Oplossings vir platteland wys ware Suid-Afrika

Jannie de Villiers, voormalige HUB van Graan SA
Gepubliseer: 15 April 2024

174

Ek probeer al my emosies en die feite in my kop ontlont na twee dae se hoë-impakstories. Landbouweekblad en Senwes se Oplossings vir SA se Platteland-konferensie in Februarie op NAMPO Park was ’n droom na die sukses van dié tydskrif en Agri SA se grondberaad by Bela-Bela in 2018. Dit was die antwoord op: “Wat is volgende?”

Weer eens het die landbou en sy mense nie teleurgestel nie. Ons het almal al gehoor van die ou Suid-Afrika en die frustrasies met die nuwe Suid-Afrika, maar net hier en daar het iemand al begin vra hoe die ware Suid-Afrika lyk. Ek het dit gesien! Twee dae van mense wat almal by die punt gekom het van genoeg is genoeg! Die verskil is dat hulle nie hulle frustrasies met brand, afbreek en dans in die straat uitgeleef het nie, maar soos tipiese produsente hulle moue opgerol en ’n verskil gemaak het.

Dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, en Graan SA se voorsitter, Derek Mathews, het ook die konferensie bygewoon.

Sedert 2018 het ons lysies begin maak van al die mooi stories wat ons hoor. Landbouweekblad se mense was uiters goed geposisioneer om van die meeste stories te weet. Die tydsberekening was perfek. Mense raak moedeloos oor al die slegte nuus, korrupsie, misdaad en geweld. By Bela-Bela wou ons as landbou wys dat volhoubare grondhervorming besig is om op grondvlak te gebeur en by mekaar leer wat werk en wat nie. Met die Oplossings vir SA se Platteland-konferensie wou ons vir die land wys dat die boeregemeenskap nie net kla nie, maar iets aan die benarde situasie doen. Ons wou ook by mekaar leer hoe om van die netelige sake op die regte manier aan te pak – soos mislukte munisipaliteite. Ai, was ek nie trots om deel van die oplossingsgemeenskap te wees nie! Vindingrykheid, innovering en vasbyt soos jy net in die landbou kry. Na afloop van die konferensie staan ek steeds daarby dat landbou die land kan help genees!

Inspirerende verhale uit nood gebore
Dit is moeilik om spesifieke stories uit te sonder. Wat ek wel opgemerk het, is dat baie van die wonderlike verhale in die dal van doodska­duwee gebore is: Dit kan nie langer só aangaan nie. Die meeste mense het getuig dat hulle inspirasie ’n geestelike oorsprong het. “Sit jou geloof voor jou bang,” het een vrou gesê. ’n Ander waarneming is dat dit by een mens begin het en dat sodra iemand hand uitsteek en iets doen wat ’n verskil maak, het ander bygekom en bygedra. Ons mense het genoeg van die nuwe Suid-Afrika gehad, dit is tyd dat die ware Suid-Afrika sy kop wys. Die aksies en projekte wat begin is, het nie kwalifikasies gevra nie – net geloof, dapperheid en vasbyt. Dit waarvan ons gehoor het, was nie die planne wat gemaak is nie, maar die uitvoering daarvan; iets waaraan die land ’n groot tekort het. “Kom ons bou met landbou!” was een boer se slagspreuk.

Die stories op NAMPO Park was dié van mense wat medebur­gers se lewens verander het – medeburgers wat waarskynlik nooit sal kan teruggee nie. Tog was daar ook die storie van die produsent wat die gemeenskap se siek beeste gaan spuit het en toe vir hulle water aangelê het. Hy het sy “rendement” gekry tydens die strooptogte in KwaZulu-Natal. Dieselfde gemeenskap het toe sy aan sy met die produsente kom wagstaan dat die kriminele nie die dorp verrinneweer nie. Mense wat uit die diep seer van ’n plaasaanval moes teruggaan dorp toe om te help dat die hospitaal herstel word sodat daar voldoende mediese dienste is as sulke rampe tref. Dit is tussen sulke mense wat ek graag in hierdie land wil bly. Ek wil saam met hulle kerk toe gaan en braai en laat ons kinders saam aan sport deelneem.

