Kompetisie toets genetika en tegnologie se uiterstes

Gepubliseer: 12 Desember 2022

455
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Die doel van Graan SA se Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie is om ’n platform daar te stel waarbinne graanprodusente teen mekaar kan meeding en terselfdertyd kan wys hoe harde werk en innoverende denke in kombinasie met uitstekende genetika die opbrengsdoelpale kan skuif.

Hierdie kompetisie is die enigste in sy soort wat deur Graan SA aangebied word en sluit die produksie van mielies, koring, sonneblom en sojabone in. Graan SA-lede kan gratis inskryf.

“Innoverende produksiepraktyke en slim boerderyplanne word aangemoedig om die hoogste opbrengste per hektaar te behaal, ongeag die kultivar wat geplant is,” sê Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lede­dienste by Graan SA.

“’n Kompetisie soos dié bied die geleent­heid om saadgenetika en tegnologie se uiterstes te toets, maar bied bowenal aan produsente die geleentheid om van mekaar te leer en by mekaar kers op te steek met betrekking tot slim produksiepraktyke.”

“Die hoogste opbrengs is natuurlik nie altyd die enigste suksesfaktor nie en grens nie altyd aan die optimale winsgewendheidsvlak nie, maar dit bied geleenthede om te sien waar die grense lê en wat vermag kan word,” het dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, tydens die prysoorhandiging gesê.

Van die wenners by vanjaar se Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie.

Hy het bygevoeg dat Graan SA, in vennootskap met die saadmaatskappye, aan produsente die geleentheid bied om alle kultivars wat tegnies oor dieselfde kam geskeer word, binne unieke en individuele produksiepraktyke te vergelyk.

Tydens die prysoorhandiging het Louw daarop gewys dat die mielie-opbrengste wat vanjaar behaal is, tussen 160% en 180% hoër was as die gemiddelde Suid-Afrikaanse mielie-opbrengs. Sojaboonopbrengste het met 17% gestyg en was tussen 130% tot 170% hoër as die nasionale sojaboonopbrengs. Sonneblomopbrengste was 140% tot 190% hoër.

Graan SA-voorsitter, Derek Mathews verwelkom die finaliste en gaste.

Hy het bygevoeg dat die aantal nuwe deelnemers en inskrywings wat vanjaar ontvang is, verblydend was. “Die feit dat daar so baie nuwe inskrywings was, asook heelwat nuwe wenners in die onderskeie kategorieë, is ’n teken van die blom in die bedryf en die lewenskragtigheid van die kompetisie.”

Volgens Louw was daar vanjaar 84 inskrywings, wat ’n styging van 47% verteenwoordig. Daar was ook twee mielie-opbrengs­rekords en vyf sojaboonopbrengsrekords.

As ’n mens die gemiddelde somergraanopbrengste vergelyk met die opbrengste wat deur die 15 wenners behaal is, is dit werklik prestasies wat nie geringgeskat moet word nie. Die gemiddelde opbrengste in die land gemeet oor vyf jaar, is as volg:

  • Gemiddelde geelmielie-opbrengs in die land – 6,51 t/ha
  • Gemiddelde witmielie-opbrengs in die land – 4,95 t/ha
  • Gemiddelde mielie-opbrengs (droëland) – 4,67 t/ha
  • Gemiddelde mielie-opbrengs (besproeiing) – 10,88 t/ha
  • Gemiddelde sojaboonopbrengs (droëland) – 1,81 t/ha
  • Gemiddelde sojaboonopbrengs (besproeiing) – 3,33 t/ha
  • Gemiddelde sonneblomopbrengs – 1,4 t/ha

Met mielie-opbrengste van 22 t/ha onder besproeiing en 17 t/ha op droëland, wys dit dat Suid-Afrika voorwaar bobaasprodusente het.

Die artikels wat in samewerking met 14 van die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie se wenners geskryf is, fokus elkeen op die praktyke wat die produsente volg en wat bygedra het tot hulle individuele sukses. As geheel wys dit egter ook dat produsente in Suid-Afrika besig is om met hul produksiepraktyke die opbrengsparameters met noemenswaardige afmetings opwaarts te skuif.