Maatskappye maak planne om tekorte te verhoed

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

796

’n Toename in die aanvraag na landboumeganisasie die afgelope jaar, COVID-19-inperkings en die sluiting van fabrieke asook die onluste en die lamlê van die Durban-hawe in Julie het bygedra tot ’n perfekte storm betreffende die beskikbaarheid van landboumasjinerie in Suid-Afrika.

Die dinamika van landbou-insetstelsels het ’n duidelike en direkte impak op die produktiwiteit, wins­gewendheid en veerkragtigheid van produsente om voedsel te verbou. Daarom is die tydige beskikbaarheid van heelgoedere en onderdele in die mega­nisasiemark ’n ernstige saak. SA Graan/Grain het meganisasiemaatskappye genader om te hoor waar die tekorte lê en hoe hulle te werk gaan om steeds in produsente se behoeftes te voorsien.

Volgens Jaco Beyers, John Deere se besturende direkteur vir Afrika en die Midde-Ooste, is die maatskappy in die bevoorregte posisie om ’n verskeidenheid sisteme in plek te hê wat vroegtydig van tendense bewus raak. “Ons het meer as ’n jaar gelede besef dat daar logistieke probleme kan opduik met die invoer van heelgoedere en onderdele. Minder skepe en vraghouers wat stadiger afgelewer word, het ons genoop om ons pakhuis vroegtydig met 25% meer te vul.”

John Deere Suid-Afrika het verder hul verspreidingsentrums van ses na veertien uitgebrei. Dit stel hulle in staat om te kyk waar die voorraad lê en hoe om dit die vinnigste in Suid-Afrika en op plase te kry. So is die impak van beperkte voorrade grootliks gemitigeer, maar die maatskappy is steeds bewus dat verminderde lugvrag die beskikbaarheid van voorrade verder negatief kan beïnvloed. “Ons bespreek 16 ton spasie op kommersiële vlugte per week om seker te maak dat voorrade wat nie by ons beskikbaar is nie vinniger bekom kan word. Daar is egter weens COVID-19 minder vlugte wat noodwendig sal beteken dat ’n bestelling wat normaalweg twee tot vyf dae sou neem, nou ongeveer sewe tot tien dae neem.”

Die grootste tekorte bestaan tans in die gere­kenariseerde tegnologiemark. Komponente soos mikro­skyfies wat in produkte soos trekkers en stropers gebruik word, is nie altyd bekombaar nie. “Ons beraam planne om dié tekorte te oorbrug, maar produsente moet weet dat daar moontlik vertragings kan wees wanneer dit by gerekenariseerde produkte kom,” het Jaco bygevoeg.

Oor waar Suid-Afrika tans staan wat tekorte en vertragings in invoere betref, voorsien hy dat dit nog agt tot agtien maande kan neem voordat voorraad op voor-COVID-vlakke beskikbaar is. “Produsente moet ook in ag neem dat min maatskappye begroot het vir ’n 30%-styging in aanvraag na produkte. Ons werk gewoonlik op 5% tot 10% jaar op jaar. ’n 30%-styging is ongekend, maar ek glo ons kon tot dusver daarin slaag om te voorsien in produsente se behoeftes.”

Tekorte kan pryse affekteer
Volgens Jaco is daar ’n opwaartse neiging in pryse weens die tekorte en die styging in inflasie. Hierdie stygings is streeksgebonde omdat sekere streke en wêrelddele erger geaffekteer word as ander. “Ons wil graag so kompeterend as moontlik bly, maar is tans almal in dieselfde bootjie. Maatskappye het COVID-19 onderskat en produksie afgeskaal – nou is daar hoër aanvraag. Om alles weer in plek te kry om druk op die verskaffingsketting te verlig, gaan tyd neem,” het hy bygevoeg.

Tallie Giessing, onderdelebestuurder by Argo Industrial, meen die grootste uitdaging is die feit dat nie alle komponente deur die oorspronklike toerus­tingvervaardiger (OTV) vervaardig word nie. “Maatskappye gebruik spesialiste vir sekere produkte en komponente. Daarom is die vervaardiging en aflewe­ring van hierdie komponente nie in die hande van die OTV nie. Dit is ook hier waar die meeste vertragings is.

“Ons het gesien dat ’n tekort aan rou materiaal veroorsaak het dat die vervaardigers en verskaffers van komponente nie genoeg voorraad gehad het nie en nie betyds kon vervaardig om aan die vraag te voldoen nie. Die tekorte in rou materiaal het in sommige gevalle gelei tot ’n verhoging in die OTV se aankoopprys. In die meeste gevalle word hierdie verho­gings deur die OTV geabsorbeer.”

Buiten die tekorte het heelwat vervaardigers en verskaffers COVID-gevalle gerapporteer, wat beteken het dat die aanlegte gesluit en ontsmet moes word. In ’n groot fabriek kan die proses om te stop en weer te begin ’n paar dae neem. By sommige verskaffers het produksievlakke afgeneem waar bekwame fabrieks­personeel COVID opgedoen het. Opleiding moes geïmplementeer word om vaardighede oor te dra en ’n mate van produksie te handhaaf. Tans is daar egter ’n verbetering in die aflewering van bestelde items.

“Oor die algemeen dink ek dat die meeste OTV’s die situasie goed hanteer het en genoodsaak was om voorraadvlakke te verhoog om so ver moontlik goeie diensvlakke te handhaaf,” het Tallie bygevoeg.

Raad aan produsente
Vroegtydige beplanning en kommunikasie met handelaars is van uiterste belang om te verhoed dat produsente in krisistye sonder meganisasie sit. Maak gebruik van voorseisoenaanbiedinge om werktuie te diens en te ondersoek. Daar is ook heelwat finansie­rings- en versekeringsprodukte wat risiko vir die produsent kan verskans. Beplan dus goed en doen navorsing om op hoogte te bly van die nuutste tegnologie wat produsente in staat stel om koste te verminder.