Rooi ligte flikker oor glifosaat

Gepubliseer: 10 Augustus 2021

1837

Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA,
corne@grainsa.co.za

Ikageng Maluleke
landbou-ekonoom, Graan SA,
ikageng@grainsa.co.za

Met Suid-Afrika se gesofistikeerde en redelik georganiseerde insetbedrywe kon ons nog altyd met trots sê dat ons uiters selde tekorte aan kritieke insette beleef.

Ons land se afhanklikheid van invoer om in die plaaslike behoefte aan insette te voorsien, skep egter altyd vir die plaaslike bedryf ’n mate van risiko. Nie net wat internasionale pryse betref nie, maar ook wat beskikbaarheid betref. ’n Tekort aan kritieke insette kan in ekstreme omstandighede daartoe lei dat Suid-Afrika se voedselsekerheid in gedrang kom.

Beskikbaarheid van landbouchemikalieë
Sedert Maart/April verlede jaar, toe die hele wêreld onder streng inperkings verkeer het om COVID-19-infeksies hok te slaan, voel dit of insetbeskikbaarheid nie meer so vanselfsprekend as voorheen is nie. Faktore soos die volgende het wêreldwye beskikbaarheid van insette negatief geraak:

  • Die inperkings het ’n onderbreking in produksie in onder meer China veroorsaak.
  • Twee van die wêreld se grootste glifosaatvervaardigers (65% van Chinese produksie) is in Augustus verlede jaar vir ’n geruime tyd gesluit vir herstelwerk na oorstromings in China.
  • In Februarie 2021 was daar die sogenaamde big freeze in Texas, VSA. Dié uiterste koue en winterstorms het die beskikbaarheid van rou materiale en byvoegmiddels negatief beïnvloed.
  • Vervoerlogistiekonderbrekings, byvoorbeeld die blokkering van die Suez-kanaal en die impak op die vervoer van skeepsvraghouers het ’n groot invloed op die beskikbaarheid van landbouchemikalieë.
  • Suurstof word in die vervaardiging van glifosaat gebruik – iets wat tans vir die COVID-19-pandemie geprioritiseer word.

Dit is belangrik om te onthou dat 100% van Suid-Afrika se behoefte aan landbouchemikalieë ingevoer moet word, wat die logistiek nog meer op die voorgrond plaas. Die volgende is belangrik om in ag te neem wanneer dit by beskikbaarheid kom:

  • Waar leweringstyd (tyd vanaf bestelling tot aflewering) voor die COVID-pandemie tussen agt weke en twaalf weke was, is dit nou volgens maatskappye tot so lank as vyf maande.
  • Die beskikbaarheid van skeepsvraghouers op die regte plekke is tans ’n groot uitdaging in internasionale handel.
  • Omdat China se ekonomie vinniger na die COVID-inperkings herstel het as ander lande s’n, het daar vir elke drie skeepsvraghouers wat China verlaat, net een met goedere teruggekeer. Heelwat houers moet dus leeg terugkeer en jaag die beskikbaarheid en koste van skeepsvragte op.

Al hierdie verwikkelinge het bepaalde gevolge vir die beskikbaarheid van landbouchemikalieë en produsente se beplanning vir die komende somergraanseisoen. Die verwagting is dat Suid-Afrika teen alle waarskynlikheid nie genoeg glifosaat gaan bekom nie. Met die logistieke uitdagings kan ander middels moontlik ook vertraag word of tydelike beskikbaarheidsprobleme ondervind.

Pryse van internasionale landbouchemiese middels
Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ’n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor ’n jaar aan. Die eerste deel van die tabel is die pryse in dollarwaarde en die tweede deel dui dieselfde pryse aan omgeskakel in randwaarde. Dit is duidelik uit die tabel dat alle onkruid­doders in dollar toegeneem het, met glifosaat en atrasien wat onderskeidelik met 145% en 34% gestyg het, gevolg deur metolachloor (27%), asetochloor (22%) en trifluralien (8%). Pryse in rand het ’n soortgelyke opwaartse neiging gevolg, behalwe asetochloor en trifluralien wat matig afgeneem het. Die toename in randterme het egter nie in gelyke of groter proporsies toegeneem nie, soos fundamenteel verwag kan word as gevolg van die ondersteuning van ’n sterker rand.

Tabel 2 toon internasionale pryse vir insekdoders per aktiewe bestanddeel oor ’n jaar aan. Die eerste deel van die tabel is die pryse in dollarwaarde en die tweede deel dui dieselfde pryse in randwaarde aan. In dollarterme het alle insekdoders toegeneem, behalwe lambda-sihalotrien, wat binne ’n jaar met 1,8% afgeneem het. As gevolg van die versterking van die rand het die meeste aktiewe bestanddele egter afgeneem in randterme, behalwe vir imidaklopried, wat ’n matige toename van 7% oor ’n jaar toon.

Beskikbaarheid opgesom
Dit is belangrik dat hierdie inligting nie tot paniekaankope lei nie – dit sal die situasie net vererger. Produsente word aanbeveel om hul verteenwoordigers te kontak om seker te maak dat genoeg landbouchemiese middels vir die beplande aanplantings in die 2021/2022-seisoen beskikbaar gaan wees. Indien nodig, oorweeg alternatiewe middels waar daar byvoorbeeld nie genoeg glifosaat beskikbaar sal wees nie. Omdat die leweringstyd in die COVID-tydperk soveel langer is, moet insetbeplanning vir die komende seisoen vroeër gedoen word.

Pryse opgesom
Op internasionale markte het die pryse van onkruiddoders, veral glifosaat, skerp toegeneem (sien Grafiek 1). Wat internasionale insekdoders in randterme betref, behoort plaaslike pryse nie te styg nie, maar kan dit selfs effens daal. Dieselfde geld vir swamdoderpryse.

Grafiek 1: Die Chinese prys van glifosaat in randterme het met 145% toegeneem oor die afgelope twaalf maande.