Kunsmispryse verdubbel byna in een jaar

Gepubliseer: 3 Mei 2022

1026
Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA christiaan@grainsa.co.za

Tradisioneel spandeer ’n graan- en oliesadeprodusent gemiddeld tussen 30% tot 50% van sy lopende insetkoste op kunsmis. Kunsmis maak so ’n groot gedeelte van insetkoste uit dat enige prysstyging winsgewendheid drasties kan beïnvloed.

Suid-Afrika is boonop ’n netto invoerder van kunsmis, wat die situasie verder vererger. Ingevoerde kunsmis word nie net deur die kommoditeit se prys beïnvloed nie, maar deur ’n hele reeks faktore soos die wisselkoers en vervoer.

Grafiek 1 toon Suid-Afrika se kunsmisinvoere sedert 2009 vanaf verskeie lande. MAP, ammoniak, ureum, kaliumchloried en ammoniumsulfaat is vyf van die belangrikste produkte wat ingevoer word. Sedert 2009 het kuns­misinvoere van hierdie spesifieke vyf produkte met 199% in totaal gestyg.

Grafiek 1: Kunsmisinvoere na Suid-Afrika.

Tydens die verloop van 2021 het Suid-Afrika ’n totaal van 2 295 365 ton van net hierdie vyf produkte vanaf verskeie lande ingevoer. Tesame met die verhoging in invoervolume het die randwisselkoers met die vernaamste geldeenhede ook skerp verswak sedert 2009, wat die effek van prysverhogings verder versterk het.

Tabel 1 toon die gemiddelde prysveranderings vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) vanaf Maart verlede jaar in vergelyking met Maart 2022. Dit is skrikwekkend om te sien hoe skerp die pryse vir hierdie produkte toegeneem het in ’n kwessie van een jaar.

As daar gekyk word na verskillende gedeeltes van die land se kunsmisbenodighede, kan gesien word dat die Wes-Vrystaat gemiddeld 72 eenhede N/ha, 16 eenhede P/ha en 14 eenhede K/ha gebruik. Die oostelike Vrystaat gebruik 100 eenhede N/ha, 19 eenhede P/ha en 27 eenhede K/ha, terwyl besproeiingsareas 286 eenhede N/ha, 52 eenhede P/ha en 80 eenhede K/ha gebruik.

Tabel 2 vergelyk die gemiddelde bemestingsbe­nodighede vir hierdie drie streke vir Maart 2021 en Maart 2022. Gemiddeld het die koste van kunsmis met 98% verhoog. Dit beteken dat pryse amper verdubbel het.

Grafiek 2 gee ’n aanduiding aangaande die bekostigbaarheid van kunsmis in vergelyking met die Safex-prys van mielies. Kunsmis, wat tussen 30% en 50% van insetkoste uitmaak, word al hoe minder bekos­tigbaar, wat beteken dat die produsent se ruilvoet uitermatig verswak het. Dit plaas produsente se winsgewendheid onder druk en kan selfs minder hektare van veral mielie-aanplantings tot gevolg hê.

Grafiek 2: Bekostigbaarheidsindeks van kunsmis.

Hierdie inligting gee ’n goeie idee waarmee die produsent daag­liks gekonfronteer word om kop bo water te hou. Kunsmis is nie die enigste insetkoste wat beduidend toegeneem het nie – energiekoste soos brandstof en elektrisiteit het self kwaai gestyg terwyl die prys van saad en chemie ook verhoog het. Dit raak al hoe moeiliker om wins­gewend en volhoubaar op die plaas te bly.

’n Laaste gedagte: Produsente moet seker maak dat hulle nie aan die neus rondgelei word nie. Hulle moet deeglike huiswerk doen, seker maak dat die verteenwoordiger se pryse markverwant is en kyk waar die beste aanbod gekry kan word.