Wat is die alternatief?

Gepubliseer: 1 Augustus 2022

49

Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

Dit klink altyd so maklik as ’n mens lees oor of luister na passievolle moti­veringsprekers of strategieë wat die belangrikheid van veerkragtigheid beklemtoon – en wanneer ons vermaan word om verby die geraas te luister en te fokus op ons persoonlike en besigheidsdoelwitte.

Klink maklik … fokus net! Maar weet die ouens regtig wat in die ware Suid-Afrika­ – in ons werklikheid – aangaan? Ek sien myself graag as ’n aartsoptimis en hou daarvan om op die positiewe te fokus. Ja, ek weet én hoor van al die negatiewe dinge en verslegting, maar ek deel graag hierdie maand ’n paar dinge met julle wat ek die afgelope tyd langs die pad opgetel het en wat my opgewonde maak. Geleenthede wat kom en uniek gaan wees aan Afrika. Daarom die vraag: “Wat is dan die alternatief, gegewe die gesukkel en onbeholpenheid en algemene vlak van middelmatigheid waaraan ons gewoond geraak het?”

Vir my lê die antwoord juis in die besigheids- en groeigeleenthede wat voorlê. Ek is oortuig daarvan dat as ons ingesteldheid reg is en ons deurgaans daarop fokus om nuwe geleenthede raak te sien, die sêding sal bly geld dat “niemand ’n goeie man kan onderdruk nie”. Ek het al telkens verwys na openbare/private vennootskappe: Dit is juis die middelmatigheid en onvermoë om te kan lewer (waarvoor ons so sat is) wat dié toekoms­geleenthede gaan bring.

Dit is nou daardie dinge – besigheid, dienste, kontrakte – wat moontlik raak in ’n land waar die staat nie kan presteer nie. Tog is daar steeds genoeg helderheid in die tonnel om te bly glo, maar dit is elkeen se individuele verantwoordelikheid om aan die pad te bou en na die lig te help stuur. Dit is juis waarin ons krag lê, dat ons op soveel verskillende vlakke en plekke gelyktydig in die samelewing kan bly “slyp” aan die veranderinge wat broodnodig is en dít wat ons graag wil bereik. En die “onse” in my pond sluit hier almal in wat graag ons land en kontinent wil sien floreer, wat nóú die saailinge help plant waarvan ons kleinkinders eendag die vrugte gaan verkoop en uitvoer!

So, met ’n optimistiese fokus op die goeie, noem ek sommer net kortliks drie positiewe dinge wat begin deurskemer het. Eerstens het Transnet (al is dit net tydelik) weggedoen met SEB-verkrygingsvereistes.

Tweedens is André de Ruyter uiters positief oor die feit dat slegs beleid tussen ons en genoeg volhoubare energie in die land staan – en dat landbou potensieel ’n wesenlike rol hierin kan speel. Die moontlikhede vir ’n provinsie soos Mpumalanga, wat uiters gunstige windenergiegeleenthede het, is legio en boonop dalk ’n geluk by dit wat steenkoolmyne verongeluk het. Die groot risiko hier is dat Eskom se swak koolstofvoetspoor landbou se mede­dingendheid gaan vernietig indien ons nie daadwerklik en vinnig werk maak van die R1,2 biljoen se beleggings in energie-infrastruktuur wat teen 2030 benodig word om ons kragnetwerk teen 2035 van totale ineenstorting te red nie.

Derdens het ons as landbou by die onlangse Agbiz-kongres ’n formele uitnodiging direk van die hoof van investering in die Presidensie ontvang – om met investeringsversoeke en voorstelle te kom wat buite provinsiale begrotings goedgekeur kan word. Ons weet praat is maklik én nogal goedkoop, maar wat my veral beïndruk het, was dr Ramokgopa se afslui­ting dat “… ons teen die spoed van landbou sal beweeg”. Ek dink hy onderskat ons ’n bietjie, maar kom ons vat hom op sy woord.

Dit is ons saam droom, dink, beplan en skouer aan die wiel sit (of is dit nou voor aan die ketting of kabel hierdie stroopseisoen?) wat die land ’n beter plek sal maak. Van Graan SA se kant af fokus ons op dít wat ’n verskil kan maak, dít wat ons vir die produsente van die land kan doen – saam met al ons kollegas by ander organisasies – om julle toe te rus, julle te bemagtig en namens julle te praat. Daarom is dit vir ons so belangrik om konstant te hoor en te weet waar – en presies wat – ons deurgaans moet dryf, bestuur en slyp.

Met die skryf hiervan gaan ons as graanfamilie se harte en gebede uit na die Rautenbach-familie van Standerton met hul dubbele verlies na ’n silo-ongeluk – al kan niks wat ons sê dit enigsins beter maak nie.

Mag alle produsente die boerdery geniet en veilig wees in alles wat hulle aanpak. Al is dit soms hoe donker, fokus net op die lig aan die einde van die tonnel.