Presisieboerdery maak sin vir besproeiing

Janco Cloete, landboukundige, OVK
Gepubliseer: 1 Oktober 2020

1745

Die alombekende gesegde “meet om te weet” verduidelik die uitkomste van ’n presisieboerderystelsel baie goed. Presisieboerdery is sonder twyfel die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbousektor en dit word tot ’n groot mate alreeds deur die meerderheid vooruitstrewende produsente toegepas.

Tegnologie verbeter elke dag en presisieboerdery beweeg hand aan hand hiermee. Nuwe praktyke en beskikbare hulpmiddels help produsente om slimmer en nie harder te werk nie en sodoende winste te verhoog.

’n Crop Systems-skeduleringstoestel opgestel in ’n besproeiingsland vir die bestuur van grondvog.

Digitale produkte lei gewoonlik tot verhoogde produktiwiteit in enige onderneming – so ook in die landbousektor. Met presisie­boerdery word daar gebruik gemaak van die beste tegnologiese toerusting om verhoogde opbrengste teen ’n laer koste mee te bring. Dit is nie aldag ’n maklike praktyk om sommer dadelik te verstaan nie, maar dit is definitief die moeite werd om te leer. Presisieboerdery stel produsente in staat om hul plaas beter te bestuur – in enige boerderypraktyk ’n belangrike aspek.

Vir agribesighede maak presisieboerdery ook sin, omdat dit die produsent se risiko verlaag en sodoende die besigheid s’n ook. Goeie dienslewering aan die produsente in hul bedieningsgebied is van deurslaggewende belang vir agribesighede. Landboukun­diges binne die landboudienste-afdeling van ’n besigheid soos OVK staan produsente by met die implementering van presisie­boerdery, onder meer met karterings, wat beskou kan word as die eerste stap in presisieboerdery.

’n Crop Systems-ske­duleringstoestel met ’n reënmeter opgestel in ’n uieland vir die be­stuur van grondvog asook watertoediening deur ’n besproeiing­stelsel.

Kartering
OVK karteer lande in 1 ha-blokke om te verseker dat aanbevelings akkuraat is en dat potensiale reg bereken word om sodoende die bestuur te optimeer. By elke karteringspunt word grondmonsters geneem wat die grondontledings asook grondpotensiaal verskaf (Figuur 1). Deur die chemiese grondontledingsinligting oor die grondpotensiaalkaarte te plaas, kan optimale bemestingshoeveelhede aanbeveel word. Die inligting kan ook help met waar en hoeveel kalk toegedien moet word. Met chemiese regstellings is hierdie kaarte die basis van waar, wat en hoeveel toegedien moet word. Op dié manier word die potensiaal van elke punt verhoog. Teenoor die gemiddelde aanbevelings gaan daar nie baie bespaar word nie, maar die inkomste en die wins gaan vir seker verhoog.

Figuur 1: Grondmonsters word geneem om die grondpotensiaal te bepaal en grondontledings te doen.

Skedulering
Skedulering is nog ’n diens waarmee OVK se landboukundiges ’n bydrae lewer om die winsgewendheid van produsente te verhoog. Skedulering help om die grondvog in elke land beter te monitor asook om besproeiingswater te kontroleer om sodoende beter bestuur toe te pas. In praktyk kan gesien word dat dit werklik ’n verskil maak – produsente is baie tevrede waar hierdie stelsels voluit in werking is.

Volgens produsente in die Orania-distrik is presisieboerdery definitief die toekoms van landbou in Suid-Afrika, omrede dit opbrengste optimaliseer en sodoende die winste van elke gewas verhoog. Die hoë koste van die tegnologie is ’n rede waarom produsente huiwerig is vir presisieboerdery. Daar kan egter planne gemaak word om die koste te bestuur en produsente kan oor tyd ten volle oorskakel na presisieboerdery. Volgens produsente is grondkartering en chemiese regstellings oor en oor die moeite werd. Chemiese regstellings en bemestingstoftoedienings kan deur kontrakteurs gedoen word, terwyl produsente dan net die saad en ’n bietjie bemesting met plant hoef toe te dien. Stroperkaarte help ook baie om die implementering van die stelsel te monitor.

’n Produsent in die Hopetown-distrik, wat besig is om heeltemal oor te skakel na presisieboerdery, sê dat dit vir seker die belegging aangegaan regverdig. Alhoewel hul boerdery nog nie in alle aspekte verander het nie, kan hulle alreeds die verskil in opbrengste sowel as in winsgewendheid sien. As familieboerdery glo hulle dat hierdie waarde toegevoeg reeds verdere investerings sal aanmoedig.

Produsente wat presisieboerdery toepas of wil toepas, moet baie inligting versamel en ontleed en dit vir die boerdery laat werk. Verder is goeie kennis oor grondtipes, grondvog en mikroklimaat betekenisvol. Klimaat speel ’n groot rol – indien daar groot klimaatsgebeure op kritieke tye plaasvind, kan dit opbrengste beïnvloed. Om rekord te hou van wat waar en hoe gedoen is asook van die klimaat oor die jare is besonder belangrik. Hierdie rekords moet met landboukundiges bespreek word om sodoende die beste praktyke vir die plaas te vind.

Presisieboerdery en besproeiing
Presisie-ontleding help definitief in die keuse van hulpbronne. Sommige produsente wil dalk ’n nuwe spilpunt ontwikkel en deur presisie-ontledings kan die beste area vir die ontwikkeling sinvol gekies word. Deur op die beste hulpbronne te produseer, word die winste geoptimeer en sal daar kapitaal wees om nuwe tegnologie te bekom en te implementeer. Gewaskeuse kan ook by die hulpbronne aangepas word. Hierdie stap help produsente om ’n optimale wisselbouprogram vir die boerdery op te stel.

Presisiebesproeiing help verder om watergebruik te optimeer. Oorbesproeiing sal winste nadelig raak en as daar te min besproei word, sal opbrengste benadeel word. OVK Landboudienste spandeer dus baie tyd om produsente by te staan met besproeiingskedulering. Gereelde monitering van grondvog kan heelwat koste bespaar. Produsente wat dit gereeld doen en die besproeiing daarvolgens aanpas, doen vir seker beter as produsente wat dit nalaat.

In die uitdagende toestande wat tans in Suid-Afrika heers, kan daar nie meer geboer word sonder presisieboerdery nie. Die nodige investering sal voldoende rendement oor die lang termyn lewer.

Kontak die OVK-landboukundiges of Janco Cloete vir meer inligting.