Strategiese gebruik van MARKINSTRUMENTE vir suksesvolle bemarking

Gepubliseer: 6 Mei 2024

276
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

22/04/2024

Deel 3

In die dinamiese wêreld van landbou is doeltreffende bestuur in die graanmark uiters belangrik vir produsente om nie net risiko’s te versag nie, maar ook om opbrengste te optimaliseer. Hierdie artikelreeks bespreek die veelsydige gebied van graanmarkte en bied ’n gids vir produsente wat hul begrip en strategiese benadering wil verbeter.

Risikobestuur kan ’n uitdagende taak wees, veral wanneer markte oorheers word deur wisselvalligheid en gepaardgaande onsekerheid. Die eerste artikel in dié reeks (SA Graan/Grain Maart 2024) het markinstrumente in diepte bespreek, terwyl die volgende artikel (SA Graan/Grain April 2024) hierdie instrumente toegepas het in ’n bemarkings­plan en ook die verskillende elemente van bemarkingsplanne bespreek het. (Skandeer die QR-kodes aan die einde om die artikels te lees.) Hierdie is die laaste artikel in die reeks wat al die voriges saamvat en bespreek hoe die markinstrumente deur strategieë in verskillende bemar­kingsplanne gebruik kan word.

Terugblik
Die vorige twee artikels het die grondslag gelê om nou verskillende bemarkingstrategieë in meer diepte te bespreek. Termynmarkte bied, onder meer, twee basiese markinstrumente wat hoofsaaklik gebruik word vir verskansing: termynkontrakte (futures) en opsies (options). ’n Termynkontrak is ’n kontrak wat verplig dat ’n spesifieke kommoditeit geneem of gelewer word volgens ’n vasgestelde hoeveelheid en kwaliteit, soos vermeld in die kontrak, op ’n spesifieke plek in ’n spesifieke tydraamwerk in die toekoms. Termynkontrakte word hoofsaaklik gebruik in die proses van prysontdekking en prysrisiko­bestuur. Die houer van ’n opsiekontrak het die reg, maar nie die verpligting nie, om ’n onderliggende instrument te koop of te verkoop teen ’n voorafbepaalde prys en gedurende ’n vasgestelde periode.

Vir ’n produsent om risiko effektief te verskans en bemarkingsgeleenthede te benut, moet ’n bemarkingsplan in plek gestel word. Bemarkingsplanne maak gebruik van verskillende markinstrumente om die seisoen se uitgesette doel te behaal.

Bemarkingstrategie
Verskeie maniere bestaan waarop ’n graanbemarkingsplan al die verskillende markinstrumente kan gebruik om risiko’s effektief te verskans. Om hierdie verskansingsgereedskap ten volle te be­nut, is dit belangrik om die komponente daarvan te verstaan. Een van die faktore wat bydra tot die huiwerigheid om mark­instrumente te gebruik, is die gebrek aan kennis daarvan en gemaklikheid daarmee.

Party produsente beskou markinstrumente en -strategieë as “te ingewikkeld om te verstaan”. Die feit bly egter dat die meeste markinstrumente eenvoudig afgelei word vanaf ’n onderliggende faktor: termynkontrakte se waarde word afgelei van die fisiese mark en opsies se waarde word van termynkontrakte afgelei.

Daar is geen einde aan die moontlike kombinasies waarin markinstrumente gebruik kan word vir verskansing nie. Party strategieë gebruik slegs twee kontrakte van dieselfde markinstrument, waar ander strategieë weer ’n mengsel van markinstrumente gebruik. Die gebruik van strategieë hang grootliks af van die produsent se risiko-aptyt. Party produ­sente is geneig om hoër risiko’s aan te vat, terwyl ander produsente meer gemaklik is met ’n laerisikostrategie. Hiermee ’n paar van die meer bekende strategieë wat vir verskansing gebruik kan word:

Minimumpryskontrakte
Die minimumprysstrategie, ook bekend as die put-strategie, is ideaal vir produsente wat pas klaar geplant het en bekommerd is dat markpryse gaan val. Dié strategie is meer risiko-sku. Om ’n put-opsie te koop tydens die plantvenster wanneer produksiepotensiaal onseker is, is een van die strategieë wat prysrisiko verminder. ’n Produsent koop die reg om te kan verkoop teen ’n voorafbepaalde minimumprys.

