Knelpunte in die bedrywe GOED DEURGETRAP

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 12 April 2024

182

Verskeie belangrike bedryfsaangeleenthede is tydens die jaarlikse wegbreeksessies by Kongres 2024 bespreek. Hier volg punte wat vir die SA Graan/Grain-redaksie uitgestaan het.

Mielies
Uitvoere: Gegewe die huidige infrastruktuur en kapasiteit, doen Suid-Afrika baie goed as dit kom by uitvoere, maar dit kan verbeter met beter infrastruktuur en bestuur van bottelnekke.

Vervoer: Wat witmielies betref, bly spoorvervoer ’n prob­leem en meer padvervoer vind plaas. Ondersoek word ingestel na abnormale vragte, maar goedkeuring en permitte bly ’n voortdurende probleem. Nie al die laaipunte se infrastruktuur is geskik vir dié vragte nie.

Nuwe beleid rakende spoorvervoer kan in Junie-maand deurkom om privatisering moontlik te maak.

Glifosaat en lugbespuiting: Die verslag oor doeltreffendheid en residu op die grond is in proses. ’n Regulatoriese proses word gevolg en toetse moet slaag om geregistreer te word vir die praktyk. Die chemiemaatskappye assisteer met dié toetse.

Graderingsregulasies: Die graderingsregulasies is amptelik in die Staatskoerant gepubliseer.

Biosekuriteit: Maize lethal necrosis (MLN), wat ’n 100%-oesverlies kan veroorsaak, is ’n risiko vir Suid-Afrikaanse produsente. Bioseku­riteit betreffende monitering en analises is dus uiters belangrik. Die Universiteit van Pretoria se diagnostiese kliniek wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie befonds word, doen toetse hieroor volgens gegewe riglyne.

Oesskatting: Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se syfers dui op knap witmielievoorrade – en met die verbruiksyfer en uitvoere na buurlande was voorrade naby aan die gelykbreekpunt. Die oordragvoorraad het egter gehelp met vlakke. Daar kan wel in die toekoms ’n negatiewe impak op voorrade wees as die oes verder verswak.

Grondbone
Teelprogramme: Private teelprogramme presteer tans baie goed en dit bly ’n groot fokuspunt in die grondboonbedryf. Die bedryf is dankbaar vir hierdie programme en veral die kapitaal wat spandeer word om hierdie programme op dreef te hou.

Chemie: Die grondboonbedryf, net soos ander bedrywe in die landbousektor, kan in die nabye toekoms moontlik probleme teëkom weens die gebrek aan chemieprodukte. Baie produkte word verban en alternatiewe is min en duur. Daar is ’n versoek dat die chemie wat tans beskikbaar is verantwoordelik gebruik word sodat hierdie produkte beskikbaar sal bly vir plaaslike gebruik.

Grondboonbotter: Die Grondboonforum ondersoek en staan ’n invoertarief op grondboonbotter voor om voedselsekerheid en -veiligheid te verbeter sowel as om die plaaslike bedryf te beskerm.

Sorghum
Sorghum-kluster: Terugvoer oor die sorghum-bewusmakingsveldtog is gegee asook die vordering wat gemaak is. Dit sluit ’n voorteelprogram vir sorghum in wat op lang termyn nuwe kultivars tot gevolg kan hê. ’n Verdere fokus is om alternatiewe maniere te ontwikkel om kweleas te beheer. Dit sluit die gebruik van hommeltuie in. Die afskaffing van BTW op sorghum, die bemarking van sorghum en alternatiewe produkte en gebruike word ook ondersoek.

Markinligting: Daar was ’n toename in die totale vraag en aanbod van 2022/2023 tot 2023/2024, maar die aanbod het ongelukkig die vraag na sorghum oorskry. In die huidige seisoen is 84 000 ton ingevoer, wat merkwaardig is as die grootte van die bedryf in ag geneem word.

Markprys: ’n Besluit is geneem dat Graan SA verwerkers sal besoek om ’n meer volhoubare prys vir produsente te bespreek. ’n Vraelys sal aan produsente gestuur word sodat ’n gemiddelde prys bepaal kan word om deursigtigheid in die mark te bevorder.

Die sorghumwegbreeksessie waar terugvoer gegee is oor die verskeie projekte in die sorghum-kluster.

Sonneblom
Sclerotinia: Terugvoer is gegee oor aktiwiteite van die Suid-Afrikaanse Sclerotinia-navorsingsnetwerk (SASRN). Taktieke en nuwe projekte om die siekte te bestuur asook die toelaatbare persentasie Sclerotinia op sade is bespreek.

Sonneblomolie: Epko het terugvoer gegee oor persmarge en winsgewendheid. Sonneblom verhandel tans volgens vraag en aanbod. Met die huidige Safex-prys sal verwerkers nie by laasjaar se persmarge kan uitkom nie. Epko voorspel dat hulle minder gaan pers en meer gaan invoer. Sou die verwerkers 600 000 ton sonne­blom pers, is dit slegs 50% van die totale perskapasiteit van die perse. Die prys is tans in die produsente se guns. Daar is gevra dat Graan SA ondersoek sal instel na invoerheffings vir olie wat van die Europese Unie af kom.

Plantdatums: Dr Safiah Ma’ali van die LNR in Potchefstroom gee terugvoer oor sonneblomplantdatums en omgewingsfaktore soos droogtestremming en hoe dit die olie-inhoud affekteer. Resultate van LNR-proewe toon die volgende:

  • Deur die tydsberekening van kritieke stadiums in gedagte te hou, kan die blootstelling van sonneblom aan die mees stresvolle faktore verminder word.
  • Vroeë plantdatums word dikwels aanbeveel om die risiko van hitte- en waterstremming tydens antese te vermy.
  • Korrekte plantdatums stel produsente in staat om voordeel te trek uit koeler grondtemperature en plantpopulasies ’n hupstoot te gee.

Werkswinkel: Daar was ’n voorstel om ’n sonneblomwerkswinkel, gefasiliteer deur Graan SA, te hou en belanghebbendes in die bedryf te nooi om kwessies en die toekoms van die sonneblommark te bespreek. Sonneblomsaadkwaliteit en die volhoubaarheid van die bedryf moet ondersoek word.

Wintergraan
Koring
Heffings: Daar word gerapporteer dat die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT) nie voldoende fondse insamel om in die navorsingsbehoeftes te voorsien nie. ’n Aansoek sal aan die Nasionale Bemarkingsraad (NAMC) gerig word om SAWCIT se hef­fing te verander na ’n statutêre heffing. Die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) se teling-en-tegnologieheffing is in 2024 in die tweede jaar van ’n driejaarperiode.

Differensiaal: Daar word tans navorsing gedoen oor die implementering van ’n alternatiewe metodiek vir die bepaling van liggingsdifferensiale in die koringbedryf. Produsente versoek dat ’n alternatiewe model ook vir die garsbedryf ondersoek word asook dat die alternatiewe metodiek gebruik word as bemarkingstrategie aan nielede. Produsente versoek dat die JSE genader word om ’n toetslopie vir die alternatiewe berekeningsmetodiek op koring voor te stel.

Richard Krige, visevoorsitter van Graan SA, en Graan SA-ekonoom Heleen Viljoen aan die woord by die wintergraanwegbreeksessie.

Tariefverwysingsprys: Daar is ’n moontlikheid dat die $279/ton verwy­singsprys van die tarief verhoog kan word na $308/ton. Produsente spreek kommer uit dat die berekeningsmetodiek Amerikaanse koring in ag neem en nie goedkoper Europese of Swartsee-koring nie.

Chemie: Kommer word uitgespreek oor die moontlike verwydering van landbouchemiese produkte wat gebruik word in koringproduksie.

Kanola
Suid-Afrikaanse regulasies laat GMO-kontaminasie van 0,05% toe. Van die saad wat van Australië ingevoer word was met 0,1% GMO’s gekontamineer. Graan SA is tans besig met ’n aansoek dat die insluitingsvlak gelig word om Australiese standaarde in te sluit.

Weens Graan SA se besoek aan Australië verlede seisoen is daar goeie vooruitsigte vir nuwe kultivars. Die Equinox-kultivar sal in die komende seisoen beskikbaar wees. Daar sal genoeg saad vir alle produ­sente wees en saadvermeerderingskemas in Suid-Afrika is goed op dreef.

Gars
Die intensie om te plant is laer as die vorige seisoen. Die grootste uitdaging bly ’n gebrek aan nuwe kultivars. Produsente versoek dat gradering van gars meer konsekwent en meetbaar toegepas word.

Sojabone
Saadpryse: Saadpryse van die kultivars met die nuwe Intacta-tegnologie is in die nuwe seisoen tussen 26% en 54% hoër as die pryse van RR1-kultivars.

Teling-en-tegnologieheffing: Terugvoer is gegee oor die voordele van die teling-en-tegnologieheffing die afgelope vyf jaar:

  1. Daar is 67 nuwe kultivars oor die laaste jaar geregistreer.
  2. Daar is twaalf maatskappye betrokke en in kompetisie in die sojaboonsaadmark.
  3. Intacta RR2 Pro-tegnologie behoort die komende seisoen kommersieel in die mark beskikbaar te wees in groter volumes.
  4. Nuwe tegnologie soos Corteva se Conkesta E3 en BioCeres se HB4-droogtegene is op pad.
  5. Verlede jaar is daar in elke moontlike kategorie van Graan SA se Groei vir Goud-kompetisie ’n rekord gebreek– dit dui op genetiese verbetering.

Daar is voorgestel dat ’n driejaaraansoek oorweeg moet word, maar dat die berekening gegrond word op 1,2% van die sojaboonprys op ’n vyfjaar- bewegende gemiddeld.

Alternatiewe liggingsdifferensiaal: Terugvoer is gegee oor die alternatiewe liggingsdifferensiaal op sojabone. Dit sluit die kriteria in wat gebruik word om die sukses van die alternatief te meet. Hoop is uitgespreek dat die nuwe model die likiditeit in die mark sal laat aanhou groei. Resultate wat in die model ingevoer is, dui daarop dat Durban eerder nie as ’n leweringspunt gebruik moet word nie.

Logistiek en uitvoer: Bykans 600 000 ton sojabone is hierdie seisoen uitgevoer en nuwe markte het oopgegaan.

Sclerotinia: Terugvoer is gegee oor die werk waarmee SASRN besig is.

Tydens die sojaboonwegbreeksessie is onder meer oor sojaboonopbrengstendense gesels.