die jare insette gelewer het waaruit ons geslag vandag voordeel trek.”
Holmdene het sowat 40 aktiewe lede waarvan die meerderheid ook lede van Graan SA is. Die gebied van hierdie boerevereniging strek oor ’n radius van ongeveer 50 km oos van Standerton in die rigting van Leandra.
Waterval Boerevereniging
Die Waterval Boerevereniging is al jare deur hul jaarlikse Val-boeredag by Kosmos betrokke. Waterval gee elke jaar aan die oord ’n gratis ruimte om voedselitems by die boeredag te verkoop. Vanjaar het die oord soveel ingesamel dat hulle hospitaalbeddens kon aankoop.
Waterval Boerevereniging het sowat 40 lede en hul voorsitter is Norman Kerslake.
Die Charl Cilliers Boerevereniging het ook mildelik tot die Kosmos-projek bygedra.
Oop hande
Martyn Landmann van JM Landmann Boordienste vertel dat hulle twee boorgate gesink het wat saam sowat 2 000 liter/uur lewer. “As meer gate nodig is, sal ons weer help; die gemeenskap moet saamstaan.”
Willie Griesel, HUB van Platkop Kontrakgroeiers, ’n privaat koöperasie in Standerton, sê dat hulle die water laat toets en ’n spesialis betrek het om die korrekte filtreerstelsel vir die oord te installeer. “Ons raak graag betrokke in ons gemeenskap en het veral ’n sagte plek vir ons senior burgers.”
Kasselman Sekuriteit is besonder betrokke en het in die tyd toe die oord sonder water was, gehelp om water aan te ry. Heymans Kole het die boumateriaal voorsien en Sonskyn Kunsmis het ook aangedui dat hulle hul gewig ten volle by die projek ingooi.

