Jannie de Villiers by die Oplossings vir SA se Platteland-konferensie op NAMPO Park.
Foto: LandbouTV

Daar is deur ras-, geslag- en genera­siegrense gebreek om hier­die wonders te doen, om nie eers van die dapperheid te praat nie. Skole word weer funksioneel gemaak en kinders word gevoed om nuwe leiers vir ons land voor te berei sodat ons ’n beter toekoms kan hê. Om kos te gee en skole te help en via sport die grense wat politici daarstel te breek, was van die plek­ke waar baie begin het. Tog was daar ook dié wat hoër steiltes aangedurf het om die infrastruktuurprobleme aan te pak en met die munisipa­liteite moes vergader – om maar net ’n blinde oog en dowe oor te kry. Daar was geen government bashing daardie dag nie, maar daar was die eenlyn-pynsinnetjies wat bloot gesê het dat daar geen hulp van die munisipaliteit gekom het nie. In sommige gevalle was hofsake nodig om fondse te bekom om die verskil te maak.

Begin net skoonmaak, verf en regmaak, het die helde van verskeie dorpe gesê, die res kom dan sommer vanself. Ek is oortuig daarvan dat ons na dié geleentheid binne ’n paar jaar meer en meer sal hoor van dorpe in die platteland wat deur die gemeenskap bestuur word en wat al hoe meer onafhanklik van regeringsdienste word. Daar lê ook iets dieper in die feit dat die voedsel wat ons as landbou produseer, meestal op ’n basis van “die verbruiker betaal” geskied. Die veiligheidsnetwerke en beheerkamers wat boere opgerig het, werk nie op só ’n basis nie. Almal baat daarby as die omgewing veiliger is. Geluk aan die manne en vroue wat daardie brug oorgesteek het om hul medemens te help al betaal hulle nie. Dit is ware integriteit en julle is ware Suid-Afrikaners! Julle beloning lê dieper vir sover julle dit aan ander doen.

Dit was so lekker om weer die krag en impak van georganiseerde landbou in aksie te sien – boereverenigings en landbou-unies wat saamstaan en dinge aanpak. Ek het ook die vroue van landbou gesien wat nie gaan lê nie, maar opstaan en doen wat reg is. Julle is ons inspirasie, dankie daarvoor. Daar is min tydens daardie twee dae oor geld gepraat. Ja, hierdie dinge kan nie sonder geld gebeur nie, maar dié beleggings het hoop as opbrengs opgelewer wat nie in geld gemeet kan word nie.

Wyer as landbou
Die stories van die platteland en die landbousektor daar op NAMPO Park gaan baie meer as net die landboumense inspireer. Ek droom dat een van die kinders wat ons op die baie foto’s gesien het, dalk eendag die president van ons land word of ’n sake- of kerkleier wat die waardes wat hy of sy by landbouers geleer het, kan gebruik om die land vir ons almal ’n beter plek te maak. Ek droom van meer en meer mense wat bereid is om brûe te bou tussen mense op plekke waar die res van Suid-Afrika al lankal opgegee het. Ek droom van nuwe oplos­sings vir die probleme van die nuwe Suid-Afrika sodat ons vinniger by die ware Suid-Afrika kan uitkom.

Ek sluit af met die boodskap waarmee ek die geleentheid ge­open het: Josef is as ’n geloofsheld opgeteken in die Hebreërs-boek van die Bybel. Nie vir sy vasbyt en goeddoen deur al die onreg heen nie (alhoewel dit op sigself navolgenswaardig is), maar omdat hy geglo het dat God eendag vir Israel weer uit Egipte na die beloofde land sou laat trek (Heb 11:22). Dit het eers 400 jaar daarna gebeur, maar dit het gebeur. Diep in my hart hoop ek dit is nie hoe lank dit gaan neem om Suid-Afrika weer na melk en heuning te neem nie, maar ek sal steeds aanhou om saam te werk en te bly glo dat dit eendag gaan kom.

Hebreërs 2:1 gebruik die woord wegdrywe van die “Ware Noord” af. Die televisie, nuusgebeure, sommige praatjies om die braaivleisvure en slegte prentjies van ons strate het begin om ’n skewe beeld in my kop te skep van hoe die ware Suid-Afrika moet lyk. Ek is so dankbaar vir hierdie groepie dapper mense wat gehelp het om die beeld te herstel en my oog weer op die “Ware Noord” gevestig te kry. Dankie, landbou se mense, dat julle ons help om ons geloof te behou.

Francois Strydom, groep hoof- uitvoe­rende beampte van Senwes, en Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, geniet ’n teebreek.