Wanneer die opsiekontrak verval het die produsent die reg, maar nie verpligting nie, om sy oes teen die minimum vasgestelde prys te verkoop. Wanneer die produsent die opsie uitoefen word die prys wat oor­eengestem is tydens planttyd toegeken. Die produsent is dus beskerm teen dalende pryse en het die geleentheid om voordeel uit stygende pryse te trek. Die put-strategie maak voorsiening vir positiewe beweging van termynpryse, maar vereis wel ’n fooi om te gebruik.

Minimumpryskontrakte bied ’n voordeel wanneer:

  • marktoestande wisselvallig en grootliks onvoorspelbaar is;
  • positiewe markwinste kan bestaan en dit die kontrakfooie werd is; of
  • huidige kontantpryse bo geprojekteerde gelykbreekpunte is.

Driesegmentstrategie
Die driesegmentstrategie maak gebruik van kort termynkontrakte. Met hierdie strategie verkoop die produsent sy oes in drie gelyke segmente deur kort termynkontrakte om sodoende risiko te versprei. Om die kort posisie in te neem met ’n termynkontrak word die termynkontrak verkoop om voordeel te trek uit ’n dalende mark. Die gebruik van termynkontrakte kan ook ’n nuwe risiko skep vir die produsent, naamlik opbrengsrisiko. As die produsent nie sy verwagte opbrengs behaal nie, loop hy die risiko om ’n tekort aan produksie op die kontrak te hê, wat sal beteken dat die produsent graan sal moet koop om die kontrakhoeveelhede te vul.

Wanneer ’n produsent bekommerd is dat markpryse gaan daal deur die loop van die seisoen, het hy die keuse om sy oes in die toekoms te verkoop waar hy vasmaak om ’n spesifieke kwaliteit en hoeveelheid op ’n spesifieke tyd en plek te verkoop. Met hierdie strategie word die oes in drie segmente van dieselfde hoeveelheid verkoop. Die eerste gedeelte van die oes word vasgemaak tydens planttyd (November tot Desember). Gedurende hierdie periode is pryse gewoonlik hoër as gevolg van produksie-onsekerheid.

Die tweede derde word vasgemaak in Februarie na bestuiwing, wanneer produksie meer seker is, en die laaste derde tydens of na strooptyd (Julie). Al drie segmente val in belangrike bemarkingsperiodes. Met hierdie strategie word ’n produsent beskerm teen dalende pryse in elke segment, maar trek nie voordeel uit stygende pryse nie. ’n Kort termynkontrak maak ’n prys vas teen ’n bepaalde prys vir ’n vasgestelde pe­riode, onafhanklik van die markrigting.

Twaalfsegmentstrategie
Hierdie strategie is ’n aanpassing op die driesegmentstrategie en die doel is om die totale oes deur middel van kort termynkontrakte in twaalf gelyke segmente te verkoop. Kort termynkontrakte word verkoop in twaalf gelyke segmente of elke drie weke vanaf plant tot stroop. Met hierdie strategie maak die produsent steeds pryse vas, maar op twaalf verskillende tydraamwerke en teen twaalf verskillende pryse.

Dié strategie versprei die produsent se risiko en behaal ’n gemiddelde prys vir die seisoen. Pryse word vasgestel elke drie weke vanaf Desember tot einde Julie. Die risikoblootstelling is wel groter as by die vorige strategie, maar in gevalle waar die mark opwaarts beweeg het die produsent ’n groter kans om voordeel te trek uit die stygende mark.

Samevatting
Hierdie artikelreeks het verskillende mark­instrumente verduidelik en hoe hulle stra­tegies in bemarkingsplanne gebruik kan word. Daar is egter niemand wat ten volle kan bepaal in watter rigting markte gaan beweeg nie. Dit is van deurslaggewende belang vir ’n produsent om deursigtige inligting te ontvang en die regte strategie te volg om sodoende risiko te verskans. Dit is Graan SA se missie om produsente met deursigtige inligting te bemagtig. Sterkte met die seisoen wat voorlê!

Bronne

  1. Dreyer, F, Heymans, A, Van Heerden, P & Fourie, A. 2019. Analysing white maize hedging strategies in South Africa. Potchefstroom.
  2. Strydom, D, Grove, B, Kruger, Y & and Willemse, B. 2010. Stochastic efficiency analysis of alternative basic maize marketing strategies. Bloemfontein.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.

Skandeer die QR-kodes om die vorige twee artikels te lees: