BFS-model vir eiendomsreg bied geleenthede

Gepubliseer: 3 Mei 2022

88
Heleen Viljoen,
intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA

Die onsekerheid oor eiendomsreg is een van die grootste struikelblokke wat Suid-Afrikaanse graanprodusente die hoof moet bied. Oor die laaste paar jaar het uitdagings rakende eiendomsreg soos ’n lang, donker tonnel voorgekom, maar daar is moontlik ’n lig aan die einde van die tonnel wat flikker en geleent­hede na vore kan bring.

Die swaard van onteiening sonder vergoeding het sedert 2018 oor die landbou gehang en eers onlangs het alternatiewe voorstelle te voorskyn begin kom. Een van hierdie voorstelle is die gemengdefinansieringsmodel.

Gemengde finansiering, hierna genoem BFS (blended financing scheme), is ingestel deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALLRD). Die BFS-model is ingestel vir werkskepping, verhoging van uitvoere en vervanging van invoere, asook die bevordering van die bruto binnelandse produk (BBP) en ekonomiese groei. Die konsep beoog om vir produsente, beide ontwikkelend en kommersieel, befondsing te bied om hul produksie te begin of te verhoog. Die BFS-befondsing word tesame met ’n privaat instansie aan die produsente, wat bestaan uit ’n minder- en meerderheidsaandeelhouer, toegedeel.

Die BFS-model bied ’n geleentheid vir produsente om hul volgende buurman te kies, asook hul eie onderneming uit te brei. Hierdie is nie ’n handskoen wat almal gaan pas nie en dit is ook nie noodwendig die oplossing waarna almal gesoek het nie, maar dit kan gesien word as ’n geleentheid. Dit is die eerste opsie op die tafel waaruit beide aandeelhouers voordeel kan trek. Dit bied ook ’n geleentheid vir ’n reeds bestaande entiteit om deel te neem aan ontwikkeling.

Graan SA het ’n model ontwikkel om vir lede ’n hulpmiddel te gee vir moontlike entiteituitbreiding deur gebruik te maak van die BFS-konsep. Die model kan aangepas word vir elke produsent se persoonlike omstandighede. Hierdie model is ontwikkel om produsente die kans te gee om moontlike uitbreidingsgeleenthede te visualiseer en te beplan. Die model is ingestel vir beide vee- en saaiboerdery en neem al die beper­kings van die BFS-model in ag. Die koste van grondaankope, asook kapitale en bedryfs­uitgawes word gedeeltelik gedra deur die privaat instansie, tesame met die BFS-fonds. Die vlak van befondsing word opgedeel in drie kategorieë, naamlik vir ’n kleinskaalse produsent; vir ’n medium- kommersiële produsent en vir ’n grootskaalse kommersiële produsent. Die indeling vir hierdie kategorieë word bepaal deur die omset per jaar.

Hoe werk die model?
’n 800 ha-modelplaas in die Noordwes-provinsie is as voorbeeld gebruik. As die Noordwes-plaas in ’n realistiese voorbeeld omskep word, kan hierdie 800 ha ’n aangrensende stuk grond van ’n reeds bestaande boerdery wees. Die grond is egter te duur om alleen aan te koop en die produsent het ’n geleentheid raakgesien om gebruik te maak van die BFS-befondsing. Die produsent het ’n betroubare en hardwerkende tweede aandeelhouer geïdentifiseer saam met wie hy graag die geleentheid wil aangryp. Deur hierdie vennootskap kon die produsente die 800 ha bekom, asook addisionele masjinerie aankoop om die entiteit te begin en produksie te verhoog. Figuur 1 stel die uitbreiding skematies voor. Produsent 1 kon dus ’n nuwe entiteit skep en daardeur sy eie entiteit uitbrei om deel te vorm van die ontwikkeling.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van BFS-befondsing vir aankope van grond sowel as masjinerie en toerusting.
Bron: Graan SA

Die model wat Graan SA ontwikkel het, bied vir produsente ’n hulpbron om die addisionele entiteit te visualiseer en beplan. Vanaf Tabel 1 kan waargeneem word dat die addisionele 800 ha-plaas uit 160 ha natuurlike weiding; 160 ha aangeplante weiding; 200 ha droëlandwitmielies en 280 ha droëlandsonneblom bestaan. Die 800 ha-plaas onderhou ook ’n beeskudde van 46 beeste en 56 backgrounding-kalwers.

Tabel 2 beeld die maandelikse terugbetaling vir die 800 ha-modelplaas uit nadat die lening aan die privaat instansie betaal is. In hierdie voorbeeld is die plaas ingedeel as ’n medium- kommersiële produsent en kon die entiteit dus ’n toelaag van tot en met R20 000 000 kry vir die aankoop van die grond en R10 000 000 vir die betaling van kapitale en bedryfsuitgawes. In hierdie voorbeeld was die totale koste vir die aankoop van die grond R11 680 000 en die kapitale uitgawes was R7 975 928. Die BFS-befondsing vir ’n medium- kommersiële produsent dek egter net 50% van die totale koste, en die oorblywende 50% word deur die privaat instansie gedek. Dus kon die produsent R5 840 000 vanaf die BFS-fonds kry vir die aankoop van die grond asook R3 987 964 vir die kapitale uitgawes. Die oorblywende bedrag word gedek deur ’n lening by ’n privaat instansie. In die geval van ’n kleinskaalse produsent word tot en met 60% van koste gedek deur die fonds.

Die BFS-konsep is sekerlik nie geskik vir elke produsent nie. Dit is ook nie noodwendig die oplossing waarna almal gesoek het nie, maar dit kan gesien word as ’n geleentheid. ’n Geleentheid wat gebruik kan word om ’n entiteit uit te brei asook om ’n entiteit deel te maak van ontwikkeling.